Welstand

Eet slim om migraines ore aan te sit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Migraine is meer as net ’n hoofpyn, en behandeling is dikwels kompleks. Voorkoming kan egter by jou dieet begin. Foto: iSTOCK
’n Migraine is meer as net ’n hoofpyn, en behandeling is dikwels kompleks. Voorkoming kan egter by jou dieet begin. Foto: iSTOCK

Gereelde migraines kan jou produktiwiteit en lewensgehalte kniehalter, maar daar is hoop, skryf Jandri Barnard, veral as jy met jou dieet begin.

Reeds voor die uitbreking van Covid-19 het meer as 39 miljoen mense in die Amerika mi­graine-aanvalle gekry, sê die Migraine Research Foundation. En met die resultate van die 2021 Everyday Health Survey, gepubliseer in die wetenskapvaktydskrif The Journal of Head­ache and Pain, was daar 'n aanduiding dat 33% van mense gediagnoseer met 'n migraine meer gesukkel het om dié toestand onder beheer te hou in die pandemie.

Migraine-episodes is langer en pynliker as slegs hoofpyn, wat ander fisieke simptome soos naarheid en braking, verandering in visie, uiterste sensitiwiteit vir lig, reuke en klanke, asook 'n tintelende gevoel in jou hande en voete kan insluit.

Dit kan gedeeltelik wees as gevolg van langer skermtyd met rekenaars en selfone - die helder, glansende lig is nie oog-vriendelik nie en kan maklik 'n migraine veroorsaak.

Migraine is die derde algemeenste mediese probleem ter wêreld en die sewende uitmergelendste mediese toestand.

Hierdie komplekse neurologiese siekte tas meer as 'n miljard mense oor die wêreld heen aan met verskeie impakte op sosio-ekonomiese gebied en word drie keer meer gediagnoseer by vroue as by mans. Dit is nie ouderdom-spesifiek nie en kom by sowel volwassenes as kinders voor. Dit is egter geneties en kom dikwels in families voor.

Die Nasionale Instituut vir Neurologiese Versteurings en Beroertes in die VSA reken dat sekere mense gebore word met 'n geneigdheid tot hipersensitiwiteit van die fyn senuwee-netwerk in die slagare se wande, wat reageer op 'n verskeidenheid prikkels. Met die vernouing van die are wanneer die senuwees oorreageer, word chemikalieë vrygestel wat lei tot inflammasie en pyn.

Ander moontlike oorsake van migraine-simptome kan voedsel- en chemiese sensitiwiteit wees. Chemikalieë in voedsel, soos tiramien, kan jou are se wande en die senuwees irriteer wat die are laat vernou, wat 'n migraine kan veroorsaak.

Wanneer is 'n hoofpyn 'n migraine?

'n Migraine is nie suiwer hoofpyn nie, maar die oorsake van 'n migraine sluit wel hoofpyn (gewoonlik aan albei kante van jou kop) in saam met ander simptome. Migraine-episodes is langer en pynliker as slegs hoofpyn, wat ander fisieke simptome soos naarheid en braking, verandering in visie, uiterste sensitiwiteit vir lig, reuke en klanke, asook 'n tintelende gevoel in jou hande en voete kan insluit.

Saam met hierdie simptome ondervind baie mense ook visuele versteurings wat insluit flikkers of ligflitse of geometriese ligpatrone en gekleurde en wit kolle in albei oë of soms slegs in een oog, wat dan as 'n retinale migraine beskryf word.

Om gediagnoseer te word as iemand met chroniese migraine, moet 'n persoon 15 of meer migraine-aanvalle kry in 'n maand oor 'n tydperk van minstens drie maande. Hierdie persone ervaar dan ernstiger migraines wat langer aanhou, al word behandeling toegepas.

Buiten dat Junie as bewusmakingsmaand oor migraines bekend is, staan 29 Julie as chroniese-migraine-bewustheidsdag bekend.

Wat veroorsaak 'n migraine?

Elkeen reageer verskillend, maar potensiële snellers sluit in:

  • Spanning en angstigheid;
  • Lae bloedsuiker - veroorsaak deur honger of die oorslaan van maaltye;
  • Hormonale veranderinge;
  • Die oorgebruik van sekere medikasies soos hormoonbehandelings, steroïede en pynverligters;
  • Slaap van swak gehalte soos slaaploosheid of slaap-apnee; en
  • Weersveranderinge.

Wat jy eet en drink kan ook 'n groot impak hê. Sekere bestanddele kan snellers wees, insluitende:

  • Nitraat-ryke kos (verwerkte vleis);
  • Geurversterkers soos mononatriumglutamaat (MSG) en kunsmatige versoeters, veral aspartaam en sukralose;
  • Tiramien, gevind in gefermenteerde kos, verouderde kaas, gerookte vis en vleis;
  • Fenieletielamien, 'n aminosuur gevind in sjokolade, neute, sitrusvrugte, kosse wat soja bevat, en asyn;
  • Kos en drank wat histamien bevat: alkohol, gefermenteerde kos, droë vrugte;
  • Gluten in bv. brood en pasta;
  • Suiwelprodukte; en
  • Kafeïen.

Help! Hoe word migraines behandel?

Oor-die-toonbank hoofpynmedikasies kan help om pyn te verlig, maar voorkom nie migraine-aanvalle nie.

Faaizah Laher, woordvoerder van die Vereniging vir Dieetkunde in Suid-Afrika (VDSA) en privaat praktiserende dieetkundige, moedig haar pasiënte aan om boek te hou van hul dieet en simptome om sneller-kosse te identifiseer wat moontlik migraines kan veroorsaak en dan uit te skakel. Die geïdentifiseerde kosse kan dan weer een vir een in die dieet ingesluit word, maar dis 'n stadige proses.

Migraine-aanvalle kan maklik terugkom ná drie dae van die inname van 'n spesifieke sneller-voedselsoort. Dis ook belangrik om die bron van enige spanning te identifiseer en onder beheer te bring.

Eet gereelde maaltye sodat jou bloed­suikervlakke nie wipplank ry deur die dag nie. Volgens Tabitha Hume, dieetkundige en woordvoerder van die VDSA, kan 'n persoon met terugslag-hipoglukemie (die skielike afname van bloedsuikervlakke nadat jy geëet het) gevolglik 'n vasovagale reaksie kry. Dit is wanneer daar 'n skielike daling in bloedsuikervlakke is, tesame met 'n vinnige toename in bloeddruk, wat dan 'n migraine tot gevolg het. Dus is gereelde etes wat uit lae-GI-koolhidrate bestaan, noodsaaklik, sê Tabitha.

Drink genoeg water deur die dag, al is dit winter, want dehidrasie is dikwels 'n prikkel vir 'n hoofpyn.

"Ek stel 'n gemiddelde hoeveelheid van 1,5 liter water per dag voor. Maar, wanneer jy reeds 'n migraine het, is dit te laat om te begin water drink," voeg sy by.

Ken jou snellers

Faaizah sowel as Tabitha stel voor om sneller-kosse soos sterkverouderde kaas, rooiwyn, gerookte vleis en vis, en sjokolade uit te skakel. Vermy verwerkte kosse met bygevoegde middels soos MSG, en versoeters of kleurmiddels wat 'n migraine kan veroorsaak.

Kafeïeninname moet beperk word tot 100 mg of een koppie per dag, wat koffie (gewone of kafeïenvry), tee (bevat steeds kafeïen), energiedrankies en sjokoladedrankies insluit.

Anél Kirsten van Paarl Dietitians gee vir pasiënte wat met migraines by haar praktyk aanklop Magnesium L-Threonate en omega-3 as aanvullings.

"Ek stel ook addisionele bloedtoetse voor aan my pasiënte wat ander onderliggende tekorte behandel soos vitamien D, sink, yster en B-vitamienes."

Hierdie individuele benadering het reeds gelei tot suksesvolle terugvoering van haar pasiënte. 'n Vitamien B3- (niasien) aanvulling van 100 tot 400 mg daagliks kan soms die aanval in die kiem smoor en selfs help voorkom.

Studies gepubliseer in 2020 in die American Journal of Emergency Medicine dui aan dat die inname van magnesium-ryke kosse, soos donkergroen blaargroentes, avokadopere en tuna die verligting van mi­graine-aanvalle voortbring, asook die inneem van magnesiumaanvullings.

Verhoogde inname van kosse ryk aan omega 3-vetsure sluit in vissoorte soos salm, makriel en tuna wat volgens navorsing geassosieer word met die voorkoming of vermindering van migraines.

  • Jandri Barnard is 'n geregistreerde dieetkundige.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM