In hierdie soort operasies word 'n persoon se natuurlike lens vervang deur 'n kunsmatige lens, wat gekies word volgens die persoon se oogtoestand, werksaamhede en behoeftes. Dr. Frikkie Hartog, 'n oftalmoloog in Bellville, verduidelik hoe lensvervanging mense se sig verbeter.
Waarom word 'n lensvervanging gedoen en hoe suksesvol is dit?
Soos mens ouer word vind daar veranderings plaas in die lens geleë agter die kleur van die oog. Die natuurlike lens is daarvoor verantwoordelik om inkomende lig skerp op die retina te fokus. Die lens is dus verantwoordelik vir skerp visie, maar sommige het natuurlik die hulp van 'n bril nodig.
Die natuurlike lens word geleidelik harder en dowwer soos mens ouer word.
Die gevolg is dat mens al hoe meer afhanklik van 'n bril word.
Mens se arm word letterlik te kort, aangesien die fokus van die oog al hoe verder uitskuif. Waar jy in jou veertigs 'n bril begin benodig net vir lees, word jy later ook afhanklik van 'n bril om op die rekenaar te werk en later selfs vir bestuur en TV kyk.
Hoe help 'n lensvervanging om bril dra te vermy?
Die natuurlike lens kan permanent vervang word met 'n kunsmatige lens wat kan help om jou minder afhanklik te maak van 'n bril vir alle afstande.
Daar is verskillende lens-ontwerpe wat almal daarop gemik is om skerp visie op verskillende afstande toe te laat. Die doel is om visie te herstel op drie afstande wat die meeste mense sal toelaat om sonder 'n bril te kan funksioneer. Die drie afstande is ver, intermediêr (bv. vir rekenaarwerk en koerant lees), asook naby vir lees.
Hoe weet mens watter lens die beste vir jou is?
Die lenstegnologie bestaan hoofsaaklik uit twee tipes tegnologie.
Die multifokale lense fokus op verskillende spesifieke afstande en die nuutste lense is ware trifokale lense wat fokus vir ver, intermediêr, asook naby.
Die ander lenstegnologie verleng die area wat in fokus is en deur die twee oë te balanseer kan 'n persoon op verskillende afstande funksioneer sonder die hulp van 'n bril.
Daar is baie faktore wat in ag geneem moet word wanneer 'n besluit gemaak word oor die beste lens vir 'n spesifieke individu. Die pasiënt se behoeftes, werk en stokperdjies moet natuurlik in ag geneem word. Dit is die oftalmoloog se werk om 'n pasiënt volledig in te lig en leiding te gee in die keuse.
Die lens wat ingeplant word, funksioneer permanent en hoef nooit weer vervang te word nie, gevolglik is die keuse baie belangrik.
Dit is belangrik om te besef dat nie alle pasiënte geskik is vir al die tipes lenstegnologie nie. Die gesondheid van die oë moet bevestig word tydens die oogondersoek en sistemiese siektes soos diabetes kan 'n invloed hê op die gesondheid van die oë.
Wat is die sukses van die lensvervanging?
Om sukses te verseker moet die pasiënt se brilfout hanteer word, en die lenstegnologie moet verder skerp visie op verskillende afstande toelaat. Indien die pasiënt aan die twee vereistes voldoen, sal 'n persoon beter funksioneer sonder die hulp van 'n bril of kontaklense.
Ná die lensinplanting kan tussen 72% en 95% van persone volkome sonder 'n bril funksioneer.
Die sukses word beïnvloed deur die tipe lens wat ingeplaas is, maar ook deur 'n pasiënt se spesifieke behoeftes. Indien 'n bril soms benodig word is dit gewoonlik om fyn skrif te kan lees wanneer die beligting swak is.
Die lense funksioneer natuurlik maksimaal indien die brilfout ook hanteer word.
Die sukses om die teiken te bereik is ongeveer 95% vir die meeste lense. Dié sukses is die gevolg van optimalisering van die uitkomste in sagteware wat kunsmatige intelligensie gebruik om die optimale lens vir elke spesifieke oog te voorspel. Die gebruik van lasertoerusting, wat elke oog akkuraat meet, en die nuutste sagtewareformules dra ook by tot die sukses.
Elke pasiënt het spesifieke verwagtings en behoeftes.
Dit is baie belangrik om die verskillende keuses met jou oftalmoloog te bespreek.
GEBORG

Dr. Frikkie Hartog sê die doel van 'n pasgemaakte lensvervanging is om jou sig te verbeter sodat jy meeste daaglikse take sonder 'n bril kan verrig. Vir meer inligting oor die prosedure of om 'n afspraak te maak, kontak gerus vir dr. Hartog.
















