Hier's 'n restaurant waar jy jou kelner se naam gerus kan vra, want hy of sy gaan waarskynlik nog bekend raak, skryf Ilse Zietsman.
Nog voordat ek by Stardust Theatrical Dining in Kaapstad inloop, hoor ek 'n paar voëltjies fluit: Vra jou kelner se naam, want hy/sy gaan (heel moontlik) eendag beroemd wees.
Dis nie sommer praatjies nie.
Ons is nie net 'n teater nie. Ons is ook nie net 'n restaurant nie. Die verskil tussen ons en die bekende Ellen's Stardust Diner in New York, is dat ons wil hê ons gaste moet blý. Ons wíl vermaak bied. Dis waarom ons op weeksaande tot elfuur en op naweeksaande tot middernag oop is.
Die Idols-ster Graeme Watkins en die eerste wenner van The Voice SA, Richard Stirton, het byvoorbeeld albei hier opgetree voor hulle bekendheid verwerf het.
Stardust is 'n restaurant-teater waar sowat 40 drama- en musiekstudente jou vermaak met kielie-jou-tot-in-jou-tone-verhoogaanbiedings, soos The Rocky Horror Show, Grease, Mamma Mia!, Chicago, Disney For All Ages, asook 'n kombinasie van al die vertonings saam, bestuif met opera- en jazz-uitvoerings. 'n Neonlig bokant die kroegtoonbank basuin die gepaste boodskap uit: Moenie loop nie, dans!
Van goeie stoffasie
Stardust is 'n plek vir láng kuiers, sê Lionel Lifer wat saam met sy vrou, Racheli, dié kuier-en-vermaakplek besit.
"Ons is nie net 'n teater nie. Ons is ook nie net 'n restaurant nie. Die verskil tussen ons en die bekende Ellen's Stardust Diner in New York, is dat ons wil hê ons gaste moet blý. Ons wíl vermaak bied. Dis waarom ons op weeksaande tot elfuur en op naweeksaande tot middernag oop is."
Daar's ook luilekker Sondag-vertonings vir jonk en oud. Die Disney-vertoning stel jonger kinders aan die teater bekend, sê Lionel.
Hy kry nooit genoeg daarvan om te sien hoe hul gesiggies ophelder as hulle die eerste keer 'n regte mens op die verhoog sien, eerder as op 'n skerm.
Ná die tyd staan die kleintjies tou om 'n foto saam met hul gunsteling-karakter te laat neem. Hulle vra ook sommer waar 'n karakter is waarvan hulle weet, maar wat nie in die vertoning verskyn het nie. Die jongspan het ook 'n "junior spyskaart" met onder meer lekkernye soos mini-burgers en macaroni-en-kaas.
Die volwassenes se spyskaart is geïnspireer deur geregte uit die Midde-Ooste met "interessante speserye wat vir die Suid-Afrikaanse palet aangepas is".
"Stardust bied iets anders, nie iets alledaags wat jy by die huis kan maak nie," gesels Lionel.
Sy ster het verrys
Lionel is in Suid-Afrika gebore, maar het as tjokkertjie saam met sy ouers na Israel geëmigreer. As pa van 'n klein seuntjie het hy besluit dat sy gesin 'n "oorbruggingsjaar" in Suid-Afrika moet deurbring sodat die jongeling vlot Engels kan leer praat.
Terwyl hulle hier was, het hy daaraan begin dink om sy gesin in Suid-Afrika te vestig.
Hy het verby Stardust (toe nog in Rondebosch) gery en besluit om 'n restaurant-teater te koop! Stardust se deure het in 2004 geopen en later verskuif na Woodstock.
En dit was nie lank nie voordat Stardust se singende en dansende kelners begin naam maak het.
Bekendes wat hier begin het
- Daar is volgende Sondag 'n spesiale Vadersdag-vertoning en -ete. Bespreek by stardustcapetown.com.
- Die sanger-liedjieskrywer Nomfusi (nomfusi.com) tree deesdae wêreldwyd op. Van haar het Hugh Masekela gesê: "Haar stem is groter as myne, maar sy is kleiner as my trompet."
- Richard Stirton was in 2016 die wenner van The Voice SA.
- Graeme Watkins het derde geëindig in seisoen vyf van Idols in 2009.
- Hou Netflix (en Showmax en kykNET) dop - later in 2023 is Celeste Loots te sien in One Piece sowel as 'n paar ander reekse en kortflieks.



















