Welstand

Die dag as jou woorde wegraak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Miljoene mense met spraakverlies moet met die realiteit saamleef dat hulle van verbale kommunikasie beroof word. Sulette Ferreira vertel ons van hierdie toestand wat letterlik jou woorde laat opdroog.

Stel jou die volgende voor: Dit wat jy wil sê, is op die punt van jou tong, maar jy kan nie op die woord kom nie.

Die spesifieke woord dans aan die einde van kognisie, spottend naby, maar onbereikbaar.

Meer en meer woorde ontwyk jou, en die gebrek word kenmerkend van jou sosiale verkeer. Die verwarring in jou gedagtes bly jou tong pootjie.

Dit is belangrik om te weet dat afasie nie intelligensie beïnvloed nie; dit is 'n belemmering van die vermoë om te kommunikeer - wat afasielyers se frustrasie dikwels vererger.

Miljoene mense met spraakverlies (afasie) moet met die realiteit saamleef dat hulle van verbale kommunikasie beroof word.

Afasie is onlangs in die kollig geplaas nadat dit in Maart vanjaar aanvanklik by die akteur Bruce Willis gediagnoseer is (die diagnose is wel later verander na frontotemporale demensie).

Volgens die National Aphasia Associa­tion leef sowat 'n miljoen mense hiermee saam in Amerika en meer as 180 000 nuwe gevalle word jaarliks gediagnoseer. Dit kom dus meer algemeen voor as Parkinson se siekte, serebrale gestremdheid, veelvuldige sklerose, spierdistrofie en Lou Gehrig se siekte.

Die prentjie in Suid-Afrika is ook somber, maar daar is nie onlangse statistieke hieroor nie. In 2010 is geskat dat een uit elke 272 Suid-Afrikaners deur spraakverlies geraak word.

Spraakverlies tref tuis

My oom, 'n innemende, talentvolle en welbelese man wat eens moeiteloos deuntjies op sy kitaar gespeel het, was meteens doodstil.

Ek verbreek die stilte: "Wat is die naam van die deuntjie wat jy altyd vir my gespeel het, die een met die woorde: ‘Write your name on the dotted line'? "

Sy oë helder op, hy weet presies waarna ek verwys, maar wanneer hy die liedjie se naam probeer sê, is sy woorde net 'n warboel klanke.

Hy probeer weer en weer, elke keer met dieselfde gevolg. Dit is duidelik vir hom belangrik om my te antwoord, want hy probeer ook die naam op sy selfoon te tik, maar geskrewe taal is net so ver buite sy bereik.

Sy desperate pogings om te kommunikeer breek my hart. Ek deel graag sy verhaal omdat hy nie self sy ervaring kan verwoord nie.

Watis afasie?

Soos wat dikwels die geval is, het my oom 'n beroerte gehad wat spraakverlies meegebring het.

Volgens 'n studie wat in 2021 gedoen en op die Amerikaanse National Library of Medicine se webblad gepubliseer is, ly ongeveer een derde van mense wat 'n akute beroerte gehad het, aan afasie.

Soveel as 43% van dié pasiënte word steeds ná 18 maande deur hierdie toestand beïnvloed.

Spraakverlies is 'n neurologiese kommunikasie-versteuring as gevolg van 'n besering aan die taalverwerkingsgebiede van die brein.

Dit is belangrik om te weet dat afasie nie intelligensie beïnvloed nie; dit is 'n belemmering van die vermoë om te kommunikeer - wat afasielyers se frustrasie dikwels vererger.

Hierdie steuring kan 'n groot verskeidenheid verbale en nieverbale kommunikasie-aktiwiteite beïnvloed, soos praat, lees en skryf, en selfs die gebruik van getalle.

Afasie kan skielik in aanvang tree weens 'n beroerte of hoofbesering. Dit kan ook geleidelik ontwikkel weens 'n stadig groeiende breingewas of 'n siekte wat progressiewe, degeneratiewe skade veroorsaak. Die erns van spraakverlies hang van verskeie aspekte af, insluitend die oorsaak en die omvang van die breinskade.

Verskillende tipes afasie

Spraakverlies word in twee breë kategorieë verdeel, naamlik vloeiend en nievloeiend, elk met verskillende subtipes, wat ook unieke kenmerke en gevolge vir die individu het.

Vloeiende afasie is waar spraak steeds tot 'n mate vlot kan wees, of dit kan vlot en grammatikaal korrek klink, maar sonder enige werklike betekenis. Hierdie kategorie bevat dan die volgende subtipes:

Wernicke se afasie is die algemeenste tipe spraakverlies en word veroorsaak deur beserings aan die temporale lob van die brein.

Dié lyers koppel moeilik betekenis aan woorde en sukkel om spraak korrek te vertolk, te herhaal of om die regte woorde te vind. Hulle formuleer lang, maar betekenislose sinne met onnodige of opgemaakte woorde.

Geleidings-afasieis waar iemand woorde kan verstaan en vlot kan praat, maar sukkel om uitings te herhaal.

Byanomiese afasie is spraak steeds betreklik vlot, maar die persoon sukkel om die spesifieke name van voorwerpe te onthou. Hulle kan dikwels volledige sinne formuleer oor die begrip waaroor hulle wil praat.

Mense met nie-vloeiende afasie se kommunikasie is aarselend, en hulle maak met groot moeite klanke of woorde. Die vorme van nievloeiende afasie is:

Broca se afasie word veroorsaak deur skade aan die voorste lob van die brein. Dié pasiënte weet wat hulle wil sê en kan ook ander verstaan. Hul spraak is egter meestal beperk tot kort frases wat hulle met groot moeite uiter.

Globale afasie is die ernstigste vorm van afasie, waar die vermoë om spraak te verstaan en te lewer, belemmer word. 'n Individu met globale afasie sal steeds normale kognitiewe vermoëns op ander gebiede as taal en kommunikasie hê.

Hoe die siekte ook al beskryf word, weerspieël dit die diepgaande emosionele impak en aanhoudende verlies kenmerkend van 'n lewe met afasie. Dit is 'n komplekse versteuring wat mense op verskeie maniere raak.

Meer as 'n verlies aan woorde

Spraakverlies bring ingrypende lewensveranderinge teweeg. Hoewel afasie nie 'n mens se algehele intellektuele vermoëns aantas nie, is dit 'n verreikende toestand wat die kern van menswees raak.

Spraakverlies kan 'n merkbare invloed op iemand se algehele lewensgehalte hê omdat hierdie toestand sosiale en psigologiese faktore beïnvloed. Sosiale betrokkenheid, die vorming van betekenisvolle verhoudings, emosionele ondersteuning, kommunikasievaardighede, 'n positiewe selfbeeld en outonomie kan geraak word.

Prof. Pauline Boss se konsep van "onuitgeklaarde verlies" bied 'n lens waardeur die kompleksiteit van spraakverlies beskou kan word. Boss omskryf die konsep soos volg:

"Onuitgeklaarde verlies kan baie vorme aanneem, dikwels alledaagse situasies: 'n alkoholistiese ouer wat wanneer hulle onder die invloed is, 'n ander persoon word; 'n voormalige lewensmaat van wie jy geskei is, maar met wie jou verhouding versteur, maar nie uitgewis is nie; 'n geliefde met wie jy kontak verloor het deur immigrasie; of 'n kind wat jy opgegee het vir aanneming. Hierdie ervarings van verlies word nie deur die samelewing erken nie en daar is geen rituele vir die hantering van verlies nie".

Tog, die onmeetbaarheid van die verlies ontken nie sy bestaan of sy verlammende invloed nie.

Boss onderskei tussen twee tipes onuitgeklaarde verlies. Met die eerste tipe is die persoon fisiek afwesig, maar sielkundig teenwoordig. Voorbeelde hiervan is emigrasie. Die tweede tipe onuitgeklaarde verlies is wanneer 'n familielid fisiek teenwoordig is, maar sielkundig afwesig as gevolg van 'n kognitiewe gestremdheid of geheueverlies as gevolg van siekte, besering, verslawing of obsessie. Hieronder tel dan afasie.

Onuitgeklaarde verlies is uiters stresvol

Onuitgeklaarde verlies is die stresvolste tipe verlies omdat dit nie 'n duidelike vooruitsig het om deur 'n rouproses verwerk te word nie. Die verlies van "dit wat kon gewees het" maak 'n belangrike deel uit van hierdie twyfelagtigheid wat die geraaktes dan in 'n emosionele limbus plaas, aangesien daar nie voorskrifte of rituele bestaan betreffend die hantering van die verlies nie.

Spraakverlies as onuitgeklaarde verlies stel soveel uitdagings. Die frustrasie is onophoudelik as jy nie die korrekte woorde kan vind nie, nie eenvoudige sinne kan formuleer nie of aan 'n eenvoudige gesprek deel kan neem nie. Of om nie bloot net te kan sê "ek is lief vir jou" nie. Om hierdie rede verkies afasie-lyers soms om nie meer te praat nie, eerder as om met groot moeite te probeer praat en daaroor verleë te voel. Die onvermoë om duidelik te kommunikeer kan dan lei tot 'n verswakte gevoel van onafhanklikheid. Daaglikse takies soos inkopies doen of 'n besoek aan die dokter kan reuse-uitdagings word.

Die kontinuum van verlies gaan dikwels gepaard met 'n verskeidenheid emosies, soos angs en hulpeloosheid.

Hoewel spraakverlies in die eerste plek 'n taalversteuring is, kan sommige mense sekondêre kognitiewe uitdagings ervaar, soos probleme met geheue of aandag; dit is meer as 'n blote verlies aan woorde. Die toestand kan veroorsaak dat die lyer hul loopbaan moet prysgee, wat dikwels lei tot sosiale isolasie, een van die pynlikste emosionele gevolge van afasie.

In teenstelling met tradisionele verlies wat eindig met 'n duidelike afwesigheid, soos 'n sterfte, is die verlies met spraakverlies nimmer­eindigend. Dit beïnvloed die lyer se selfbeeld, verhoudings en daaglikse lewe, en dit bring 'n ander dimensie van verlies en rou na vore. Afasielyers en hul geliefdes rou nie net oor die verlies van die normale vermoë om te kommunikeer nie, maar moet ook leer om by 'n nuwe werklikheid aan te pas.

Deur lineêre modelle te verwerp, bied Boss ses nie-opeenvolgende riglyne vir ondersteuning: verkry betekenis uit verlies; gee die begeerte prys om 'n onbeheerbare situasie te probeer beheer; herskep jou identiteit ná verlies; raak gewoond aan ambivalente gevoelens; herbepaal jou verhouding met dit wat jy verloor het; en vind nuwe hoop. Soos genoem, vind hierdie prosesse nie die een ná die ander plaas nie - hulle gebeur eerder op 'n meer organiese wyse uniek aan elke persoon in ander volgordes en/of gelyklopend.

Die kern tot die proses om sin uit verlies te maak en om veerkragtigheid te behou, is die vermoë om hoop te behou, om 'n manier te vind om te verander en om 'n sinvolle verhaal te konstrueer.

Die taal van menswees: Hoop

Die onsekerheid en onvoorspelbaarheid wat met die verlies aan woorde gepaardgaan, is nie 'n onoorkombare hindernis nie. In die afwesigheid van woorde ontwikkel diegene wat met spraakverlies leef nuwe vorme van kommunikasie. Hulle steun op gebare, gesigsuitdrukkings en ander nieverbale leidrade om hul gedagtes en emosies oor te dra.

Tegnologiese ontwikkelings, soos toestelle vir aanvullende en alternatiewe kommunikasie, vul hierdie gaping aan. Dit gee mense met spraakverlies die geleentheid om hul "stemme" te laat hoor en laat hulle toe om op 'n alternatiewe, maar ewe betekenisvolle manier deel te neem aan die wêreld om hulle.

My eie blootstelling aan afasie het my 'n nuwe uitkyk gegee op die persoon wat lewenslank 'n held in my oë was, en steeds is. Die blik op sy kwesbaarheid het nie net sy aanpasbaarheid uitgelig nie, maar het ook die klem verskuif na die mens se inherente soeke na betekenis te midde van onvoorspelbare omstandighede. In die stille ruimtes wat deur afasie geskep word, is dit nie die woorde wat ons uitspreek wat ons bepaal nie, maar eerder hoe ons optree wanneer die woorde ontbreek. In daardie stil ruimtes tussen ons, ontstaan dikwels 'n vorm van empatie en begrip wat veel meer betekenis inhou as wat enige taal ooit kan verwoord.

In die woorde van die bekende neuroloog en skrywer Oliver Sacks: "We are all fragile in unexpected ways; it takes only a moment for a person's sense of normality to be irrevocably changed. Yet it is within our fragility that we can find lessons in mindfulness and gratitude."

  • Dr. Sulette Ferreira is 'n sosiaalwetenskaplike navorser en gesinsterapeut wat spesialiseer in berading betreffend "onuitgeklaarde" verlies. Sy dra die artikel op aan Hans en Sandra Haasbroek. Kontak haar by sulette.ferreira@gmail.com of besoek www.drsulette.com.
Sulette Ferreira

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM