Styl

Tyd vir ’n nuwe voorkoms?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
FOTO Unsplash
FOTO Unsplash

"My voorkoms is in 'n groef"

Ek het steeds dieselfde voorkoms as vyftien jaar gelede toe ek 'n student was. Selfde haarstyl, selfde grimering. Ook my klerestyl . . . Ek is in 'n groef en dra aanmekaar die goed wat ek ken, wat ek weet werk. My man sê ek het vasgehaak en kan gerus met meer oemf aantrek, veral omdat ek nog jonk is en 'n goeie lyf het!

MARIé BOTHA, sielkundige van Stellenbosch

Jou voorkoms hoef nie modieus te wees nie, maar dit kan 'n teken van jou gemoedstoestand wees. Doen jy moeite met jouself? Is jy 'n prioriteit in jou eie lewe? Het jy genoeg energie om vir jouself te sorg? Indien jy afgeskeep lyk, kan dit op verskeie dieper probleme dui.

Vra jouself af:

Is jy oorwerk en te moeg om te dink aan jou voorkoms?Voel jy skuldig om tyd en geld aan jouself te bestee?Wil jy dalk eerder onopsigtelik wees - 'n teken van 'n lae selfbeeld?Dink jy jy is nie die moeite of geld werd nie?

Ná jou studentejare het jy waarskynlik jou tyd en energie gebruik om aan jou loopbaan, verhouding en huis te bou. Jou voorkoms, en jyself, kan maklik agterweë gelaat word. Jy was dalk gemaklik met jou voorkoms as student, maar daardie voorkoms weerspieël nie jou groei as mens nie.

Dink na oor wie jy nou is, wat jy al bereik het en wat jy vir ander mense beteken. As jy ontevrede is met jou antwoorde, dink aan wie jy wil wees en hoe jy wil hê ander jou moet ervaar. Blok ander mense se woorde uit jou gedagtes en luister na jou eie stem. As jy vashaak, vra jou man of iemand wat jou goed ken om te help.

Voorkoms is nie alles nie, maar dit is tog die omhulsel waarin jy jouself verpak en gee 'n aanduiding van wie jy is. Neem tyd om jouself te herontdek sodat daar harmonie tussen jou innerlike en uiterlike kan wees.

FANIE CRONJé, styl- en sosiale redakteur van SARIE

As jy eers besluit het hoekom jy jou voorkoms wil verander, volg dié wenke vir die hoe:

Die verandering wat die grootste impak gaan hê, is jou hare. As jy jou lewe lank al lang hare het, sny dit gerus. Jy sal nie glo hoe anders dit jou laat lyk en voel nie. Onthou: dis net hare, dit groei weer. As jy die kleur natuurlik hou, sal die verandering subtiel wees. Spandeer maar geld hieraan - dis die moeite werd.

Grimering is baie persoonlik. As jy dit verander, fokus op jou oë of jou mond. Nooit alles tegelyk nie.

Wat klere betref: dis net vrees wat jou terughou. Gaan winkels toe saam met 'n vriendin en soek vyf kledingstukkeuit wat jy nooit sal aanpas nie. Pas dit aan, wees rustig en geniet dit net. Los dit dan daar en gaan huis toe. Gaan die volgende dag of week terug en pas die item aan waarvan jy die meeste gehou het, saam met nog vyf items wat jy nooit vantevore sou aantrek nie. Raak gewoond aan hoe jy lyk. Nou kan jy iets koop, al is dit net in 'n kleur wat jy nooit sou dra nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM