Baie vroue neem baie verantwoordelikhede op en kan sodoende hul eie gesondheid verwaarloos.
Hierdie Vrouemaand word vroue aangemoedig om hul gesondheid 'n prioriteit te maak deur agterstallige gesondheidsondersoeke te skeduleer.
Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, sê al voel jy gesond, is jy dalk nie.
"Gesondheidsondersoeke word gewoonlik gedoen wanneer jy gesond is. Gereelde gesondheidsondersoeke kan ook help om risikofaktore te verminder of abnormaliteite te behandel wat later tot ernstiger siektes kan lei."
Die siftingstoets wat jy nodig het, verander gewoonlik soos jy ouer word. Deur siektes vroegtydig op te spoor is dit dikwels makliker om te behandel, sê dr. Morgan Mkhatshwa, kliniese bestuurder by die Bonitas Mediese Fonds.
Die tien gesondheidsondersoeke wat vroue moet prioritiseer, is die onderstaande.
1. Bloeddruktoets
'n Bloeddruksifting moet jaarliks van die ouderdom van 18 gedoen word. 'n Normale lesing is onder 120/80 mm Hg.
"Navorsing wat in Suid-Afrika gedoen is, toon dat hoë bloeddrukkoerse onder vroue die afgelope twee dekades gestyg het," sê Jennings.
'n Studiesteekproef wat uit 5 477 mans en 7 740 vroue bestaan het, het gewys op 'n toename in die voorkoms van hipertensie van 27% tot 45% by mans en 31% tot 48% by vroue.
Dit word dikwels na verwys as die "stil moordenaar", aangesien byna 33% van mense wat dit het, nie weet hulle het dit nie, sê Mkhatshwa.
2. Cholesterol-toets
Hierdie toetse assesseer jou risiko om hartsiekte of beroerte te ontwikkel, wat ten minste elke vyf jaar van die ouderdom van 20 moet doen.
As jy egter 'n geskiedenis van kardiovaskulêre siekte in jou familie het of daaraan ly, moet jy dit meer gereeld gedoen.
'n Normale cholesterolvlak moet minder as 5 mmol/l wees.
3. Bloedglukose
Vroue van 45 jaar en ouer moet elke drie jaar hul bloedglukose nagaan om hul risiko vir diabetes op te spoor.
'n Vastende plasmaglukose-lesing van 6,1 - 6,9 mmol/l en hoër kan daarop dui dat jy pre-diabeties is, terwyl enigiets meer as 7 mmol/l diabetes aandui.
4. MIV/vigs-toetse
Gegewe die hoë koers van MIV/vigs in Suid-Afrika word dit aanbeveel dat vroue een keer per jaar getoets word.
Dit behels 'n eenvoudige priktoets of depper van die wang wat by 'n huisdokter of kliniek gedoen kan word.
5. Papsmeer en HPV-toets
'n Papsmeer word elke drie jaar aanbeveel van die ouderdom van 25. Sifting kan vroeë veranderinge in die serviks opspoor wat behandel kan word en jou lewe red.
Die menslike papilloma-virus (MPV)-toets soek vir die virus wat die meeste servikale kanker veroorsaak en kan elke vyf jaar gedoen word.
6. Mammogram
Van die ouderdom van 18 moet jy gereeld selfondersoek van jou borste doen en as jy enige veranderings sien of voel, raadpleeg jou dokter dadelik.
Vroeë opsporing verhoog die kans op oorlewing en kan jou lewe red.
Sommige dokters beveel aan om elke twee jaar 'n mammogram te doen van die ouderdom van 40.
Hoewel die grootste risiko vir borskanker ouderdom is, kan vroue van 'n baie vroeë ouderdom borskanker kry; genetika speel ook 'n rol om te bepaal of jy 'n risiko vir borskanker het.
7. Beendigtheid
Om te kyk vir osteoporose ('n siekte wat die bene verswak), word 'n beendigtheidstoets aanbeveel vir vroue van die ouderdom van 65 en mans bo die ouderdom van 70. Diegene met risikofaktore, soos frakture of lae liggaamsgewig, moet vroeër gaan vir 'n ondersoek.
Die frekwensie van die toets wissel na gelang van beendigtheid, maar jou dokter sal jou kan adviseer oor hoe gereeld jy dit moet laat doen.
8. Kolonoskopie en sigmoïdoskoop
Die dikderm moet van 50-jarige ouderdom vir kanker geskandeer en elke tien jaar herhaal word, afhangende van 'n individu se risikofaktore.
Dit kan by die dokter se kantoor of in die hospitaal gedoen word deur middel van 'n sigmoïdoskopie waartydens 'n verligte buis en kamera in die anus geplaas word om die onderste kolon te ondersoek. 'n Kolonoskopie behels 'n langer buis wat die hele dikderm ondersoek. Jou dokter sal raad gee oor hoe gereeld dit gedoen moet word.
'n Fekale Immunochemiese Toets (FIT) moet jaarliks plaasvind. Die FIT is ook 'n siftingstoets vir kolonkanker wat toets vir versteekte bloed in die stoelgang, wat 'n vroeë teken van kanker kan wees.
9. Vel-ondersoeke
Daar word jaarliks sowat 20 000 gevalle van velkanker aangemeld, wat dit die algemeenste kanker in die land maak. Daarom moet selfondersoeke maandeliks tuis gedoen word om te kyk vir enige nuwe moesies of veranderings aan bestaande moesies.
As jy iets buitengewoons vind, laat dit eerder deur 'n huisdokter of dermatoloog "karteer". As velkanker vroeg gevind en behandel word, is dit byna altyd geneesbaar.
10. Tandheelkundige ondersoeke
Gereelde tandheelkundige ondersoeke kan die opbou van plaak, tandholtes en tandvleissiekte voorkom. Besoek jou tandarts minstens een keer per jaar.
GEBORG
SCP Radiology

Medici beveel aan dat vroue op 40-jarige ouderdom begin om jaarliks vir 'n mammogram te gaan. 'n Mammogram is 'n erkende siftingsondersoek vir die vroeë opsporing van borskanker. SCP Radiology bied mammografiedienste aan by tien takke in Kaapstad, aan die Weskus en in die Kaapse Wynlande, insluitend by die nuwe toegewyde Tygervalley Mammography Centre vir vrouegesondheid. Besoek www.scp.co.za vir meer inligting of om 'n afspraak vir 'n mammogram te maak.
















