Styl

Stileer jou rakke en tafels

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Voel jou huis eerder soos 'n pandjies- of negosiewinkel, met snuisterye wat orals lukraak rangskik is? Moenie bekommer nie! Met die wenke sal dit binne 'n japtrap soos 'n fotosessie uit 'n dekortydskrif lyk.

Om jou huis te stileer is 'n dinamiese proses - veral jou tafels en rakke. Dit ontwikkel en evolueer saam met jou leefstyl, behoeftes en sin van styl. Moet dit nie té perfek probeer maak nie. Laat jou huis toe om jou persoonlikheid en styl te weerspieël. Die belangrikste van alles is dat dit vir jóú vreugde moet gee!

1. Die krag van die ongelyke

Ontwerpers en kunstenaars weet dit al vir eeue: Dinge lyk eenvoudig beter in drieë. En as drieë nie kan nie, dan ongelyke getalle. Kies dus voorwerpe in drieë of vyfs wanneer jy jou tafel versier. Versier byvoorbeeld 'n koffietafel met 'n stapel van drie boeke, 'n potplant wat hoër as die stapel boeke staan, en dan 'n ornament wat óf groter en hoër as die plant en die boeke staan óf kleiner.

2. Verhoudings

Wat ons bring by die volgende punt - verhoudings. Dis baie belangrik om te verstaan hoe verhoudings werk wanneer jy 'n tafel stileer. Kyk mooi na die grootte van jou tafel en die voorwerpe waarmee jy dit wil versier. Lyk enigiets buite verhouding groot of klein? Volg die 2:1- of 3:1-reël waar die grootste item twee tot drie keer groter as die kleinste een is.

As jou koffietafel byvoorbeeld 90 cm x 60 cm is, moet jou grootste ornament of dekorelement ideaal gesproke sowat 30 cm hoog wees. Kies dan die ander in dieselfde verhouding tot die grootste item, met groottes, hoogtes en teksture wat wissel sodat geen enkele item die rangskikking oorheers of oordonder nie.

'n Bietjie groenigheid maak altyd 'n yslike verskil wanneer jy 'n tafel of 'n rak stileer. Dit bring kleur, tekstuur en sommer net vars, nuwe lewe. Foto's: Sarah de Pina
'n Bietjie groenigheid maak altyd 'n yslike verskil wanneer jy 'n tafel of 'n rak stileer. Dit bring kleur, tekstuur en sommer net vars, nuwe lewe. Foto's: Sarah de Pina

3. Speel met hoogte

Deur die groottes en hoogtes van die verskillende stukke af te wissel, skep jy diepte, lae en dimensie. Groepeer byvoorbeeld 'n lang, smal vaas saam met 'n kort, dik kers en iets met 'n organiese vorm soos 'n plant of 'n beeldhouwerk om 'n boeiende, interessante rangskikking te skep.

4. Groepeer

Gebruik items soos 'n skinkbord, 'n mooi bak of 'n stapel boeke om objekte saam te groepeer. Dit keer dat jou tafel of rak deurmekaar lyk. Deur dekor só saam te voeg, gee jy struktuur aan jou stilering en werk met 'n plan. Op tafels waar jy minder plek het, soos jou bedkassie, kan jy jou ornamente op 'n dik boek uitstal. En op 'n rak kan jy 'n paar items in 'n mooi geweefde mandjie plaas.

5. Gebruik negatiewe ruimte

Moenie jou tafel met te veel versierings toegooi nie. Laat genoeg ruimte tussen die dekoritems toe, sodat elkeen sy plekkie in die son kry. Leë ruimtes laat die oog toe om te rus, skep balans en laat al jou mooi goed behoorlik tot hul reg kom.

6. Meng teksture en materiale

Voeg verskillende teksture en materiale saam om jou tafelstilering te verryk en dimensie tot die komposisie te voeg. Skep kontras deur gladde afwerkings langs iets met 'n growwe tekstuur te plaas, of iets blink saam met iets geriffel. Dit skep aantreklike visuele kontras wat onweerstaanbaar is vir die oog.

Skep kontras deur gladde afwerkings langs iets met 'n growwe tekstuur te plaas, of iets blink saam met iets geriffel. Dit skep aantreklike visuele kontras wat onweerstaanbaar is vir die oog.
Skep kontras deur gladde afwerkings langs iets met 'n growwe tekstuur te plaas, of iets blink saam met iets geriffel. Dit skep aantreklike visuele kontras wat onweerstaanbaar is vir die oog.

7. Neem die res van die vertrek in ag

Hoe lyk die res van jou sitkamer, slaapkamer of kantoor? Is die styl minimalisties of eklekties, is die kleurskema neutraal of kleurvol? Jou tafel, bedkassie of rak moet by die groter geheel pas en die dekorstyl en kleurskema tot 'n sekere mate herhaal, sodat alles in harmonie kan saamleef.

8. Raak maar sentimenteel

Stileer gerus jou tafels en rakkies met aandenkings en onthougoed wat vir jou persoonlike of sentimentele betekenis het. Familiefoto's, reisaandenkings of daardie juwelekissie wat jy by jou ouma geërf het, bring soveel karakter, warmte en persoonlikheid in jou huis en vertrekke in. Jy wil nie hê dit moet soos 'n pandjieswinkel lyk nie, maar ook nie soos 'n kettingwinkel se uitstalvenster nie.

Deur die groottes en hoogtes van die verskillende stukke af te wissel, skep jy diepte, lae en dimensie.Foto's: Sarah de Pina
Deur die groottes en hoogtes van die verskillende stukke af te wissel, skep jy diepte, lae en dimensie.Foto's: Sarah de Pina

9. Gebruik vars blomme of potplante

'n Bietjie groenigheid maak altyd 'n yslike verskil wanneer jy 'n tafel of 'n rak stileer. Dit bring kleur, tekstuur en sommer net vars, nuwe lewe. En dit hoef nie te duur te wees nie. Gaan pluk monstera-blare in jou tuin of rangskik aalwynsteggies in 'n deurskynende vaas.

10. Kies 'n kleurskema

Baie mense dink aan 'n kleurskema vir hul huis of vir 'n vertrek, maar min mense besef dat jy ook 'n kleurskema in gedagte moet hou wanneer jy 'n tafel of 'n rak stileer. Dit beteken nie alles op jou tafel moet blou, groen of pienk wees nie (asseblief nie!), maar kies jou dekoritems só dat hul kleure óf verskillende skakerings van min of meer dieselfde kleur is óf dat die kleure minstens mekaar komplementeer. Jy kan ook neutrale kleure mildelik gebruik.

  • Nicholls is die stigter en uitvoerende hoof van DIYgirls, 'n Johannesburgse binneversiermaatskappy.
Vinette Nicholls

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM