En hoe jy die verouderingsproses aanvaar, hang alles af van die ingesteldheid en persoonlikheidstipe van die ouer persoon, sê Lydia Corbett, 'n geregistreerde maatskaplike werker in die Paarl.
Volgens Corbett is die persentasie persone wat nie die verouderingsproses met gelatenheid aanvaar nie, in die minderheid.
"Gewoonlik veroorsaak hul voortdurende negatiewe kommunikasie en negatiewe denke dat hulle hulself van vriende en familie isoleer. Hulle voel en reageer soos slagoffers van hul omstandighede en kry hulself uiters jammer.
"Dié gedrag vorm 'n bose kringloop waar kinders hulle van ouers distansieer vir eie oorlewing," sê sy.
Maar die grootste groep ouer persone aanvaar die verouderingsproses met 'n lied in die hart, volgens Corbett.
"Hulle ervaar die verouderingsproses as 'n nuwe reis met interessante uitdagings en geleenthede om hulself, die omgewing en hul naaste op 'n ander, rustiger manier te leer ken.
"Hierdie groep maak vriende, verkeer sosiaal, neem deel aan groepsaktiwiteite soos leeskringe, naaldwerkgroepe en uitstappies. Hulle gryp elke geleentheid aan om hulself ingelig te hou ten opsigte van elektroniese toerusting soos selfone en rekenaars.
"Sodoende bly hulle in verbinding met kinders en familielede wat oorsee woon en bly dus deel van die groter gemeenskap buite hul eie woonplek."
Die ervaring van geweldige verlies is die mees algemene kenmerk van veroudering, sê Corbett.
"Die aanvanklike verlies van status en inkomste by aftrede, later die verlies van gesondheid en mobiliteit wat lei tot die verlies aan jou jare lange woonplek, diere, nog later die verlies van bekendes en familie wat kan lei tot eensaamheid. Die somtotaal van die voorafgaande lei tot groter afhanklikheid van hulp. Die vooruitskouing van die verouderingsproses kan baie donker vir die gemoed wees.
"Hoe mense oor ouderdom dink, gaan bepaal watter effek dit op hulself, die mense om hulle en toekoms gaan hê. Om bekommerd, angstig en depressief te voel, is menslik en 'n natuurlike reaksie op onsekerhede of verlies-ervarings," verduidelik sy.
Volgens Corbett kan bejaardes se kinders baie min doen om die impak van veroudering op hul ouers te vergemaklik.
"Deur met geduld en begrip na hul ouers te luister en te reageer, hulle met deernis te hanteer, met 'n sagte hand en oor te begelei op die pad van ouer word, is die ideaal.
"Ouer persone se lewe is oor die algemeen rustiger en hulle leef teen 'n stadige pas. Kinders werk buitenshuis of tuis en versorg veeleisende gesinne.
"In so 'n woelige bestel voel ouer persone maklik verworpe en oorbodig. Dit is dus nodig wanneer ouer persone kom kuier daar spesiale tyd ingeruim moet word om rustiger kwaliteittyd met hulle deur te bring."
Maar daar is talle dinge wat bejaardes kan doen om die verouderingsproses te vergemaklik.
"Doen lekker dinge waarvan jy hou en belê in vriendskappe deur dinge saam met vriende of kennisse te doen. As jy saam dinge doen, keer dit die gevoel van alleenheid en hou jy jouself emosioneel gesond. Maak ook 'n lys van die dinge wat jy nog wil doen.
"Wees ook dankbaar vir wat jy steeds in jou omstandighede het en skryf dit daagliks neer."
GEBORG
Vacuhealth

Hoewel jou kanse om erektiele disfunksie te kr toeneem soos wat jy ouer word, kan ereksieprobleme mans van alle ouderdomme raak. Dit beteken egter nie die einde van jou manwees nie. Vacuhealth se Vacurect is die ideale oplossing vir ereksieprobleme. Die vakuum-ereksieapparaat werk deurdat 'n vakuum in 'n silinder geskep word wat bloed na die are in die penis trek en sodoende 'n erksie skep. Vacurect is 'n trots Suid-Afrikaanse produk, probeer dit gerus!
















