Albertus Swanepoel se naam word in modekringe in dieselfde asem genoem as hoedlegendes soos Philip Treacy en Borsalino en hy werk al vir 30 jaar plus in New York.

New York, veral daar by sý ateljee in die Garment District, lyk maar lamsalig ná Covid-19, vertel die meesterhoedemaker Albertus Swanepoel.
Mense spuit dwelms op straat. Daar is 'n rotplaag en die knaagdiere skarrel tussen restaurantgangers se voete by deftige restaurante - dis nou dié wat die pandemie kon oorleef het.
Maar Swanepoel, wie se naam in modekringe in dieselfde asem genoem word as hoedlegendes soos Philip Treacy en Borsalino, is weer op sy voete. Want rykes reis en koop weer. Broadway se akteurs kort kostuums, sowel as popsterre en hul entourages wat weer toer.
Suid-Afrika se top-hoedontwerper, wat al 30 jaar plus in New York werk, het tans vele opdragte vir Broadway-produksies. Dit stop ook 'n paar (groot) gate toe as jy opdrag kry om 50 cowboy-hoede teen amper R25 000 stuk vir die Amerikaanse rapper Lil Nas X se Long Live Montero-konserttoer te maak. Dit was 'n uitdagende opdrag, elke dag was daar 'n ander voorskrif, vertel hy.
En die flambojante rapper is immers bekend vir sy camp, oortreffende uitrustings tydens glansgeleenthede soos die New Yorkse Met-bal en sy liefde vir cowboy-hoede.
Sy hoede vlieg van die rakke by die eksklusiewe Aman-oorde oor die wêreld heen.
Swanepoel se hoede vlieg van die rakke by die eksklusiewe Aman-oorde oor die wêreld heen en by die Gurney'sMontauk-oord op Long Island, waar New York se adel oor die somervakansie uitspan.
" 'n Mens mag dit ook seker nie hardop sê nie, maar hoe meer besope die vroue by die luukse oorde word, hoe meer vloei die geld.''
As gaste immers $4 000 (sowat R68 000) per nag betaal vir 'n kamer, is 'n Swanepoel-hoed van $400 kleingeld vir dié glansganse.
Geklee in New Yorkers se "uniform'' - swart van kroon tot toon - en op sy jaarlikse besoek aan Suid-Afrika, gesels ons oor 'n gesondheidsbrekfis in die Kaapse Kompanjiestuin. Hy het verlede maand Suid-Afrika vir twee weke besoek, die eerste keer sedert 2019.

Swanepoel is dankbaar Covid-19 het hom en Eddie Marquez, sy agent en ook sy lewensmaat van die afgelope 19 jaar, gesystap.
"Dank Vader die Amerikaanse regering het weekliks tjeks vir werkloosheid uitgedeel en lenings teen lae rentekoerse aangebied. New York se landlords is die skuim van die aarde. Ek moes maandeliks steeds die huur vir my ateljee ten volle betaal, hoewel ek 18 maande lank geen inkomste verdien het nie,'' sê hy vies.
Kontantvloei is een van sy grootste kopsere.
"Nie ek of Eddie het 'n trustfonds nie. Ons sukkel party maande om ons woonstelhuur te betaal.''
Die pandemie het die paartjie en hul geliefde bejaarde kat Pookers, uit hul Manhattan-woonstel gedwing - hulle kon net nie die huur meer bybring nie.
Hulle trek na 'n goedkoper gebou, doer noord in Washington Heights op 187ste straat, in 'n oorwegend Joods-Ortodokse buurt. Daar's min restaurante en hulle spaar omdat Marquez kook.
Wanneer Swanepoel soggens 50 minute lank met die New Yorkse moltrein werk toe ry, durf hy nie kla nie. "Ons nuwe woonstel is sjarmant, ruim en die huur die helfte van ons voormalige woonstel."
Maar hier in die Kompanjiestuine, met die rand/dollar se gunstige wisselkoers, glimlag hy breed.
"In New York jaag 'n cappuccino jou maklik tot R90 uit die sak, terwyl 'n aandete met 'n glas wyn en fooitjie tot 70 dollar (R1 190) kan beloop," vertel hy.

'n Wispelturige bedryf
Sur+, (uitgespreek sur-plus) die nis-klerereeks wat hy en Marquez saam voor die pandemie begin het, tel ook weer spoed op. Dit bestaan uit ou surplusweermaguniforms, waarvan baie uit die Viëtnam-oorlog dateer. Hy koop dit op en gee dit nuwe lewe met kralewerk en kleurtegnieke.
Die inspirasie vir die reeks was sy eie hemde wat hy aangepas het.
"Ek't te vet geword, toe sit ek sis-insetsels in en kry die idee.'' Hy is mal oor sis en koop altyd rolle op as hy die land besoek.
Op 63 is die innoverende Swanepoel soms verwonderd en soms melancholies dat die modewêreld so snel vervliet.
Hy's bekommerd dat middeljarige mansontwerpers in vergetelheid gaan verval.
"Kinders met 20 000 Instagram-volgelinge doen 'n tweedag-blits-hoedkursus en dan raap hulle groot projekte op. Dikwels wens ek ek was eerder 'n keramiekkunstenaar of 'n skilder, in dié fase van my lewe. Dit sou makliker wees.''
Lola Ehrlich, kreatiewe hoof van Lola Hats, 'n doyenne in die hoede-wêreld en een van sy mentors, troos hom "die mode bly hunker na nuwe dinge''.
Darem is nuwe idees sy sterkpunt, selfs al is hy ook 'n self-erkende tegnologiese Luddiet.
"Ek's nie rekenaarvaardig nie, so ek moet alles uitkontrakteer. Die fotograaf, grafiese kunstenaar, alles. Ek's trots wanneer ek 'n e-pos kan stuur, maar moet my niks van Dropbox, Excel of WhatsApp-stemboodskappe vra nie.
Daarmee sit sy assistent, Genevieve Foddy, 'n Australiese hoedemaker wat op haar dag vir die bloubloed-adellikes in Brittanje gewerk het, hand by.

Quartus Manna se reis
Selfs al het die Britse hoedghoeroe Stephen Jones hom al as een van die tien beste hoedemakers ter wêreld uitgesonder, treiter onsekerheid hom.
"Dis seker weens my ongelukkige kinderjare. My pa, Jan Albertus Venter Swanepoel, was 'n monster. Hy was fundamenteel godsdienstig en krities - geen seun van hom mag 'n pop se kop van haar lyf verwyder het, 'n potlood onder haar hoof indruk en dit met lappe drapeer nie.'' Hy vertel hy sien sy drie broers selde.
Quartus Manna, Swanepoel se modenaam (waaronder hy later klere maak), verwerf ná matriek aan die Hoërskool Menlopark 'n graad in beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria. Die toe-dekaan, prof. Nico Roos, het wel getwyfel of Swanepoel dit verdien het. "Ek was 'n swak student,'' bieg hy. Tog het Tuks hom later met 'n Alumni Laureate-eerbewys vereer. Terloops, Quartus is sy middelnaam. Sy vriende noem hom Quartels.
Net ná sy universiteitstudie verwerf hy 'n diploma aan die Leggats Academy of Fashion Design (wat nie meer bestaan nie). Maar toe hy in 1987 die gesogte Suid-Afrika Coty Award as top-ontwerper kry, reken Quartus nou is hy cool.
Totdat hy en sy gewese vrou, die bykomstigheid-ontwerper Shaneen Huxham, hul fortuin in New York gaan soek.
Daar sien hy teen hoeveel talent en kompetisie hy moet uitstyg. "Dís 'n tawwe stad wat jou nederig hou."
16 jaar lank wag hy vir 'n deurbraak. Daar was ook innerlike stryde wat hy moes oorkom.
Op 40 spring hy uit die kas, beleef 'n reuse- sielkundige insinking en in 'n stadium woon hy, om den brode, in sy werkateljee waar hy snags op sy werktafel slaap - en sy stoorkamer oorstroom.
Sy groot deurbraak-oomblik was sekerlik die tweede prys by die gesogte CFDA/Vogue Fashion Fund-pryse in 2008. Daar sien Anna Wintour, die Amerikaanse Vogue-redakteur en een van die invloedrykste vroue in die modewêreld, hom raak en nooi hom na haar jaarlikse CFDA-partytjie in haar Manhattan-tuinhuis.
Sy werksreis was egter nooit 'n "walk in ‘Central Park' nie,'' beklemtoon hy.
Kos vir 'n kultuurvraat
Vir 'n kultuurvraat wat by New York se Metropolitaanse Operateater en die West End geboer het, was die inperking 'n foltering. Noudat die teaters weer oop is, kan hy nie genoeg kry nie.
"Jy moet die balletproduksie In the Upper Room, deur die American Ballet Theatre, op YouTube kyk,'' gesels hy. Hy het dit onlangs by die New York City Center-teater gesien en was meegevoer deur Norma Kamali se kostuums en musiek van Philip Glass, een van sy gunstelinge. Hy't dit in die laat 1980's vir die eerste keer gesien, nogal met die skitterende Mikhail Baryshnikov.
Gelukkig is opera en teater ook deesdae weer deel van sy werk, sê hy. Hy't pas hoede ontwerp vir die Broadway-teaterproduksie Leopoldstadt deur Tom Stoppard, wat afspeel in die Joodse kwartier in Wene tussen 1899 en 1950.
Die aanloop was 'n ontmoeting met ene Scott Pask, 'n groot Broadway-kostuumontwerper.
Een ding lei tot die volgende en so beland hy in die Oscar-bekroonde kostuumontwerper Ann Roth se dampkring. Hy beskryf haar as " 'n legende, 'n woord wat ek nie sommer gebruik nie'.'
Vele samewerkings sou tussen hulle volg. Roth het ook verlede jaar 'n Oscar gewen vir beste kostuumontwerp vir die fliek Ma Rainey's Black Bottom - en van Swanepoel se skeppings het in die fliek op die aktrise Viola Davis se kop gepryk.
Om hoede vir teater en musiekblyspele te ontwerp en vervaardig, verg deeglike navorsing en akkuraatheid. Jy moet stiptelik by die opdrag hou, sê hy.
Vir die troutoneel aan die einde van die musiekblyspel Hello Dolly! (2017) met Bette Midler in die hoofrol, was daar 12 klein brokaat-hoedjies, vol linte en blomme, waarvan die ontwerp uit 1890 dateer.
Herlaai onder die sterre
Swanepoel werk hard, sodat hy sy belangstellings kan finansier. Reis is een van sy groot liefdes.
Ná sy Kaapse en Johannesburgse draaie wag vier dae in Pretoriuskop se rondawels wat uitkyk op die swembad, en die Satara-ruskamp. Hy droom steeds daarvan om 'n wildbewaarder te word en te herlaai in die Krugerwildtuin se stilte, waar hy soggens varsgebakte karringmelkbeskuit in kondensmelk-tee doop, terwyl hy uitkyk oor die manjifieke mopanie- en doringbome.
Marianne Fassler, die mode-ontwerper en 'n goeie vriendin, bak soms vir hom beskuit.
Die wildtuin bring sy enigste goeie herinneringe van sy kleintyd terug.
"Daar was ek vry en kon ek ontsnap van my pa se streng dissipline.
"Diere verstaan soveel meer as ons. Hulle skarrel nie so rond nie, voel nie 'n duit oor goed soos Instagram nie.''
Tydens Covid-19 was hy heeltemal gefassineer deur die regstreekse uitsendings waar leeus by allerlei wildsreservate in die pad gaan lê en diere rustig en ongestoord voortgegaan het met hul lewe, terwyl die mensdom 'n eksistensiële krisis beleef.
Onder die sterre voel hy nietig. "Dis nie asof ek besonder gelowig is nie, maar ek verwonder myself aan die misterie van die natuur."
Die simmetrie van sebrastrepe, die gebrul van 'n leeu in die inkswart nag, en die gespitste ore van 'n bok, afgeëts teen die skemer, laat hom voel asof hy op gewyde grond loop.
Hy het sy standaarde. Nooit sal een van sy hoede op 'n Kardashian se kop pryk nie.
Néé vir hulle
Hy hét ook sy standaarde . . . Al gaan dit hoe sleg, nooit sal een van sy hoede op die voormalige presidentsvrou Melania Trump, die Amerikaanse model Kendall Jenner of haar Kardashian-susters se koppe pryk nie.
Albertus vervies hom ook sommer wanneer sterre ná modesessies verwag hy moet 'n hoed aan hulle skenk.
"Hulle kan dit mos koop as hulle daarvan hou."
Die kunstenaar Yoko Ono het hare ná so 'n sessie gekoop. Hy is effe spyt hy het nie daardie tjek met haar handtekening, "Yoko Ono Lennon" geraam nie, sê hy laggend.
Maar hy sukkel om die bohaai oor "celebs'' te verstaan, of wanneer mense op hol gaan as Hollywood-kroonwild - aktrises soos Julia Roberts, Kate Winslet en Meryl Streep - een van sy skeppings tydens 'n fotosessie dra.
Een van die min kere wat hy wel 'n hoed as geskenk gemaak het vir 'n bekende, was hy diep teleurgesteld.
"Ek gee nie sommer my hoede gratis weg nie.''
Vir Anna Netrebko, die Russiese sopraan na wie hy graag luister by die Metropolitan-operahuis, maak hy 'n dramatiese hoed uit rooskleurige sis-lap. Tot vandag toe het sy nie eens sy geskenk erken of hom daarvoor bedank nie.
Soveel disrespek slaan hom dronk, hoewel hy steeds dol bly oor haar stem, veral ná haar onlangse vertolking van Anna Bolena in die gelyknamige opera deur Gaetano Donizetti.
Jy sal hom ook nie dood in een van sy eie hoede vang nie. "Ek skaam myself dood wanneer iemand my vra ‘wie se hoed is dit?' en ek moet ‘my eie' antwoord," kibbel hy tee.
"New York leer jou egter om 'n dik vel te ontwikkel, vertel hy. Daar is konstant verwerping en teleurstelling. Vir elke 20 hoede wat jy na 'n tydskrif stuur, haal een dalk 'n fotosessie."
Tog het sy skeppings al telkemale in glansblaaie soos Harper's Bazaar, Vanity Fair, Glamour en Vogue gepryk. Maar hy bly steeds droom van 'n Albertus-hoed op 'n Vogue-voorblad.
"Ek sal moet werk totdat ek in die graf val, aftree is nie 'n opsie nie.''
Sy hande pyn soms vreeslik, elke steek maak hy self met daardie groot, netjiese hande. Sis-blomme word met sorg aangewerk. Hy sien wanneer proporsies nie klop nie, selfs net 'n halwe sentimeter.
Die ontslape ontwerper Karl Lagerfeld se woorde bly by hom spook: "Om selftevrede te wees, is 'n kortpad na middelmatigheid.''
- Van Wyk is 'n vryskutjoernalis van Kaapstad.














