Welstand

Borskanker: Drie vroue se stryd en oorwinnings

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Johanna BothaFoto’s: LAYLA BELLE PHOTOGRAPHY
Johanna BothaFoto’s: LAYLA BELLE PHOTOGRAPHY

Wanneer borskanker by jou gediagnoseer word, hoef dit nie die einde van jou lewe te beteken nie. Johanna Botha, Charmaine Boshoff en Elaine Keyser is kankeroorwinnaars en het elk hul eie unieke stryd teen borskanker gevoer. Gesond! het met hulle gesels oor hul kankerreis.

Johanna dra littekens met trots

Johanna Botha het op haar 52ste verjaardag in 2017 die nuus ontvang dat sy borskanker het, in 'n oproep wat sy self na die patoloog gemaak het. Indringende duktale karsinoom (drievoudig negatief, fase 2) is by haar gediagnoseer.

"Die mat was onder my voete uitgeruk. Met 'n spreekkamer vol pasiënte moes ek my trane sluk.

"Op die dag het daar 'n mediese verteenwoordiger in die wagkamer gesit. Ons het mekaar goed geken en vriende geword. Ek het haar ingeroep en vinnig op haar skouer gehuil.

"Ironies genoeg is borskanker 'n jaar later ook by haar gediagnoseer. So gee ons die aflosstokkie vir mekaar aan.

"Daardie aand het ek ook my kopkussing nat gehuil.

"Ek het gegril vir die gedagte van kanker in my bors en wou my bors so gou moontlik laat verwyder," vertel sy.

Vier dae later was sy in die teater­ om 'n mastektomie te laat doen.

"Ek moes ses maande lank chemoterapie ondergaan. Ek het besluit om 'n port te kry. Ek het nie kans gesien vir soek na are vir die chemo nie. Dit het uitstekend vir my gewerk en ek sal dit daarom aanbeveel.

"Toe ek hare op my kopkussing begin sien het, het ek besluit om liewer alles af te skeer. Ek het rek-kant by die materiaalwinkel gekoop en breë kantstroke om my kop onder hoede gedra. Dit het my spesiaal laat voel en op 'n manier was die geen hare later vir my lekker. Baie vinnig om soggens reg te maak.

"Ek het my chemo-dag elke keer spesiaal begin. My bloed laat trek soos nodig is voor elke chemo-sessie, waarna ek lekker ontbyt gaan eet het."

Johanna het vir haar ses maande van chemoterapie heeltyds afgevat by die werk en die tyd gebruik om haarself te herlaai.

"Ek het gesorg dat ek steeds amper elke dag 'n rede gehad het om op te staan, lipstiffie aan te sit en iewers heen te gaan. Elke keer as ek in die spieël gekyk het, het dit my aan die kanker herinner.

"Ek het besluit op 'n mastektomie van my gesonde bors ook en op borsrekonstruksie.

"Vandag het ek eintlik totaal vergeet dat hierdie episode in my lewe ooit gebeur het en het intussen ander uitdagings oorkom, soos om te leer swem. Ek is gemaklik daarmee om in die gimnasium uit te trek. Ek dra my littekens met trots en het gevorder vanaf verdrink na 80 lengtes per uur," sê sy.

Daar is hoop ná jou diagnose

Op 38-jarige ouderdom, in 2014, is fase 2-HER2- en -ER2-positiewe borskanker by Charmaine Boshoff gediagnoseer.

Volgens Charmaine moet jy vashou waaraan jy glo wanneer die nuus met jou gedeel word dat jy kanker het.

" 'n Diagnose met kanker is traumaties en kan ook 'n langtermyn-impak op jou fisieke en emosionele gesondheid hê. Ek het vir traumaberading gegaan en kan bevestig hoe meer jy praat oor wat met jou gebeur, hoe beter slaag jy daarin om dit te hanteer.

"Onthou, jy het niks om voor skaam te wees nie. Onthou ook daar is hoop ná 'n diagnose met borskanker," sê sy,

"Vra vir hulp wanneer jy hulp nodig het. Jou vriende en familie wil graag help. Gesels met jou mediese span, dokters en beraders en neem ingeligte besluite vanaf jou chirurgie regdeur jou behandelingsreis."

Elkeen se kankerreis uniek

"Elkeen se borskankerstorie is eie aan haar."

Só sê Elaine Keyser, by wie borskanker (fase 3 met geaffekteerde limfknope, ER-positief en HER2-negatief) 10 jaar gelede op 43-jarige ouderdom gediagnoseer is.

" 'n Diagnose met borskanker bring diepe­ onsekerheid, dít is vir seker. Dit is 'n lewensveranderende oomblik in jou en jou geliefdes se lewe. Dit raak jou, maar ook die mense rondom jou," sê sy.

Elaine se kanker is ge­diag­no­seer nadat sy 'n knop in haar bors gevoel en dit toe laat ondersoek het.

"Ek het 'n gesonde lewenstyl gevolg, gereeld geoefen, en toe die skok. Ek het besluit op 'n dubbele mastektomie sonder rekonstruksie. Ek besef daagliks dat dit die beste besluit was wat ek vir myself in daardie stadium kon maak. Deur my behandeling was daar dae wat werklik moeilik was, maar my kop was op die regte plek en ek het doelbewus besluit om nie 'n slagoffer van my omstandighede te wees nie.

"Onthou altyd dat jy dapperder en sterker is as wat jy dink. Hare groei terug, jou geloof word sterker en jy vind geluk in die klein dingetjies van die lewe. Elkeen van ons het talente en gawes. Jy ook. Gebruik joune om ander te help. Oefen jou brein om te fokus op wat vir jou belangrik is. Dit is wat ek gedoen het en steeds kies om te doen," vertel sy.

Geborg

Cancercare

Oktober is Borskanker-bewusmakingsmaand! Sluit by Cancercare aan vir meer oor vroeë opsporing en ook vir ondersteuning en liefde. Deel jou storie, vier die oorwinnaars en eer die stryders. Kom ons prat oor borskanker en bemagtig só mekaar en moedig gereelde odnersoeke aan. Saam kan ons 'n verskil maak! Volg hulle ook op Facebook.

#BorskankerBewustheid #PienkOktober #CancercareGeeOm

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM