Welstand

Die 7 fases van rou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Almal ervaar verlies, want dit is 'n natuurlike deel van die lewe.

Wanneer 'n geliefde sterf, het dit 'n groot impak op ons, die oorlewendes wat sonder die persoon met ons lewe moet voortgaan. Die proses hou aan tot lank nadat die begrafnis gehou is.

'n Mens moet die verlies erken, jouself die geleentheid gun om te rou en die pyn te ervaar. Die emosies mag soms oorweldigend wees, maar dit is noodsaaklike stappe om jou toe te laat om produktief met jou lewe voort te gaan. Dit is belangrik om te weet wat om te verwag, maar die rouproses is ook baie persoonlik - almal sal dit anders ervaar.

Moenie huiwer om hulp by 'n professionele persoon te kry as jy dit nodig sou hê nie.

1. Skok en ontkenning

Jy sal die nuus eerstens met skok en ongeloof ontvang. Die skok bied emosionele beskerming sodat jy nie oorweldig voel nie. Jy sal die nuus probeer ontken om van die impak daarvan te probeer ontsnap.

2. Pyn en skuldgevoelens

Sodra die skok verby is, gaan die intense pyn inskop. Dit is noodsaaklik dat jy die pyn ervaar, want dit is hoe jou brein die verlies probeer verwerk. Jy kan ook skuldgevoelens hê oor dit wat jy saam met jou geliefde gedoen het of nie gedoen het nie.

3. Woede

Jy kan jou gevoelens op ander mense uithaal en onregverdige blaam op hulle plaas. Probeer jou bes in hierdie tyd om selfbeheersing toe te pas tydens die fase omdat jy jou verhoudinge met ander mense onnodig kan belemmer.

4. Depressie, nadenking en alleenheid

Die ware omvang van jou verlies begin jou tref. Jy mag depressief voel en fokus op die verlede. Jy kan jouself begin isoleer, maar waak hierteen omdat dit noodsaaklik is om 'n ondersteuningsnetwerk te behou.

5. Die draaipunt

Die lewe gaan aan en jy begin aanpas om sonder jou geliefde te leef. Jou lewe raak kalmer en meer georganiseerd en jou gemoed begin 'n bietjie lig. Dit is die middelste fase van rou en jy begin sterker en meer gemotiveerd voel.

6. Hervat jou lewe

Jy sal nou begin om jou lewe te herbou. Jy kan onder meer realistiese oplossings begin vind vir praktiese uitdagings wat jy nie meer saam met jou geliefde ervaar nie. Jy raak meer funksioneel en vasbeslote.

7. Aanvaarding en hoop

Dit is die finale fase. Dit beteken nie jy het jou verlies oorkom nie. Dit beteken bloot dat jy die pyn verwerk het en kans sien om vorentoe te beweeg. Jy sal jou geliefde altyd onthou en dankbaar wees vir die tyd wat julle saam deurgebring het.

  • Die artikel is verwerk van AVBOB se webblad. AVBOB is een van die uitstallers by die Everest Wealth Lewe Plus Ekspo saam met Beeld, Rapport en Netwerk24. Kry ook meer inligting by www.avbob.co.za.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM