Die mens kan 10000 reuke onderskei, sê Dave Pepler en bieg een van sy gunstelinge is die klokkiegrasreuk van rooikoppe. Deur Ilse Zietsman.
As die natuurkenner Dave Pepler oor geure - en parfuums - praat, stroom daar woorde soos akkoorde, meesterstuk en mildelik en frases soos "absoluut merkwaardig" en "volle simfonie" oor sy lippe. Begrippe soos feromone, reseptore en bo-, middel- en ondertone draal in die lug.
Hy roep die geure van wierook, mirre, vanielje, speserye, perdewortel, kapokbos, soetdoringboom en kuskusgras op.
Alles in die keurigste Afrikaans. Plek-plek verrassend idiomaties. Kort-kort gepaard met meer as 'n skeut ondeundheid wat partykeer grens aan wat sommige as gewaagd kan beskou. Stóút.
'n Wandelende woordeboek
Dit klink kompleet of woorde Dave se kos is. Hy is juis besig om te skryf aan 'n leksikon vir parfuum vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal "sodat ons gelykmatig oor parfuum kan praat".
Dave Pepler het 'n passie vir parfuum.
Vir geure. Hy het meer as 1 000 bottels parfuum in sy versameling. Ook geurbestanddele soos mirre van Jemen en wierook van Noord-Ethiopië.
Doer in 1975 besef hy vir die eerste keer wat parfuum kan dóén. Op pad oorsee gee sy vriend Stoffel vir hom 'n bottel Agua Brava op die lughawe.
Hy verklaar terstond dat hy nie mooi weet wat nou nie, want, "Here, Stoffel, ek't 'n báárd!" Stoffel verroer nie 'n ooglid nie. "Spuit dit in jou nek," kom die antwoord. Vir Dave wórd Agua Brava die reuk van Londen.
Baie jare later - Stoffel het toe reeds op 'n wrede manier aan sy einde gekom - loop Dave deur Madrid. Toe hy in die verbygaan Agua Brava ruik, laat dit hom wéén. Die reuk van Londen het Stoffel se reuk geword.
Nie sommer oliekolonieof kasaterwater nie
Dis tyd dat ons die mite verpletter dat ons nie goed kan ruik nie, verklaar Dave onomwonde. Die mens kan 10 000 reuke onderskei. Ons het 400 tipes reseptore in ons neus.
Ons gedrag word bepaal deur reuke.
Dan val Dave homself in die rede: "Rooikoppe het hul eie geur. Hulle ruik na vars gesnyde of gekneusde gras. Nie enige gras nie. Bewertjie- of klokkiegras."
Hy blyk 'n voorliefde vir rooikoppe te hê. Dalk 'n fassinasie. "Hulle het 'n ekstra dosis narkose nodig. Hulle gaan nie sommer lê nie," deel hy sy kennis. (Enkele dae later lig 'n gerekende narkotiseur my in dat dit 'n óú storie is wat graag oorvertel word, maar daar steek geen waarheid in nie.)
"Waarna ruik 'n tannie wat pannekoek bak?" terg-vra Dave die gehoor. "Na Opium (-parfuum)," antwoord hy sy eie vraag. A, Opium, onthou ons almal. 'n Vloed herinnerings spoel oor my.
"Opium is dalk nou ‘oudmodies', maar op sy dag was dit een van die groot simfoniese parfuums."
Dis nét Yves Saint Laurent wat daarmee vorendag kon kom soos ook met sy "knalblou en bottergeel" tuin in Marrakesj, Marokko, hoor mens die respek in sy stem. Merkwáárdig.
"My destydse skoonma het Tulbagh se hele kerk (met Opium) gesteriliseer. Sy het so baie aangespuit," vermaak hy ons.
Die grootste "stormwolk" van 'n parfuum was Samsara Eau de Parfum deur Guerlain. Dit ruik na die speserymark in Istanbul, maak hy almal liries. Angel van Thierry Mugler is " 'n meesterstuk" en Lolita Lempicka is "top"!
Cool Water deur Davidoff ruik na see.
"As jy sout kon ruik, sou dit net so ruik," laat ons onsself opsweep om ná afloop van die praatjie parfuuminkopies te gaan doen.
Jy kry Cool Water vir vroue en vir mans. Maar, maan Dave ons, "ons leef nie meer in 1812 nie". "Vroue kan mansparfuums dra! As jy daarvan hou, drá dit."
Jy wil net nie na Old Spice ruik nie!
Veral nie by 'n elegante skemerkelkie-aand nie. Dit geld almal, nie net Dave nie wie se "onderwysers amper almal na Old Spice geruik het", kreukel hy sy neus.
Onthou bowenal: Dis "afstootlik" om te veel parfuum aan te spuit. En, parfuums het nie "seisoene" nie.
Raad vir mans: Moenie geselsies met 'n vrou aanknoop wat jy graag van nader wil leer ken deur te vra watter parfuum sy dra nie. Jy gaan bloot 'n gek van jouself maak.

Wat vir 'n ding is 'n osmoteek?
In Frankryk is 'n osmoteek (geurbiblioteek), lig Dave ons in.
Die Osmothèque in Versailles is die wêreld se grootste reukargief; hulle vors die geskiedenis van parfuums na. Derduisende parfuums van die afgelope twee millenniums word daar herskep, gedokumenteer en bewaar.
Elke parfuum wat gemaak word, word by dié geurbiblioteek geverifieer en geregistreer. Seldsame, meesterlike parfuums wat nie meer vervaardig word nie of waarvan die samestelling verander is, kom ook daar voor, sowel as verpersoonlikte parfuums wat deur historiese figure soos Napoleon en die Hongaarse koningin Elizabeth in die 1300's gedra is.
Die oggend is veels te gou oor. Nog 'n laaste vraag of drie.
"Watter parfuum dra jy, Dave?" wonder iemand hardop.
"Nee, ek dra nie parfuum nie."
Ter verduideliking voeg hy ongevraagd by: "Sodat ek rooikoppe kan ruik."
Leer meer
- Kyk na die ontleding van bekende parfuums by fragrantica.com.
- Lees oor die wêreld se eerste en grootste geurbiblioteek by osmotheque. fr/en.
- Laai die Perfumist-toep op jou foon af en leer om die bo-, middel- en ondertone van verskillende parfuums te identifiseer.
- Lees Perfume: The Story of a Murderer deur die Duitse skrywer Patrick Süskind. Dié roman, wat klassieke status verwerf het, is deels fantasie, deels literêr-geskiedkundig en kan bra grusaam op plekke wees. Dit ondersoek die mens se reuksintuig en die emosionele betekenisse wat aan geure gekoppel kan word. 'n Moet-lees.















