Welstand

Erektiele disfunksie: Dis wat jy moet weet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Erektiele disfunksie (ED) is 'n algemene seksuele probleem wat onder mans voorkom.

Die meeste mans het af en toe erektiele probleme, maar wanneer erektiele disfunksie gereeld voorkom, kan dit aspekte van 'n persoon se lewe negatief beïnvloed.

Volgens dr. Prithy Ramlachan, 'n seksuoloog en voormalige president van The Southern African Sexual Health Association, is seksuele gesondheid deel van jou algehele gesondheid en het 'n impak op jou en jou verhouding.

"Navorsing het getoon dat seksualiteit vir baie mans en hul maats 'n belangrike en intrinsieke aspek van hul lewens bly, ongeag ouderdom of algemene gesondheid.

"As gevolg van die sensitiewe aard daarvan, word seksuele gesondheid selde deur gesondheidswerkers hanteer. Studies het getoon dat wanneer dit wel ter sprake kom, slegs ongeveer 16% behandel word. Seksuele disfunksie kan deur sowel mans as vroue ervaar word. Meer as 40% van vroue en 30% van mans rapporteer 'n mate van seksuele disfunksie.

"Erektiele disfunksie is 'n bekommernis vir mans sedert die begin van die gedokumenteerde geskiedenis. Dit beïnvloed alle mans ongeag klas, ras of sosiale struktuur. Indien erektiele disfunksie nie behandel word nie, kan dit lei tot beduidende en ernstige probleme vir jou, jou maat en jou verhouding. Individuele nood, verminderde selfbeeld, frustrasie, woede en hopeloosheid volg," sê dr. Ramlachan.

Kom erektiele disfunksie algemeen voor?

Erektiele disfunksie is 'n algemene siekte met 'n voorkoms wat wissel van 2% by mans in hul twintigs, tot meer as 80% by mans ouer as 75, aldus Ramlachan.

"Wêreldwyd het navorsing soos die Massachusetts- manlike verouderingstudie in 1994 'n hoë voorkoms van disfunksie getoon en 'n voorkoms van 150 miljoen wêreldwyd geraam.

"Teen 2025 word voorspel dat hierdie getal tot 322 miljoen mans sal styg. Binne Afrika is daar ongeveer 11,5 miljoen mans wat geraak word, terwyl studies in primêre sorg in KwaZulu-Natal 'n algehele voorkoms van 64,9% in 'n steekproef van mans van 18 en ouer getoon het. Van hierdie mans het 14,6% ligte, 19,9% matige en 30,4% ernstige erektiele disfunksie gerapporteer," sê Ramlachan.

"Erektiele disfunksie het toegeneem met ouderdom, en het 'n sterk korrelasie met ekonomiese status en komorbiditeite getoon. By mans wat klinieke vir primêre sorg in die Wes-Kaap bygewoon het, het meer as 70% 'n mate van erektiele disfunksie ervaar, met 45% wat matige of volledige disfunksie ervaar het.

"Volledige onvermoë om 'n ereksie te verkry en/of in stand te hou, kom voor by 1 uit 20 mans van 40 jaar, teenoor 1 uit 7 by mans van 70 jaar," voeg hy by.

Is daar 'n verband tussen erektiele disfunksie en kardiovaskulêre siektes?

Volgens Ramlachan deel erektiele disfunksie en kardiovaskulêre siektes groot risikofaktore insluitend ouderdom, onaktiwiteit, rook, vetsug, dislipidemie, depressie, hipertensie en diabetes mellitus en obstruktiewe slaap­apnee.

"Ander toestande wat met erektiele disfunksie voorkom, is MIV, hipogonadisme, metaboliese sindroom en goedaardige prostaat­hiperplasie met laer urienwegsimptome. Trouens, daar is getoon dat erektiele disfunksie 'n risikofaktor vir kardiovaskulêre siektes is. Gevolglik bied erektiele disfunksie die gesinspraktisyn 'n ideale geleentheid om jou vir gepaardgaande komorbiditeite te ondersoek," sê Ramlachan.

Erektiele probleme kom algemeen by mans voor.
Erektiele probleme kom algemeen by mans voor. (iStock)

Bestuur só jou ereksie­probleme

Die behandeling van erektiele disfunksie het die afgelope 40 jaar baie gevorder, meen Ramlachan. "Mans wat vandag met ereksieprobleme sukkel, kan baat vind by lewensvatbare opsies wat lei tot meer bevredigende seksuele lewens en ervarings. Dit is noodsaaklik dat jy jou gesinspraktisyn raadpleeg en 'n volledige assessering moet hê. Dit is ook belangrik dat jy jou maat by die besluitneming betrek.

"Die reis in die behandeling van erektiele disfunksie, ongeag ouderdom, is omvattend en kan die volgende insluit, soos berading, lewenstylverandering, sielkundige bestuur (kognitiewe en seksterapie), medikasie, inspuitings, vakuum-ereksie-apparate asook chirurgie (prostetiese penisinplantings en arteriële rekonstruksie)."

Volgens dr. Elna Rudolph, 'n seksuoloog en mediese dokter, is die PRP-behandeling (platelet-rich plasma) ook 'n manier om erektiele disfunksie te behandel.

"Dit is 'n nuwe behandelingsmodaliteit wat die gebruik van elemente uit 'n persoon se eie bloed behels om genesing te bevorder en sekere dele van die liggaam te verjong.

"PRP het gewild geword in seksuele medisyne, met wat bekend staan as die ‘O-skoot' of ‘P-skoot'. Hierdie ‘skote' word geadverteer om seksuele funksie te verbeter - om die penis groter en meer sensitief te maak en om die vroulike geslagsdele meer sensitief te maak en orgasme te versterk."

PRP is wyd nagevors en het bewys dat dit suksesvol is in die behandeling van die volgende toestande:

  • Inkontinensie;
  • Verminderde vaginale of penisgevoeligheid (met moeilikheid om orgasme te kry);
  • Erektiele disfunksie; en
  • Peyronie se siekte.

"Die risiko's verbonde aan PRP is minimaal. Dit word steeds gesien as 'n eksperimentele behandeling wanneer dit kom by seksuele gesondheidsverwante kwessies. Geen ernstige nadelige gebeurtenisse is in die literatuur aangemeld nie. Enige inspuiting kan bloeding en infeksie veroorsaak. Jy sal ná die prosedure waargeneem word vir bloeding en aangeraai word om enige tekens van infeksie aan te meld," aldus Rudolph.

ED se impak

Impak van ED op die man

  • Depressie en angs
  • Verminder selfvertroue en eiewaarde
  • Ontkenning of vermydingsgedrag
  • Verminderde manlikheid
  • Woede
  • Skuldgevoel
  • Gevoel van verleentheid

Impak van ED op die maat

  • Voel onbegeerlik
  • Verlies van selfbeeld
  • Ervaar gevoelens van verwerping
  • Voel verward en angstig
  • Skep vermoede van ontrouheid

GEBORG

VACUHEALTH

Erektiele disfunksie kan mans van alle ouderdomme beïnvloed. Dit beteken nie die einde van jou lewensmaat se manwees nie. As jy jou lewensmaat wil help, is dit belangrik om te verstaan waarom hy ereksieprobleme ervaar sodat jy hom kan ondersteun.

Vacuhealth se Vacurect is die ideale oplossing vir ereksieprobleme. Dié vakuum-ereksieapparaat werk deurdat 'n vakuum in 'n silinder geskep word wat bloed na die are in die penis trek sodoende ‘n ereksie te skep. Vacurect is 'n trotse Suid-Afrikaanse produk. Probeer dit gerus!

Gesond-Redaksie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM