
Ons kyk na drie mites oor immuniteit en of daar waarheid daarin steek.
Wanneer kinders in sand speel, versterk dit hul immuniteit
Sekere bakterieë, fungi, patogene en virusse waarmee kinders in aanraking kom, kan hul immuniteit verhoog, sê prof. William Horsnell, 'n immunoloog van Kaapstad. Die blootstelling kan beteken dat jou kinders later 'n laer risiko het om allergieë vir dié dinge te ontwikkel.
Maar daar moet 'n gesonde balans wees, sê prof. Gerhard Walzl, 'n biomedikus van Stellenbosch. As jou kind nooit aan kieme blootgestel word nie, sal hul immuunstelsel nie weet hoe om dit te beveg nie.
Maar as hulle te veel in kontak kom met die kieme, kan dit hul immuunstelsel oorweldig. Laat hulle buite speel, maar leer hulle om dinge wat erge kieme bevat te vermy, soos vuil water, dooie diere en mis.
Babas wat met 'n keisersnee gebore is, se immuunstelsel is swakker
Navorsing toon dat babas wat met 'n keisersnee in die wêreld gekom het, 'n verhoogde kans het vir 'n ongebalanseerde immuunreaksie, sê Gerhard. Dit gebeur omdat hulle nie aan die goeie bakterieë in die geboortekanaal blootgestel word nie. "'n Keisersnee is egter soms noodsaaklik om ma's en babas se lewe te red en beserings te voorkom."
Dr. Rust Theron van Kaapstad sê borsvoeding is 'n goeie bydrae vir hoe immuniteit van ma tot kind oorgedra word. Borsmelk is ryk aan teenliggame wat die baba nodig het.
Wanneer ek in die koue sit, sal ek siek word
Al het jou ma dit hoeveel keer vir jou gesê, is dit 'n mite, sê William. Kieme maak jou siek, nie koue nie. Verlengde blootstelling aan koue, ook oormatige hitte, plaas jou liggaam onder stres - en stres knou jou immuniteit. Wanneer dit koud is, bring ons ook meer tyd binnenshuis en in noue kontak met ander mense deur. Dit verhoog die kans dat jy kan aansteek by iemand wat siek is.



















