Welstand

Belê nou in verpleegopleiding

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Illustrasie: ISTOCK
Illustrasie: ISTOCK

Die ondersteuning en investering in verpleging verbeter nie net die gesondheid en welstand van bevolkings nie, maar dit bevorder ook ekonomiese groei en versterk gesondheidsorgstelsels.

So sê die Internasionale Raad van Verpleegkundiges (ICN) wat vanjaar se tema vir Internasionale Verpleegstersdag gekies het as Ons verpleegsters. Ons Toekoms: Die ekonomiese krag van sorg.

Internasionale Verpleegstersdag word jaarliks op 12 Mei regoor die wêreld gevier op die geboortedag van Florence Nightingale.

Hierdie jaar weerspieël die tema die doel om persepsies te hervorm en demonstreer hoe strategiese investering in verpleging aansienlike ekonomiese en maatskaplike voordele kan inhou.

Dr. Pamela Cipriano, ICN-president, sê hierdie Internasionale Verpleegstersdag wil hulle die ekonomiese redes vir belegging in verpleegwerk, onderwys en leierskap beklemtoon.

"Deur duidelike bewyse aan te bied, poog ons om te wys dat belegging in verpleging voordele inhou wat verder gaan as gesondheid op sigself.

"Belegging in verpleging maak ekonomies sin, is noodsaaklik vir ons om universele gesondheidsdekking te bereik, en is 'n belangrike stap in die rigting van 'n gesonder, meer welvarende globale gemeenskap.

"Die wêreld het kennis geneem van die deernisvolle versorging van verpleegsters tydens die pandemie en nou is dit tyd dat almal besef die langdurige en verreikende uitwerking wat verpleegsters het vir die genesing van die gesondheidstelsel self," sê Cipriano.

Elke jaar word die tema deur die ICN bepaal.

"Ten spyte daarvan dat verpleging die ruggraat van gesondheidsorg is, staar verpleegkunde dikwels finansiële beperkings en sosiale onderwaardering in die gesig.

"Ons glo dat dit nou die tyd is vir 'n verskuiwing in perspektief. Ons het keer op keer gesien hoe finansiële krisisse dikwels lei tot begrotingsbeperkings in gesondheidsorg, tipies ten koste van verpleegdienste.

"Hierdie reduksionistiese benadering mis die wesenlike en dikwels onderbeklemtoonde ekonomiese waarde wat verpleging bydra tot gesondheidsorg en die samelewing as geheel.

"Beleidmakers, gesondheidsorgadministrateurs en selfs die algemene publiek is dikwels onbewus of verkeerd ingelig oor die opbrengs op belegging wat voldoende befondsing in verpleging kan verskaf, veral in finansieel onstuimige tye soos hierdie.

"Met die lesse wat uit die Covid-19-pandemie geleer is en die toenemende bedreiging vir die gesondheid van bevolkings regoor die wêreld as gevolg van konflikte, die klimaatkrisis en finansiële onstabiliteit, glo ons dat die tyd reg is om 'n verskuiwing in perspektief en beleid te bepleit."

Internasionale Verpleegstersdag word jaarliks op 12 Mei gevier. Verpleegsters word as die ruggraat van gesondheidsorg beskou. Hulle gee nie net om vir hul pasiënte nie, maar ook vir die pasiënt se familie.Foto: ISTOCK
Internasionale Verpleegstersdag word jaarliks op 12 Mei gevier. Verpleegsters word as die ruggraat van gesondheidsorg beskou. Hulle gee nie net om vir hul pasiënte nie, maar ook vir die pasiënt se familie.Foto: ISTOCK

'n Spesiale Internasionale Verpleegsterdag-verslag deur die ICN is ook vandeesweek vrygestel.

Volgens die verslag kos swak gesondheid die wêreldekonomie 15% van die bruto binnelandse produk (BBP).

"Ons verslag fokus op die ekonomiese voordele van meer verpleegsters vir die hele wêreldekonomie.

"Ons weet dat gesonder mense meer betrokke en meer ekonomies produktief is, maar miljoene mense het nie toegang tot die noodsaaklike gesondheidsorg wat hulle nodig het nie, waarvan die meeste deur geregistreerde verpleegkundiges gelewer word.

"Doeltreffende universele gesondheidsdekking (UHC) kan elke jaar 60 miljoen lewens red en 3,7 jaar by die gemiddelde lewensverwagting voeg, maar om dit te bereik, verg 'n massiewe toename in belegging in die verpleegpersoneel.

"Verpleegsters is die drywers van primêre gesondheidsorg wat deur die Verenigde Nasies erken is as die katalisator om die 2030 UHC-doelwitte te bereik.

"Die verslag onthul ook dat as lande die hoër 80-aanwyser uit 100-drempel van die UHC wil bereik, hulle die grootte van hul verpleegwerkerskorps sal moet vergroot sodat hulle 70 verpleegsters vir elke 10 000 van hul bevolking het.

"Wat regerings moet erken, is dat sulke beleggings in verpleging nie 'n koste is nie.

"Belegging in gesondheidsorg spaar geld en om 'n gesonde bevolking te hê, kan die wêreldwye BBP met $12 biljoen of 8% verhoog."

Howard Catton, die ICN se hoofuitvoerendebeampte, het onlangs gehoor van verpleegleiers van regoor die wêreld wat sê dat regerings op soek is na korttermynoplossings in plaas daarvan om in verpleegpersoneel te belê.

"Wêreldwyd is daar 'n tekort aan verpleegkundiges. In plaas daarvan om in die huidige verpleegwerkersmag te belê, sien ons te veel regerings wat korttermyn- en kosteverminderingsgedrewe beleid kies.

"Dit is die verkeerde keuses wat ons in die verkeerde rigting neem.

"Ons loop ook 'n groot risiko om mense af te sit om by die beroep aan te sluit en ons sien dat meer van ons ervare verpleegsters vroeër ophou werk of bedank."

10 beleidsaksies voorgelê

Die ICN het met die Internasionale Verpleegsterdag se tema verlede jaar ook die Charter for Change bekendgestel.

Dit is 10 beleidsaksies wat regerings en werkgewers moet neem om gesondheidsorgstelsels te skep en in stand te hou.

"Verpleegsters is die sleutel tot gesonder gemeenskappe, responsiewe samelewings, florerende ekonomieë en magtige nasies. Hierdie tien beleidsaksies sal die volhoubare gesondheidstelsels skep wat nodig is om die welstand en die unieke bydrae van die verpleegpersoneel te optimaliseer.

"Sonder sulke optrede kan ons geen manier sien vir die huidige verpleegwerkersmag om sy noodsaaklike werk in die versorging van die gemeenskappe wat dit dien, voort te sit nie."

Charter for Change se 10 beleidsaksies

1. Beskerm en belê in die verpleegprofessie om gesondheidstelsels te herbou.

2. Verbeter ondersteuning vir verpleegsters se gesondheid en welstand deur veilige en gesonde werksomstandighede te verseker en hul regte te respekteer.

3. Bevorder strategieë om verpleegsters te werf en te behou om werksmagtekorte aan te spreek.

4. Ontwikkel, implementeer en finansier nasionale verpleegwerk-planne met die doel van selfonderhouding in die voorsiening van toekomstige verpleegkundiges.

5. Belê in hoëgehalte, geakkrediteerde verpleegopleidingsprogramme om meer nuwe verpleegkundiges voor te berei en bevorder loopbaanontwikkeling vir bestaande verpleegkundiges.

6. Stel verpleegkundiges in staat om tot hul volle omvang van die verpleegpraktyk te werk deur regulering te versterk en te belê in gevorderde verpleegpraktyke en verpleegkundige-geleide modelle van sorg.

7. Erken en waardeer verpleegsters se vaardighede, kennis, eienskappe en kundigheid.

8. Betrek nasionale verpleegverenigings aktief en sinvol as professionele vennote in alle aspekte van die gesondheids- en maatskaplike sorgbeleid.

9. Beskerm kwesbare bevolkings, handhaaf en respekteer menseregte, geslagsgelykheid en sosiale geregtigheid.

10. Stel verpleegleiers aan in uitvoerende posisies van alle gesondheidsorgorganisasies en regeringsbeleidmaking.

GEBORG

PRO-MED-CARE

Ons dienslewering is gefokus sodat pasiënte in die gemak van hul eie tuiste versorg kan word, waar hul omring word deur familie en vriende, in 'n bekende omgewing. Ons tuisversorging word gelewer deur opgeleide, passievolle versorgers met die nodige ervaring. Ons dienste sluit in: versorging van bejaardes, verswaktes, persone met beperkte tot geen mobiliteit, persone met spesiale behoeftes, palliatiewe sorg en diegene wat herstel na hospitalisasie of wat ly aan 'n kroniese toestand. Maak gerus kontak met ons vir enige verdere inligting. Kry sorg met gemoedsrus. Kontak ProMedCare by 0861 77 66 33.

Lilac Residence

Rosehaven, geleë in Durbanville-Sentraal, is ‘n 24-uur-sorg-oase onder die Lilac Residence-groep, wat gemak en medelye bied aan onafhanklike senior burgers en dié wat ekstra bystand benodig, spesifiek vir bystandverblyf, demensie, en verswakte sorg. Hierdie nuut opgeknapte eenhede bied moderne afwerkings en al die nodige veiligheidskenmerke, wat die uiterste sorg en gemak vir inwoners verseker, terwyl hulle omring word deur pragtige tuine in ‘n sentrale ligging. Vir meer inligting, kontak Riana by 084 208 3334 of stuur 'n e-pos na rianam@louwcoetzee.co.za.

Medwell SA

Medwell SA is 'n vooraanstaande mediese maatskappy met meer as 20 jaar ondervinding wat spesialiseer in tuisgesondheidsorg. Ons is toegewy om kwaliteit en versorgende mediese dienste direk by die tuiste van individue te bied. Met 'n passie vir die bevordering van gesondheid en welstand, bied Medwell SA 'n verskeidenheid van tuissorgdienste wat spesifiek ontwerp is om die behoeftes van elke individu te vervul. Ons span van gesertifiseerde en ervare professionele gesondheidswerkers streef daarna om die beste sorg en ondersteuning aan on tuisgesondheidsorgkliënte te bied. Vir meer inligting besoek gerus www.medwell.co.za of stuur 'n e-pos na info@medwell.co.za.

Creative Wellness

Die belangrikheid van die regte keuse vir tuissorg kan nie genoeg beklemtoon word nie. Maak dus die regte keuse en word deel van Creative Wellness se familie, waar sorg met integriteit en respek gelewer word. Kontak hulle gerus by 021 982 8972.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM