Styl

Mariska Hattingh is Oktober se wenbruid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vandag kondig ons die wenbruid aan vir Oktober in die 2022 Beeld Bruid van die Jaar-kompetisie in samewerking met World Leisure Holidays. Sy is Mariska Hattingh van Centurion - baie geluk!

Mariska, wat besig is met haar PhD-graad, en haar man, Ruan, 'n sake-eienaar, is op 22 Oktober 2022 getroud.

Mariska en Ruan Hattingh
Mariska en Ruan Hattingh

"Ons ken mekaar al van laerskool af, ons het dieselfde maats gehad, maar was nie self maats nie. Ons het drie jaar ná hoërskool (in 2013) weer kontak gemaak toe Ruan vir my 'n boodskap op Facebook gestuur het. Ek was so voor op die wa om sommer vir Ruan na 'n ander skoolmaat se 21ste verjaardag te nooi, waar ons dadelik gekliek en kort daarna verlief geraak het."

Sy vertel hulle was sewe jaar saam voor Ruan die groot vraag gevra het.

"Ons troutema was 'n klassieke en elegante troue waar die kleurskema meestal wit was met 'n bietjie ligpienk tussenin. Ons inspirasie het gekom van die gevoel wat ons graag wou hê op ons troudag, elegant, skoon en lig wat veral deur die wit beklemtoon is.

"Ons troudagstyl het 'n bietjie romanse gehad wat gekom het van my trourok, Ruan se grys pak en die venue (Chez Charlene) se intieme kerkie en onthaalsaal waar al die elemente bygedra het tot ons droom-dag.

"Ons troukoek, onthaalsaal-versierings en blomme, en selfs die ete (tydens die nagereg is die ligte afgesit en die kelners het met die vlammende vanielje-crème brûlée binnegekom) het als bygedra tot die elegante maar tog intieme, romantiese styl van ons troue."

Mariska Hattingh
Mariska Hattingh

Oor haar rok sê Mariska: "Ek het 'n hele ruk voor ons troue na trourokke begin kyk en gehou van die ‘fitted shape', maar wou baie graag 'n sleep met baie detail gehad het. By die eerste plek waar ons trourokke aangepas het, het ek verlief geraak op die Marquise-trourok deur Enzoani se ‘Blue'-versameling, wat elegant was met die sleep waarvan ek gedroom het. Elegante kantdetail op die sy en synate van die rok, en die ‘sweetheart'-neklyn, was vir my die romantiese effek wat ek graag wou gehad het. Toe ek die rok aangepas het, het ek dadelik geweet dit is die rok vir my.

"Die res van my voorkoms het ons aangepas om by my rok te pas. My grimering was dramaties en het 'n bietjie pienk ingehad om saam met ons tema te pas en my hare was gekrul om by die rok se detail te pas. Ruan was formeel in grys wat 'n onderbaadjie en volledige pak ingesluit het, en dit het bygedra tot die elegansie wat ons na ons troue wou bring."

Die hoogtepunt van die troue vir Mariska was toe sy en haar pa voor die toe deure van die kerk staan en luister hoe die groot kerkklok lui om haar aankoms aan te kondig.

"Dit het gevoel asof tyd stil gestaan het toe ek Ruan daar voor sien wag. Als het soort van vervaag, my senuwees het verdwyn en dit was net ons twee wat bestaan.

"Alles wat vir die dag gereël was, was net vir ons twee vir daardie spesiale oomblik."

Sperdatums

  • November-bruide: 3 Maart 2023.
  • Desember-bruide: 31 Maart 2023.

Skryf só in

Die kompetisie duur van 9 Junie 2022 tot 4 Mei 2023. Jy moet in 2022 trou of getrou het om te kan deelneem.

1. Verstrek die volgende in 'n Word-dokument:

a) Troudatum;

b) Bruid se naam en getroude van;

c) Bruidegom se naam en van;

d) Bruid en bruidegom se kontakbesonderhede (e-posadresse en kontaknommers);

e) Woonadres.

2. Antwoord die volgende vrae in dieselfde Word-dokument:

a) Waar het julle mekaar ontmoet?

b) Hoe lank ken julle mekaar?

c) Watter beroepe beoefen julle?

d) Wat is jul belangstellings?

e) Vertel ons van jou troue. Was daar 'n tema en wat was jou inspirasie?

f) Beskryf jou troudagstyl. Hoe het jy op jou rok en voorkoms besluit?

g) Wat was jou hoogtepunt van die troue?

3. Troufoto's: Heg kleur of swart-en-wit foto's aan in jpeg-formaat. Foto's moet elk 'n minimum van 1 MB groot wees.

- Bruid: kop-en-skouer-foto

- Bruid: vollengte foto

- Egpaar: foto

4. Dit is die persoon wat inskryf of namens 'n bruid inskryf se verantwoordelikheid om te verseker dat enige inligting wat verskaf word, akkuraat en volledig is.

5. Daar word nie e-pos-korrespondensie oor inskrywings gevoer nie.

6. E-pos-inskrywings moet vóór 12:00 op die sluitingsdag aan bruide@media24. com gestuur word. Ons maak geen uitsonderings vir laat inskrywings nie.

Karla Janse van Vuuren

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM