Trenery en modestilis Antoinette Degens deel vier maniere waarop jy jou uitrustings met 'n tikkie kleur kan ophelder. Antoinette se kennersoog kombineer vleiende patrone met ontspanne style en lap wat maklik asemhaal, ideaal vir die somer se warmste dae.
Kleurkombinasies
As jy nie baie helder kleure in jou kas het nie, begin klein: voeg 'n neutrale kleur soos klimopgroen by jou klerekas - dié kleur kan met enige iets gekombineer word. "Ek is mal daaroor om verskillende teksture in dieselfde skakering te kombineer," vertel Antoinette. Kombineer 'n groen broek, romp of selfs 'n baadjie met 'n vars, wit T-hemp vir die perfekte somervoorkoms.


Patroon-perfek
Ons skrik soms vir groot, helderkleurige patrone op klere. En tog is dié voorkoms, veral die pragtige blompatrone wat oral in die winkels hang - perfek om sagte rolletjies en kurwes weg te steek. Boonop gee dit net genoeg persoonlikheid aan 'n uitrusting wat andersins byna vervelig is. Antoinette beveel aan jy meng en pas helder patrone met denim, vlootblou, wit, en selfs beige.


Somer-palet
Laat die warm somerson tot in jou klerekas skyn met helder, sonnige kleure soos gousblomgeel. Kombineer dit met linnemateriaal in ligte, aardse skakerings om jou voorkoms natuurlik te hou.


Boheems en koel
Kombineer 'n maksiromp met 'n boheemse bloes in 'n helder skakering vir 'n vroulike en sonnige somervoorkoms.

Vir meer inspirasie deur Antoinette en Trenery, klik hier
















