
Helder en uitspattige skoonheidsneigings het lank op die loopplank en in sosiale media die botoon gevoer, maar nou is die geengrimeringvoorkoms terug.
Dink delikate tinte, veeldoelige kleurpigmente en romerige aksentskeppers om 'n natuurlike gloed te skep.
Die voorkoms is ideaal vir elke dag se dra of bloot wanneer jy nie baie tyd of energie het nie. "Vir my beteken minimalistiese grimering om jou natuurlike skoonheid te laat deurskemer," sê Renee de Wit, grimeerkunstenaar en digitale skepper van Kaapstad.
"Dit gaan oor verbeter en nie oor verbloem nie," sê sy. Ons verduidelik jou hoe om die minimalitiese neiging te bemeester.
Bevogtiging vooraf
'n Geengrimeringvoorkoms verg ‘n goeie velsorgroetine.
'n Vogmasker help om jou vel soepel te maak. "Ek masseer graag 'n hidrerende bevogtiger aan die gesig voor ek grimering begin aanwend," sê Renee, "want dit bevorder bloedvloei na die oppervlak en gee jou gelaat 'n vars en stralende gloed."
Wend 'n basislaag aan nadat jy die vel bevog het. "'n Basislaag skep 'n gladde skilderdoek en maak die veltoon egalig - perfek vir dié voorkoms," sê sy.
Jy kan jou produkkeuses vir jou velsoort aanpas. 'n Porievuller vul porieë sonder om dit te verstop en 'n verligtende basislaag skep daardie "skynsel van binne".
‘Amper nie daar nie'-basis
"Vermy vir hierdie voorkoms dik onderlaag met volle bedekking," sê Renee. Sy stel voor jy kies getinte bevogtiger, BB-room, CC-room of veltint wat jou vel ekstra bevogtiging kan gee terwyl dit steeds van jou onvolmaakthede laat deurskyn.
Anders kan jy jou vloeibare onderlaag met bevogtiger meng om dit ekstra lig en glansend te maak.
Renee beveel aan jy wend jou vloeibare onderlaag of veltint met swaaiende poetsbewegings aan, want dit druk die produk sagkens by jou vel in en gee dit 'n natuurlike afronding.
Verbloemerstrategieë
Die geheim tot 'n vlekkelose geengrimeringvoorkoms is om 'n verbloemer te gebruik om vlekke strategies te bedek en jou gelaat te verhelder.
Dit beteken jy wend verbloemer aan slegs waar dit nodig is, soos donker kringe onder jou oë en enige vlekke of rooiheid waarmee jy ongemaklik is.
Skakeer die verbloemer met jou vingers in. Die warmte van jou vel sal die produk laat insmelt vir 'n natuurlike afronding.
Fokus op jou wenkbroue
Moet nooit die krag van goedversorgde wenkbroue onderskat nie, want dit is die sleutel om jou gesig te raam en balans en struktuur te skep, sê Renee.
Terwyl strak, uiters donker, swaar wenkbroue die "reëls" van natuurlike grimering uitdaag, kan jy steeds jou wenkbroue sagkens versorg vir die meeste trefkrag sonder dat dit oordoen lyk.
Om die skoonheid van jou natuurlike wenkbroue te verbeter, beveel Renee aan jy gebruik 'n presiese wenkbroupotlood om met vinnige tikbegewings haaragtige hale te trek oor enige areas wat 'n bietjie ekstra aandag kort.
Borsel dan met 'n wenkbroujel of -was jou wenkbroue se hare opwaarts in die verlangde vorm.
Sag op die oog
Vir oë wat lyk of dit nie gegrimeer is nie, moet jy dit eenvoudig en amper kaal hou.
"Gebruik 'n romerige, bleek oogskadu aan jou ooglede en skakeer dit met jou vingers in. Gebruik 'n bruin oogomlyner aan jou waterlyn om jou oë te laat uitstaan sonder om dit oordadig te laat lyk.
Bedek laastens jou wimpers met 'n krulmaskara om 'n bietjie oemf te gee, sonder dat dit lyk asof jy vals wimpers naboots," sê Renee.
Laat jou lig só skyn
Verlewendig jou gelaat deur 'n pragtige douagtigheid aan die bokant van die wangbene by te voeg. Dit kan ook baie help om jou gesig natuurlik, maar steeds stralend, te laat lyk.
Kies 'n romerige produk pleks van 'n tradisionele glimmende verligter, sê Renee. "'n Romerige formule wat by die vel insmelt pleks van bo-op sit en 'n spoor van blinkers laat soos party poeiers doen, is die beste vir hierdie soort voorkoms."
Bietjie blosend
Versterk jou skoongesigvoorkoms met 'n sagte aanwending van kleur aan jou wange deur 'n roomblosser te gebruik, sê Renee.
"Vir 'n naatlose geengrimeringvoorkoms beveel ek altyd aan jy gebruik produkte met 'n roomgrondslag wat natuurliker aan die vel sal heg en inskakeer."
Getinte lippe
Die laaste stap vir jou natuurlike voorkoms is lipkleur."Getinte lipbalsem, lipverf, -olie of -glans is 'n pragtige, natuurlike manier van jou lippe kleur," sê Renee. "Dit verg baie minder moeite as gewone lipstiffie, maar gee steeds kleur."




















