Vandag kondig ons die wenbruid vir September aan. Leandri Tait van Montanapark is die wenner vir dié maand in Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie in samewerking met World Leisure Holidays. Baie geluk!
Leandri, 'n menslikehulpbron-administrateur, en haar man, Jean-Jacques, 'n onderhoudsbestuurder, is op 10 September getroud.
"Die inspirasie vir die troue was deur en deur die venue, Oakfield Farm. Ek het op Oakfield Farm afgekom toe ek 16 jaar oud was. Ek het daar en dan geweet dit is waar ek eendag my droomtroue gaan hou!" sê Leandri.
Hul kleurskema vir hul groot dag was "blospienk en ivoor".
"Die beplanning was werklik 'n storie gewees, maar ons is elke dag só dankbaar dat ons ouers dit moontlik gemaak het om dit die beste dag van ons lewe te maak. Al ons gaste, en selfs kollegas wat nie ons troue bygewoon het nie, sê dat ons troue soos 'n sprokiesverhaal gelyk het.
"Ons troudag se styl het hand aan hand geloop met die atmosfeer van Oakfield Farm - elegant en stylvol met die pragtige, natuurlike groenigheid van plante."
Oor haar rok vertel Leandri: "Ek gaan eerlik wees en sê dat ek nie 'n "rok-meisie" is nie. Ek is maar plat op die aarde met my jeans en gemaklike hempies.
"Ek het wel geweet dat ek graag 'n rok wil hê met 'n moutjie. My ma het op Johan Botha Fashion Design afgekom en kontak gemaak met Johan Botha en sy span.

"Vanaf die eerste afspraak het ons saam 'n pad begin stap met die ontwerp van my rok. Tydens elke aanpas-sessie het ek net meer en meer verlief geraak op my rok met sy driekwart moutjies."
Een van Leandri se hoogtepunte van Leandri was toe sy kansel toe moes stap.
"Om te sien hoe my pa wat saam met my kansel toe gestap het al sy vertroue in my man plaas om nou na sy jongste dogter te kyk, op sy hande te dra en te koester soos hy (my pa) 23 jaar elke dag gedoen het, was baie spesiaal."
Oktoberbruide, julle moet wikkel, julle het nog net tot môre tyd om in te skryf om ook deel te wees van dié kompetisie waar daar R400 000 se pryse op die spel is.
Sperdatums
- Oktober-bruide: 3 Februarie 2023.
- November-bruide: 3 Maart 2023.
- Desember-bruide: 31 Maart 2023.
Skryf só in
Die kompetisie duur van 9 Junie 2022 tot 4 Mei 2023. Jy moet in 2022 trou of getrou het om te kan deelneem.
1. Verstrek die volgende in 'n Word-dokument:
a) Troudatum;
b) Bruid se naam en getroude van;
c) Bruidegom se naam en van;
d) Bruid en bruidegom se kontakbesonderhede (e-posadresse en kontaknommers);
e) Woonadres.
2. Antwoord die volgende vrae in dieselfde Word-dokument:
a) Waar het julle mekaar ontmoet?
b) Hoe lank ken julle mekaar?
c) Watter beroepe beoefen julle?
d) Wat is jul belangstellings?
e) Vertel ons van jou troue. Was daar 'n tema en wat was jou inspirasie?
f) Beskryf jou troudagstyl. Hoe het jy op jou rok en voorkoms besluit?
g) Wat was jou hoogtepunt van die troue?
3. Troufoto's: Heg kleur of swart-en- wit foto's aan in jpeg-formaat.
Foto's moet elk 'n minimum van 1 MB groot wees.
- Bruid: kop-en-skouer-foto
- Bruid: vollengte foto
- Egpaar: foto
4. Dit is die persoon wat inskryf of namens 'n bruid inskryf se verantwoordelikheid om te verseker dat enige inligting wat verskaf word, akkuraat en volledig is.
5. Daar word nie e-pos-korrespondensie oor inskrywings gevoer nie.
6. E-pos-inskrywings moet vóór 12:00 op die sluitingsdag aan bruide@media24. com gestuur word. Ons maak geen uitsonderings vir laat inskrywings nie.




















