Wanneer die natuurlike lens in jou oog met ouderdom hard en vaal word, kan dit die ontstaan van katarakte veroorsaak en jou sig erg belemmer.
Dr. Frikkie Hartog, 'n oftalmoloog in Bellville, verduidelik wat 'n katarak behels en hoe om die probleem reg te stel.
Is die katarak 'n vlies wat oor die oog groei?
Weens blootstelling aan die son kan 'n membraan van die neus se kant af oor die oogoppervlak groei. Dit staan bekend as 'n pterigium.
'n Katarak is egter geleë agter die kleur van die oog. Die katarak ontstaan weens die natuurlike lens wat geleidelik harder word en verdof.
Is narkose nodig vir die prosedure?
Die dag van die prosedure kan jy ontbyt eet en al jou medikasie soos normaal neem. Die oog word verdoof met behulp van druppels en medikasie wat rondom die oog beweeg. Die gevolg is dat jy niks voel nie, maar ook nie veel sien tydens die prosedure nie.
Die pasiënt kan dus nie enige instrumente of beweging tydens die prosedure sien nie. Daar is wel 'n narkotiseur teenwoordig en hy of sy voorsien medikasie wat die pasiënt matig verdoof en gemaklik hou.
Is daar 'n sny en word steke ingesit?
Die prosedure word gedoen met 'n dun naaldjie wat deur 'n opening van 2 mm pas. Die opening word gemaak aan die kant van die oog waar die kleur oorgaan na die wit van die oog.
Die hele prosedure word deur die klein opening gedoen en dit seël aan die einde van die prosedure deur dit te swel met 'n bietjie vog. Daar is geen steke nodig nie.
Word die nuwe lens vasgewerk in die oog?
Die natuurlike lens bestaan uit 'n sentrale inhoud wat uit lae bestaan. Hierdie inhoud is omhul in 'n baie dun deurskynende kapsel. 'n Klein ronde opening van omtrent 5 mm word voor in hierdie kapsel gemaak en die harde inhoud verwyder met die naaldjie.
Die nuwe lens rol op om deur die klein opening van 2 mm te pas en ontvou binne in die kapsel wat nou leeg is.
Die lens pas akkuraat sentraal in die kapsel en die kapsel groei vas om die nuwe lens om dit in posisie te hou. Die nuwe lens pas dus doelgerig in die kapsel van die ou lens.
Bepaal my brilfout die sterkte van die nuwe lens?
Die doel van 'n katarakprosedure is tweeledig. 'n Nuwe kunsmatige lens vervang die natuurlike lens om die persoon se visie te herstel wat dof geword het, maar die nuwe lens help ook om 'n persoon meer brilonafhanklikheid te bied.
Die nuwe lens se krag word bereken deur sagteware met kunsmatige intelligensie nadat die oë akkuraat gemeet is met 'n laserapparaat. Al die segmente van elke oog word apart gemeet en hierdie mates word gebruik om te bereken wat elke oog spesifiek benodig om die visie te herstel.
Is al die lense wat ingeplant word dieselfde?
Daar bestaan verskillende tipes lense wat op verskillende maniere fokus. Die ideale lens vir 'n pasiënt word bepaal deur die behoeftes van die pasiënt, maar word ook beïnvloed deur die gesondheid van die oë.
Die primêre doel van die lens is om die brilfout van die pasiënt te verminder en die sekondêre doel is om op verskillende afstande te fokus. Daar bestaan enkelfokus-lense, verlengde-fokus-lense asook multifokale lense wat op drie plekke fokus.
Die multifokale lense en verlengde-fokus-lense se doel is om brilonafhanklikheid te bied.
Hoekom word so baie toetse gedoen vóór die katarakprosedure?
Daar is essensieel twee redes vir die toetse. Die eerste is om te bepaal dat daar nie enige siektetoestande teenwoordig is wat 'n persoon se visie nadelig beïnvloed nie. Sodoende word verseker dat die katarakprosedure 'n persoon se visie suksesvol sal herstel. Die tweede rede is om elke oog akkuraat te meet om die korrekte en toepaslike lens vir elke pasiënt te kan bepaal. Net soos 'n kamera gepaar word met 'n toepaslike lens, moet die toepaslike lens vir elke oog bepaal word.
GEBORG
Dr. Frikkie Hartog
Dr. Frikkie Hartog sê lense wat tydens katarakprosedure ingeplant word, kan help om brilonafhanklikheid te verseker. Maak gerus jou afspraak by 'n oftalmoloog.
















