Vir maande al wag paartjies wat tussen 1 Februarie 2020 en 28 Februarie 2022 getroud is en vir vanjaar se SARIE Bruidspaar van die Jaar-wedstryd ingeskryf het, om te hoor wie met hierdie gesogte titel gaan wegstap. Uiteindelik kan ons vanjaar se top 5-finaliste aankondig! Hier is 1 van die 5 finaliste:
Esther & Johan Toerien
Troudatum: 01/05/2021
Onthaalplek: Die plaas Mooifontein, buite Kroonstad.
Dorp/stad waar troue plaasgevind het: Kroonstad
Provinsie: Vrystaat
Fotograaf:Stephanie Veldman

Ons liefdesverhaal:
Ek is 'n Vrystaatse plaasnooi en daarom was die besluit om 'n plaastroue te hê maklik. Ons wou egter graag iets anders doen en het ons gaste verras met 'n onthaal in 'n beeskraal en met 'n melkstal as die kroeg!
Ons het die feesvieringe afgeskop met Vrystaatse familiegebak by 'n middag teeparty; ek het 'n gepaste withoed gedra terwyl Johan geskerts het dat ek die enigste persoon is wat hom sal oorreed om 'n wit baadjie te dra.
Ons het die ouwêreldse onthaal met 'n moderne kinkel in ons troudag vasgevang. Die tafels was stylvol, skoon wit en goud, met dramatiese helderrooi en ligpienk blomme.
Pasch du Plooy het ons gourmet-boerekos-drome by aandete bewaarheid. Die hoogtepunt van ons troudag was ons gaste, so in die middel van die pandemie en ná ons die troue twee keer moes uitstel.
- Die wenpaar word op 1 Julie in SARIE se Julie/Augustus 2022-uitgawe aangekondig, waarin hulle trou-album sal verskyn.
Wat wen Esther & Johan?
'n Romantiese wegbreek na The Palace of the Lost City

Hulle wen 'n wegbreek van twee nagte by Sun International se The Palace of the Lost City in Sun City ter waarde van R24 000. Die prys sluit in:
- Verblyf in 'n Superior Luxury-kamer vir twee nagte.
- Ontbyt vir twee by The Palace Crystal Court.
- Toegang tot enige Mankwe Gametrackers-aktiwiteit ter waarde van R1 590 per paartjie. Kies uit vierwielmotorfietsry en boogskiet tot geskeduleerde wildritte.
* Die prys is onderhewig aan beskikbaarheid en geldig van 'n Sondag tot 'n Donderdag.
- Op soek na die trourok en diensverskaffers wat jou troudrome kan waar maak? Gaan maak 'n draai op SARIE Bruid: (ver)koop my rok & ander dienste! Wie weet, die rok en verskaffers van jou drome, wag dalk net om die draai!














