Welstand

Dít is wat refraktiewe laserbehandeling behels

Laserbehandeling bied jou die oplossing om van jou bril en kontaklense ontslae te raak. Foto: ISTOCK
Laserbehandeling bied jou die oplossing om van jou bril en kontaklense ontslae te raak. Foto: ISTOCK

Is 'n bril of kontaklense die een ding wat tussen jou en 'n aktiewe leefstyl staan? Oorweeg dan gerus refraktiewe laserbehandeling om daarvan ontslae te raak.

Dr. Frikkie Hartog, 'n oftalmoloog in Bellville, verduidelik hoe die prosedure werk.

Wat is dit?

Verskeie soorte lasers word in oogheelkunde ingespan. Refraktiewe lasers word gebruik om 'n pasiënt se brilfout te behandel, met die gevolg dat hulle sonder die hulp van 'n bril of kontaklense oor die weg kan kom.

Hoe lank werk dit?

Die meeste brilfoute kan suksesvol met laser behandel word, maar die mees geskikte pasiënte is dié wat bysiende is.

Die laser verander die vorm van die kornea, die venster aan die voorkant van die oog, baie akkuraat.

Astigmatisme kan ook uiters akkuraat behandel word. Met astigmatisme is die kornea nie rond nie, maar stem die vorm meer ooreen met dié van 'n rugbybal.

Die laserbehandeling herstel jou vermoë om ver te kan sien. Om nader te kan sien, moet die lens van vorm verander. Hierdie akkomodatiewe uitwerking van die lens verander die fokus van ver na naby vir lees. Versiende persone maak gebruik van hierdie akkommodasie van die lens om 'n gedeelte van hul brilfout weg te steek. Die uitwerking van die oog se lens moet dus in ag geneem word wanneer 'n laserprosedure oorweeg word.

In jou veertigs begin die lens van jou oog harder word, en die gevolg is dat jou "arms te kort word" om gemaklik te kan lees. Dit staan bekend as disfunksionele lenssindroom.

Indien jy dus vroeër laserbehandeling ontvang het, sal jy nou begin sukkel om te lees sonder 'n bril. Dit is 'n progressiewe probleem waar jy al hoe meer afhanklik raak van 'n leesbril. Die laserbehandeling kan hierdie probleem ook aanspreek met 'n multifokale behandeling wat jou sal help om sonder hulp te lees.

Aangesien die lensverharding progressief is, sal laserbehandeling egter later nie meer toepaslik wees nie. 'n Lensgebaseerde prosedure is dan aangewese om brilonafhanklikheid te herstel, en dit bied 'n blywende oplossing.

Wat is die soorte laserbehandeling?

Daar is verskillende soorte laserbehandeling, wat beteken dat behandeling individueel aangepas kan word.

Doelgerigte laserbehandeling stel oogkundiges in staat om nie net die brilfout te behandel nie, maar ook ander tekortkominge, soos onreël­matighede wat uniek is tot elke oog.

Behandeling gegrond op die golffront, optimaliseer die fokus van die lig wat die oog binnegaan, met die gevolg dat al die lig tot 'n skerp fokus agter in die oog gebring word. Die uiteinde is dat jou sig moontlik beter kan wees as toe jy bril gedra het.

Topografies-gebaseerde behandeling is gegrond op akkurate mates wat die oppervlak van die oog meet en enige onreëlmatighede aanspreek. Net soos 'n geografiese kaart, word alle bulte glad gemaak om 'n gladde, reëlmatige kornea te skep wat die inkomende lig skerp fokus.

Die laserbehandeling kan ook op verskillende maniere gedoen word. Die besluit oor die optimale behandelingsmetode word bepaal deur 'n menigte faktore wat deur jou oftalmoloog geïdentifiseer word.

Die laserbehandeling word dikwels onder 'n dun flappie gedoen, 'n prosedure wat bekend staan as LASIK. Onder ander omstandighede word die behandeling op die oppervlak gedoen.

Wat is die voor- en nadele?

Die groot voordeel van 'n refraktiewe laserprosedure is die onafhanklikheid wat dit bied van 'n bril of kontaklense.

Die genesing vind baie vinnig plaas. Na 'n LASIK-prosedure kan jy binne 'n dag 'n groot verbetering in jou sig ervaar. Dit is verder ook pynloos.

Die feit dat jy na 'n hospitaal moet gaan vir 'n prosedure, kan vir sommige mense baie intimiderend wees. Die feit dat laserprosedures op gesonde oë gedoen word, is egter te danke aan die veiligheid van die prosedure.

Hoe verbeter dit jou leefstyl?

Kontaklense en brille het baie nadele en newe-effekte waarvan mense wat daarvan afhanklik is, deeglik bewus is.

Die feit dat jy afhanklik is van 'n hulpmiddel om al jou daaglikse take te verrig, is veral problematies onder sekere omstandighede.

Brille is ontoepaslik in swak weersomstandighede en vir aktiewe persone wat aan sport deelneem.

Kontaklense het baie voordele bo brille, maar hul sukses is natuurlik afhanklik van 'n gesonde oog wat byvoorbeeld nie tot droogheid geneig is nie. Van kardinale belang met kontaklense, is higiëne. Baie van die komplikasies geassosieer met kontaklense kan toegeskryf word aan onvoldoende skoonmaak en ontoepaslike gebruik.

'n Laserprosedure bevry jou nie net van al die nadele nie, maar die finansiële besparing oor jare se visuele vryheid is natuurlik ook waardevol.

GEBORG

Dr. Frikkie Hartog sê refraktiewe laserbehandeling word gebruik om jou brilfout te behandel en gee jou ook die keuse om ontslae te raak van jou bril of kontaklense. Vir meer inligting oor hierdie prosedure of om 'n afspraak te maak, tree gerus met dr. Hartog in verbinding.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM