Tandepasta kom nou in tabletvorm. Jy't reg gehoor - geen meer komplekse buis-origami om die laaste smeersels uit die buis te kry nie. Tandepasta-tablette is maklik om te gebruik en meer ekovriendelik as sy buisvormige eweknie, skryf Fay van Eeden.
Wie sou kon dink dat daar 'n plaasvervanger vir 'n tandeborsel en tandepasta sou kom, en dit nogal in tabletvorm!
Maar wat is tandepasta-tablette en is dit beter of net so goed soos gewone tandepasta?
Tandepasta-tablette is maklik om mee te reis en hittebestand - jy kan dit in 'n warm motor los sonder dat dit 'n soort walglike munt-epoksie word.
Die meeste tandepasta-tablette is tegnies glad nie tandepasta nie. Dit is 'n saamgeperste poeier wat gemaak word van bestanddele soos xilitol ('n natuurlike versoeter wat mondbakterieë bestry), kalsiumkarbonaat ('n chemiese stof wat in kalksteen en slakdoppe voorkom) en natriumbikarbonaat (koeksoda). Sommige handelsname bevat ook kremetart ('n algemene huishoudelike alternatief vir bleikmiddel gemaak van wynsteensuur).
Na my beste wete is daar tans twee soorte tandepasta-tablette in Suid-Afrika beskikbaar. Die eerste is produkte (Earthly Toothpaste en Lush) wat hulself daarop roem dat hulle fluoriedvry is. Die tweede tipe (Bite&Brush) kies om fluoried vir hidroksiapatiet (HA) te verruil. HA is 'n vorm van kalsium wat 97% van ons tandemalje en byna 70% van die dentien uitmaak, wat dit heeltemal bioversoenbaar en niegiftig maak.
Die Japannese maatskappy Sangi het al in 1970 die regte daarvoor by Nasa gekoop. Nasa het hulle ruimtevaarders met HA behandel wanneer hulle in die afwesigheid van swaartekrag die nodige minerale in hul tande en bene verloor het. Alhoewel dit blyk dat HA wetenskaplik bewys is om tande te versterk/remineraliseer, sensitiwiteit te beveg, plaak-opbou te voorkom en tande natuurlik wit te maak, is daar steeds 'n gebrek aan wetenskaplike bewyse oor die doeltreffendheid daarvan oor 'n lang tydperk.
Die voordele
Sedert buisvormige tandepasta die eerste keer in 1898 verskyn het, het dit 'n negatiewe uitwerking op die omgewing. Die feit dat die buis self van verskillende soorte plastiek gemaak is en soms met 'n metaallaag gelamineer is, maak dit feitlik onmoontlik om te herwin, wat beteken dat miljoene tandepastabuise wêreldwyd in stortingsterreine beland waar hulle stadig afbreek en die grond en water besoedel. Tandepasta-tablette word gewoonlik in glasbottels of herwinbare plastiekhouers verkoop en is dus 'n meer omgewingsvriendelike keuse.
Baie konvensionele tandepasta bevat mikroplastiek. Hierdie klein onvernietigbare plastiekpolimere beland in ons waterstelsels wanneer ons ons monde uitspoel. Die meeste tandepasta-tablette word gemaak van bestanddele wat jy in die gemiddelde spens kan kry, met geen mikroplastiek nie.
Nie net verminder tandepasta-tablette huishoudelike afval nie, maar dis ook geneig om minder morsig te wees. Tandepasta-tablette is maklik om mee te reis en hittebestand - jy kan dit in 'n warm motor los sonder dat dit 'n soort walglike munt-epoksie word.
Maar daar is ook nadele
Dit blyk dat daar 'n gebrek aan wetenskaplike bewyse is oor hoe goed tandepasta-tablette is wat mondgesondheid betref. Sommige tandartse vind die gebrek aan fluoried in sekere produkte kommerwekkend, aangesien fluoried 'n groot rol speel in die verwydering van plaak, die voorkoming van tandvleissiektes en tandbederf.
Dit neem ook 'n tydjie om gewoond te raak daaraan om jou tande met 'n poeier te borsel, veral as jy gewoond is aan 'n jel of pasta. Aanvanklik voel die "kou"-fase vreemd, maar mens raak gewoond.
Hoe om dit te gebruik
Plaas die tandepasta-tablet in jou mond en kou dit totdat dit met jou speeksel meng en 'n pasta in jou mond vorm. Gebruik 'n klam tandeborsel en begin borsel waar die meeste van die pasta is. Borsel dan soos jy gewoonlik sou doen. Sommige produkte stel voor dat jy nie jou mond uitspoel nie. Op hierdie manier kan bestanddele op jou tande bly, wat hulle 'n ekstra laag van beskerming gee. Om te spoel of nie te spoel nie, blyk 'n persoonlike voorkeur te wees.
Tandepasta-tablette om te vermy
Sommige tandheelkundiges beveel aan om weg te bly van tandepasta-tablette wat van houtskool gemaak is. Alhoewel hulle jou tande aanvanklik witter kan laat lyk, kan die skurende aard van houtskool jou tande se emalje mettertyd krap en verweer, wat swak, donkerder en sensitiewer tande tot gevolg kan hê.
Gesels met jou tandheelkundige voor jy na tandepasta-tablette oorskakel. My tandarts het my aangeraai om my tande een of twee keer per week met tandepasta te borsel sodat ek seker kan wees dat my tande die nodige hoeveelheid fluoried kry. Ek het besef deur slegs 'n paar keer per week met tandepasta te borsel, ek steeds plastiekgebruik dramaties gaan besnoei, aangesien 'n buis tandepasta my baie langer gaan hou as voorheen. En dis vir my, en die planeet, 'n oorwinning!
Koop by dié plekke
- Earthly se tandepasta-tablette is aanlyn beskikbaar op hulle eie webblad (earthlytoothpaste.com) of by Checkers, Dis-Chem, Wellness Warehouse en Cosmetic Connection.
- Negentig tablette gaan jou tussen R39,99 en R69,99 kos, afhangend waar jy koop. Jy sal 240 Bite&Brush-tablette teen R310 op thekindbrush.com kan koop. Hulle tablette is ook aanlyn by Faithful to Nature en Takealot beskikbaar. Lush se tablette is teen R145 vir 50 g aanlyn op lush.co.za beskikbaar.















