Toe Graeme Comrie sy borskankerdiagnose in November 2009 ontvang, het dit om verskeie redes as 'n skok gekom.
Op 64-jarige ouderdom het hy 'n gesonde leefstyl gelei, hy het gereeld mediese ondersoeke ondergaan en hy het nooit gedink dat borskanker by hom as man gediagnoseer kan word nie.
"Ek het eendag 'n klein knoppie bo in my linkerbors ontdek, maar ek het nie veel daarvan gedink nie. Ek het vir ongeveer twee jaar niks daaraan gedoen nie totdat my dokter voorgestel het dat ek dit laat toets. Ek het haar raad gevolg en die resultate het positief teruggekom - ek het borskanker gehad," onthou hy.
Dr. Fatima Hoosain, spesialis-chirurg, sê hoewel borskanker as 'n oorwegend vroulike siekte beskou word, raak borskanker mans ook.
"Die risiko is laag, veral in vergelyking met ander algemene kankers. Die Nasionale Kankerregister verklaar dat die lewenslange risiko van borskanker by mans tussen 1 uit 500 tot 1 uit 1 000 is, afhangende van ras. Mans op enige ouderdom kan borskanker ontwikkel, maar dit word gewoonlik by mans tussen 60 en 80 jaar oud opgespoor."
Gelukkig vir Graeme kon die dokters die kanker chirurgies verwyder en hy leef nou om die verhaal te vertel.
Volgens Hoosain is die prognose egter effens swakker vir mans as vir vroue om verskeie redes.
"Mans is minder geneig om dokter toe te gaan en het dus dikwels gevorderde kankers. Anatomies het mans baie min borsweefsel, daarom infiltreer klein gewasse vroeg in die omliggende weefsel en versprei maklik via die bloedstroom en limfaat na verafgeleë organe," verduidelik sy.
"Ek is ongelooflik dankbaar dat chirurgie en behandeling gewerk het. 14 jaar later is ek steeds kankervry," sê Comrie.
Hoosain benadruk die belangrikheid van vroeë opsporing, aangesien dit die kanse om enige tipe kanker te oorleef aansienlik verbeter.
Die algemeenste tipe borskanker wat by mans gesien word, is infiltrerende buiskarsinoom.
"Dit is kanker wat versprei het verby die selle wat die buise in die bors beklee. Dit is die algemeenste tipe borskanker by sowel vroue as mans. Alle ander vorme van borskanker is uiters skaars by mans."
Daar word geraam dat kankerveroorsakende genetiese abnormaliteite minstens twee tot vier keer meer algemeen is by mans met borskanker as by vroue, sê Hoosain.
"Genetiese toetsing het dus deel geword van roetine-sorg by mans met borskanker. Ander risikofaktore sluit in blootstelling aan bestraling, 'n siekte wat verband hou met hoë vlakke van estrogeen in die liggaam, soos lewersiekte, of ander genetiese afwykings."
Hoosain sê verder dat wanneer borskanker by 'n man gediagnoseer word, verhoog dit die kanse dat sy dogters kanker kan ontwikkel.
"Elke man wat met borskanker gediagnoseer word, moet vir genetiese toetsing gaan. Die kans is groot dat hy 'n draer van 'n borskankergeenmutasie is en daarom kan dit deur sy kinders oorgeërf word."
Hoe word borskanker by 'n man opgespoor?
Volgens Hoosain het mans met borskanker gewoonlik 'n knop wat gevoel kan word (soos in Graeme se geval). "Mans se borste is gewoonlik nie so groot soos vroue s'n nie en 'n massa word dus makliker deur 'n man gevoel. Medies word 'n biopsie uitgevoer om 'n behoorlike diagnose te maak.
"Dit behels die verwydering van selle of weefselfragmente sodat dit onder 'n mikroskoop deur 'n patoloog bekyk kan word om te kyk vir tekens van kanker. Dit word gewoonlik gedoen deur 'n klein weefselkern met 'n naald onder plaaslike verdowing te neem."
Behandelingsopsies vir mans met borskanker
Behandelings vir borskanker by mans en vroue is oor die algemeen dieselfde, verduidelik Hoosain. Baie mans vind baat by 'n kombinasie van verskillende behandelings.
• Chirurgie: Die tipiese behandeling vir mans is 'n mastektomie, waarin die hele bors verwyder word. Borsbesparende chirurgie - waarin net die gewas uitgehaal word - is gewoonlik nie moontlik nie, aangesien mans nie veel borsweefsel het om mee te begin nie. Die chirurg sal ook een of meer van die limfknope uithaal vir patologiese ondersoek om te bepaal of die kanker versprei het.
• Bestralingsterapie: Bestraling word algemeen gebruik ná chirurgie vir borskanker by mans, aangesien hierdie gewasse dikwels gevorderd is en sonder radioterapie is daar 'n groot kans dat die kanker sal terugkeer.
• Chemoterapie: Dit is behandeling met middels - hetsy per mond of deur inspuiting - wat kankerselle aanval. Chemoterapie word dikwels ná die operasie gebruik om die risiko dat die kanker terugkom te verlaag. Vir mans met gevorderde kanker of kanker wat na ander dele van die liggaam versprei het (metastatiese kanker), kan chemoterapie die primêre behandeling wees.
• Hormonale terapie: Sommige soorte borskanker het sekere hormone nodig om te groei. Hormonale terapie blokkeer die effekte van hierdie hormone, wat die kanker onderdruk.
Soms word die verwydering van die testes of onderdrukking van hul funksie deur middels gebruik om die hoeveelheid sekere manlike hormone in die stelsel te verminder. Mans met borskanker moet nooit testosteroon neem nie.
Hormonale terapie word dikwels ná die operasie gebruik om die risiko dat die kanker terugkom te verlaag. Vir mans met plaaslik gevorderde of metastatiese kanker, kan dit die primêre behandeling wees.
• Biologiese terapie: Dit is 'n nuwe benadering. Sommige mans het 'n oormaat proteïen wat kanker vinnig laat versprei. Herceptin is 'n middel wat goedgekeur is om metastatiese borskanker te behandel. Dit keer dat hierdie proteïen die kankerselle laat groei. Dit kan ook jou immuunstelsel versterk, wat dit meer krag gee om die kanker self te beveg.
GEBORG
Vacuhealth

Die algemene onkunde oor erektiele disfunksie (ED) lei volgens kenners dikwels tot gevoelens van hartseer en woede by die vrou omdat sy voel haar man is nie meer tot haar aangetrokke nie. Dit is dus belangrik dat vroue ingelig is oor hul maat se stryd en erkenning daaraan gee sodat hulle ondersteuning kan bied.
Dit is ook belangrik vir mans om te besef ED beteken nie die einde van jou manwees nie. Vacuhealth is hier om te help. Vacuhealth se Vacurect is 'n natuurlike apparaat wat jou liefdeslewe 'n welkome hupstoot kan gee.
Die apparaat kan met veiligheid en vertroue vir ereksieprobleme en penisrehabilitasie gebruik word.
Skakel 072 688 0795 vir meer inligting.
















