Die voorkoms van diabetes in Suid-Afrika het die afgelope dekade verdubbel met meer as 4,2 miljoen mense wat nou aan die toestand ly.
Dus een uit nege volwassenes, wat dit die grootste oorsaak van sterftes by vroue maak, en die tweede grootste oorsaak vir die hele bevolking.
November is Nasionale Diabetes-bewusmakingsmaand om meer te doen om hierdie voorkombare gesondheidskrisis te keer.
Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, sê Suid-Afrika is die episentrum van tipe 2-diabetes op die vasteland vanweë sy hoë vetsugsyfers.
"Volgens 'n studie wat in die Lancet gepubliseer is, is ons die mees vetsugtige nasie in Afrika suid van die Sahara en onder die mees vetsugtige nasies ter wêreld. Vetsug verhoog ons risiko van baie aftakelende en dodelike siektes, insluitend hartsiektes en sekere kankers. Vetsug is ook 'n primêre drywer van tipe 2-diabtes met 90% van pasiënte wat as óf oorgewig óf vetsugtig gekategoriseer is.
"Terwyl tipe 2-diabtes meer algemeen by ouer volwassenes voorkom, het die toename in die getal kinders met vetsug tot meer diabetesgevalle by jonger mense ook gelei."
Ander risikofaktore vir tipe 2-diabtes sluit in ouderdom (bo 45), 'n nabye familielid met die siekte, 'n dieet hoog in vet, suiker en sout, hoë bloeddruk, slegte cholesterol, hartsiektes, alkoholverbruik, rook en te min oefening.
Diabetes is 'n chroniese toestand wat die manier waarop die liggaam bloedsuiker of glukose verwerk, beïnvloed. As jou bloedglukose te hoog is, kan dit jou liggaam ernstig beskadig.
"Wat kommerwekkend is, is dat ongeveer 50% van mense wat nou diabetes het, nie eens weet dat hulle dit het nie. Dit beteken nader aan 8 of 9 miljoen mense in SA leef met diabetes as die voorspelde 4,2 miljoen.
"Verder, as mens kyk na prediabetiese syfers, wat diegene insluit wat aan verswakte glukosetoleransie en verswakte vastende glukose ly, kan die syfer selfs hoër wees. Na raming val 25% van mense in die abnormale glukosegroepering, wat beteken dat 'n geraamde 15 miljoen Suid-Afrikaners uiteindelik diabetes sal ontwikkel," sê Jennings.
In 'n Britse studie is bevind dat vroue met tipe 2-diabetes vyf jaar minder as die gemiddelde kan leef, en as tipe 2-diabetes op 'n jonger ouderdom gediagnoseer word, kan lewensverwagting met meer as agt jaar verminder.
Die navorsing het data van meer as 12 000 Engelse pasiënte met tipe 2-diabtes oor 'n tydperk van tien jaar ondersoek en gevind dat die risiko van vroeë dood 84% hoër was by mense met diabetes.
Vroue met tipe 2-diabetes het 'n 60% verhoogde kans op 'n vroeë dood gehad en kan vyf jaar minder leef as die gemiddelde vrou, terwyl mans met tipe 2-diabetes 'n 44% verhoogde risiko van 'n vroeë dood gehad het en vier en 'n half jaar minder kan leef.
Rook het die lewensverwagting van mense met tipe 2-diabetes met tien jaar verkort en dié by wie tipe 2-diabetes voor die ouderdom van 65 gediagnoseer is, het hul lewensverwagting met meer as agt jaar verminder.
Voorkoming beter as genesing
Die gesondheids- en welstandskenner Vanessa Ascencao sê dat diabetes een van die grootste oorsake van sterftes wêreldwyd is, maar dit kan bestuur word deur 'n holistiese benadering tot gesondheid te volg.
"Optimaliseer jou gesondheid deur gesonde bloedsuikervlakke en 'n gesonde gewig te handhaaf, of jy nou diabetes het of nie. Minstens 80 persent van mense met pre-diabetes is onbewus daarvan dat hulle dit het, so maak seker dat jy 'n gesonde dieet wat ryk is aan voedingstowwe en voedsel so na as moontlik aan die natuur volg," sê Ascencao.
"Verhoog inname van vrugte en groente, gesonde vette, maer proteïene, vetterige vis, bruinrys, peulgewasse en boontjies. Beplan gesonde maaltye vooruit, oefen gereeld, hanteer stres, vermy verwerkte en suikerryke kosse, vermy rook en probeer hoëkwaliteitaanvullings soos spirulina," voeg sy by.
"Voorkoming en remissie behoort die kern van SA se langtermynstrategie vir diabetes te wees.
"Soos met die meeste siektes, is vroeë opsporing van kardinale belang om komplikasies te voorkom. Te veel mense ignoreer die voor die hand liggende waarskuwingstekens en stel hulle dalk op vir ernstige en aftakelende siektes in die toekoms.
"Selfs as jy nie vermoed dat jy diabetes het nie, laat dit eerder jaarliks toets," sê Jennings.
















