Welstand

As die eko-skoen jou pas . . .

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Sota-slenterskoen.
Die Sota-slenterskoen.

'n Bakterie maak 'n skoen en droë boomblare word 'n handsak? Dit klink na wetenskapsfiksie, skryf Sam J. Basch.

Vervaardigers begin deesdae meer innoverend dink; dalk behoort hulle net meer van biovervaardiging en omgewingsvriendelike materiale gebruik te maak.

Ek sien die "plastiek"-skroefproppie op sommige langlewe-melkkartonne is deesdae van suikerriet gemaak - en derhalwe bioafbreekbaar. Buitendien is suikerriet volop, 'n plant wat op baie plekke net groei en groei.

Dié innoveerders wys wat moontlik is. En grondstowwe is so volop soos blare in die park. Dit hang nou van ons - én die tegnologiefirmas - af om ons bestaan op aarde meer volhoubaar te maak.

Die melkkarton is ook herwinbaar, al is die binnekant met 'n baie dun lagie poliëtileen-aluminium (PolyAlu) uitgevoer. Volgens Fibre Circle word die PolyAlu van die karton geskei en uiteindelik in meubels en dakteëls omskep.

Suzanne Oude Hengel­ se notaboek met Econyl-vesel.
Suzanne Oude Hengel­ se notaboek met Econyl-vesel.

Wat van skoene?

Vancouver se indrukwekkende kuns­museum het onlangs 'n uitstalling van futu­ristiese klere en modeskeppings aangebied.

Wat soos 'n gewone slenterskoen lyk - nou ja, meer soos een wat 'n avant-garde bruid sal dra! - is allesbehalwe gewoon. Dis mikrobies van biomateriaal geweef wat van 'n bakterie afkomstig is. Nogal een in jou kombucha-drankie!

Dis die werk van die jong biotegnologie-onderneming Modern Synthesis in Londen. Nee, eintlik is dit die werk van die bakterie Komagataeibacter rhaeticus in daardie verfrissende gegiste drankie van jou. Want sien, die mikrobe vervaardig nanosellulose wat die navorsers vir skoene en ander klerasie gebruik.

"Sellulose is die boublok van die natuurlike omgewing," sê Jen Keane­, medestigter van Modern Synthesis. Keane en haar medestigter, Ben Reeve­, 'n wetenskaplike van Imperial College London, gebruik allerlei landbou-uitskot, soos voerkraalafval of afvalvrugte. Dit bevat suiker waarvan die bakterieë leef en sodoende nanosellulose vervaardig.

Biosellulose word lank reeds vir gesigmaskers en verbande in die mediese wêreld gebruik. Die mikrobes groei op 'n "traliewerk" van gare, amper soos die staallatwerk wat beton in geboue versterk. Sodoende vervaardig die mikrobes op natuurlike wyse nanosellulose wat volgens Keane deels tradisionele tekstiel en deels 'n biofilm lewer.

Die eindproduk bevat nie die mikrobes self nie. Dit is wel besonder sterk, glo agt keer sterker as staal, en bioafbreekbaar.

Sy sê die biomateriaal lyk soos nylon en drapeer soos leer, maar is warmer en die materiaal se dikte en gevoel kan verander word. Hulle kan dit ook na gelang van die behoefte kleur of met 'n ander stof bedek.

In September 2023 het Modern Synthesis 'n eksklusiewe handsak vir die Deense modehuis Ganni by die Londense Ontwerpfees ten toon gestel.

Die grootste voordeel is natuurlik dat hierdie biomateriaal ekovriendelik is. Vir sintetiese tekstiel wat meestal met petrochemiese prosesse vervaardig word, is jaarliks sowat 350 miljoen vate ruolie nodig, volgens een berekening.

'n Formele rok van Joeima Nakazato wat deels die biosmok- tegnologie vertoon.
'n Formele rok van Joeima Nakazato wat deels die biosmok- tegnologie vertoon.

Beter as leer

Vir buitestaanders moes Mira Nameth taamlik vreemd voorgekom het terwyl sy, stylvol geklee, herfsblare in Londen se Hyde Park optel.

Dit was die begin van haar pogings om volhoubare materiale uit "groen afval" te maak. Met 'n tweede meestersgraad in produkontwerp van die Royal College of Art in Londen stig sy in 2019 die onderneming Biophilica as tuiste vir Treekind® (biophilica.co.uk).

Sy beskryf die geregistreerde handelsnaam Treekind as 'n materiaal met 'n 100%-biobasis sonder enige sintetiese byvoegings.

Hoewel die mensdom vir millenniums reeds diervel vir klere gebruik, word daar toenemend kritiek uitgespreek oor die omgewingsimpak wat met die vervaardiging van leer gepaard gaan.

"Ons het Treekind ontwikkel as 'n alternatief vir leer, asook plastiek- of poli-uretaanleer wat petrochemies vervaardig word," verduidelik Nameth.

"In die toekoms moet sulke materiale geen plastiekbesoedeling veroorsaak nie, maar tog die duursaamheid van natuurlike leer hê."

Een kilogram Treekind-materiaal gebruik glo minder as 0,1% water vergeleke met kon­ven­sio­nele leerproduksie, en omdat dit plantmateriaal is, het dit ook 'n aansienlik kleiner koolstofvoetspoor.

Nameth sê Biophilica se alternatiewe leer is deur lang en intensiewe toetsprosesse geneem om te verseker dat dit aan die hoogste gehaltestandaarde voldoen. Dit is glo net so waterbestand en sterk soos diereleer, selfs vir skoene en horlosiebande.

Treekind bied produkte soos handsakke in verskillende kleure, selfs dié wat moeilik was om te maak, veral blou en wit, sê sy.

Uit die see

Dink daaroor: Ou skoene beland meer dikwels in die vullisblik en dan op stortingsterreine as wat dit herbruik word.

Dis waarom die Nederlandse ontwerper Suzanne Oude Hengel herwonne materiaal van ou visnette en nylonmatte gebruik om 'n kleurryke slenterskoen te brei. As kind het sy in Indië, Bhoetan en Frankryk gewoon en later by die TextielMuseum in Tilburg gewerk. Dis hierdie agtergrond wat haar sin vir ontwerp en kleur beïnvloed.

Haar materiaal is Econyl®, wat deur die Italiaanse firma Aquafil verskaf word. Aquafil neem herwonne visnette waarin seediere soos seeskilpaaie verstrengel raak, deur 'n sekere proses om in 'n vesel (Econyl) te herskep waarvan skoene en klere gemaak word.

Volgens die aanlyn platform Dutch Design­ Daily is die Sota- (state-of-the-art) slenterskoen, deur Oude Hengel en skoeiselontwerper Peterson Stoop gemaak. Hulle fokus op volhoubare skoene, veral die herbruik van slenterskoene wat meestal weggegooi word.

Benewens Oude Hengel se gebreide eenstuk-bokant, het Stoop die sool ontwerp om maklik uitmekaar te haal om die skoen te kan herstel. Hy kan die sool herhaaldelik vervang om die produk so volhoubaar as moontlik te maak. "Deur die skoen se lewe te verleng lewer ons 'n groot bydrae om skoene uit die vullisdrom te hou."

Gis en biosmokwerk

Die Japannese biotegnologiefirma Spiber sê tereg die mensdom se bestaan is moontlik gemaak deur die aarde se natuurlike hulpbronne.

Sy geregistreerde handelsnaam Brewed Protein is natuurlike vesels en materiale wat deur gisting (fermentasie) van plantbestanddele gemaak word. Dié biomateriale uit die laboratorium - van gebreide en geweefde tekstiele tot pels- en leerplaasvervangers - bied bykans oneindige moontlikhede vir die klerebedryf.

Joeima Nakazato is 'n bekroonde Japanse modeontwerper wat Spiber se Brewed Protein-tekstiele in haute couture-skeppings gebruik. Sy innoverende bio­smok­tegniek (biosmock­ing) laat die tekstielmateriaal in aanskoulike driedimensionele teksture ontvou wanneer dit met hitte en water in aanraking kom.

Wat vorentoe?

Dié innoveerders wys wat moontlik is. En grondstowwe is so volop soos blare in die park. Dit hang nou van ons - én die tegnologiefirmas - af om ons bestaan op aarde meer volhoubaar te maak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM