Die besluit om gesonder te leef, fiks te word en gewig te verloor is 'n maklike een om te neem, maar nie altyd om deur te voer nie. Met ons Slanker met SARIE-aanlyn dieet- en oefenprogram gee ons jou die hulp wat jy nodig het.
Met die regte inligting en slim dink kan jy vinnige, gesonde peuselhappies met min kJ maak. Hier is een van 10 sulke happies net vir jou!
Springmielies met heuning-karamelkors vir ekstra vesel

4 porsies - 790 kJ per porsie
15 ml kanola-olie; 90 g (125 ml) springmielie-pitte; 30 ml bruinsuiker; 50 ml heuning; 30 ml water.
Verhit olie tot warm in groot pot, gooi mielie-pitte by en sit deksel bo-op tot pitte almal ontplof het. Verwyder van hitte. Plaas 'n skoon pan op medium hitte en sit res van bestanddele in. Roer tot gesmelt het en ligte karamel vorm, sowat5minute. Gooi bo-oor springmielies en meng deeglik. Laat afkoel.
Begin jou slanker-reis HIER
ONTHOU
Hoewel ons net die kilojoules (kJ) van die happies gee, het ons seker gemaak die kombinasie van koolhidrate en vet is ook gesond. Kos se uitwerking op jou liggaam word nie net gemeet aan die hoeveelheid kJ en of dit lae vet en lae GI is nie. Kyk liefs na die kombinasie van voedingstowwe en voeding-eienskappe en die gemeenskaplike uitwerking op jou gesondheid.
- 'n Gemiddelde onaktiewe vrou se kJ-behoefte per dag (nie vir gewigsverlies): 6 200 tot 8 000 (Mans: 9 600 tot 10 500)
- 'n Gemiddelde maaltyd is dus 1 550 tot 2 000 kJ (Mans: 2 400 tot 2 625)
- 'n Gemiddelde peusel-maaltyd moet 620 tot 1 200 kJ hê (Mans: 960 tot 1 575)
OM TE WEET
- Kies peuselhappies met min verfynde koolhidrate (soos witmeel en -suiker). Dus eerder vrugte as koekies, gekombineer met jogurt, neute, "gesonde" vette (soos olyfolie) en proteïene. Dit laat jou langer energiek voel.
- Neute en sade bevat proteïene, "gesonde" vette en baie voedingstowwe. 'n Hand vol per dag sal jou nie vet maak nie. Dit sal ook help dat jy minder honger voel.
- Hou die porsie van 'n soet happie klein. Eet stadig, dit het 'n positiewe uitwerking op jou bloedsuiker- en energievlakke.
- As jy jou gewig dophou, kies 'n happie wat nie net "leë" energie (sonder voedingswaarde) het nie (bv. koeldrank, suiglekkers), maar ook voedsaam is.
Deur Herman Lensing; foto's Donna Lewis; gesondheidswenke en feitelike versorging in samewerking met dieetkundige Mariza van Zyl.

Begin jou slanker-reis HIER
Of toets jou fiksheid HIER
Nog gesonde peuselhappies:
Laevet-hoemoes met tuinvars wortels
Olywe gemarineer in suurlemoen en kruie
Appelskywe gedoop in donkersjokolade met gekapte pistasieneute
















