Sukkel jy om te fokus op jou werk? Voel dit asof jou konsentrasievermoë verdwyn het en jy aan geheueverlies ly met al die aktiwiteite waarop jy moet konsentreer tussendeur alledaagse stres?
Die jaar hardloop reeds weg met ons vol daaglikse aktiwiteite wat dit moeiliker maak om te fokus.
Dis wel kritiek om konsentrasievermoë te hê om nuwe take aan te leer en doelwitte te bereik, want sonder die regte fokus kan dit die verskil tussen sukses of mislukking beteken, sê Jandri Barnard, 'n geregistreerde dieetkundige van Newcastle in KwaZulu-Natal.
Om beter te fokus, het jy nodig om gehidreer te wees (genoeg water inneem) en die regte nutriënte in jou dieet in te sluit.
"Wanneer jy honger voel of gedehidreer is, kan dit lei tot hoofpyn, moegheid en breinwasigheid ("brain fog"). 'n Gesonde dieet speel 'n belangrike rol om jou konsentrasievlakke te verbeter, want sekere kosse kan veroorsaak dat jy nie energie het nie en tam voel - en gevolglik kan dit veroorsaak dat jy sukkel om sekere take te onthou en eenvoudige besluite te maak.
"Daaglikse oefening gee jou energie, wat dan weer veroorsaak dat jy makliker kan fokus op take, tesame met meditasie en ander lewenstylveranderings wat stres verminder en sodoende 'n verskil kan maak in jou lewensgehalte," voeg sy by.
Smul gerus aan dié kosse vir 'n energiehupstoot
- Bloubessies: Hierdie diep pers bessies is propvol antioksidante en anti-inflammatoriese eienskappe, vesel asook vitamien C en vita- mien K met 'n lae GI. Navorsing dui ook aan dat polifenoliese komponente help om jou te beskerm teen neurodegeneratiewe versteurings en kan sodoende jou konsentrasie en fokus verbeter. Eet bloubessies vars of maak 'n vinnige ontbyt daarvan saam met hawermout en jogurt in 'n vrugteskommel.
- Eiers bevat cholien, 'n nutriënt bekend daarvoor om inflammasie en kognitiewe afname in die liggaam te verminder. Verder bevat eiers triptofaan, wat serotonien in die liggaam produseer wat jou gemoedstoestand kan verbeter sowel as jou slaapskedule help normaliseer.
- Vis, of meer spesifiek vetterige vis soos tuna, salm, forel en sardiens wat hoog is in omega 3-vetsure en dokosaheksaeensuur wat bydrae tot verbeterde konsentrasie.
- Avokadopere is ryk aan die fitochemiese luteïen - verwant aan betakaroteen en vitamien A, wat in die oog en brein gevind word vir verbeterde funksie. Volgens 'n studie gepubliseer in die vaktydskrif Nutrients het die inname van een avokadopeer daagliks by volwassenes verbeterde breinfunksie en konsentrasie teweeggebring oor 'n tydperk van ses maande.
- Tamaties is volgestop met verskeie antioksidante of likopeen, vitamien A en vitamien C, maar onthou om die velletjie aan te hou, want die meeste nutriënte word daar aangetref - of dit vars óf geblik is.
- Groen blaargroente soos blaarslaai, spinasie en broccoli se inname word geassosieer met die verlaging in kognitiewe afname omdat dit ryk is aan vitamien K, luteïen, filokinone en nitrate, karotenoïede en foliensuur.
- Koffie gee jou nie slegs 'n daaglikse energiehupstoot in die vorm van kafeïen nie, maar volgens navorsing by die John Hopkins-Universiteit in die VSA kan kafeïen-inname jou geheue verbeter en help om aansienlik beter op 'n taak te kan fokus.
- Ander leefstylfaktore wat kan bydra tot beter fokus en konsentrasie is goeie slaappatrone, meditasie, minder skermtyd en neem gereeld 'n ruskans gedurende jou werksdag.
Dié kosse belemmer fokus en konsentrasie
- Drankies wat hoog in suiker is, bevat min nutriënte en stoot jou bloedsuikervlakke vinnig op. Dit verhoog die risiko vir diabetes, hartsiektes asook vetsug. Drink eerder rooibos- of groentee, ongegeurde sodawater of water wat met vrugte gegeur is.
- Verfynde koolhidrate soos witbrood, pasta, soetgoed en wit kraakbeskuitjies moet vermy en vervang word met volgraankoolhidrate wat help om jou bloedsuikervlakke meer stabiel te hou om sodoende jou fokus en konsentrasie te verbeter.
- Geprosesseerde kosse wat gewoonlik 'n hoë inhoud van bygevoegde suiker, sout en preserveermiddels bevat, het almal 'n negatiewe invloed op jou vermoë om te fokus, volgens navorsingstudies.
- Oormatige alkoholgebruik word geassosieer met veranderings in breinvolume en metabolisme sowel as veranderde funksies van neuro-oordraers wat jou slaappatrone kan beïnvloed en gevolglik moegheid en swak konsentrasie veroorsaak.
GEBORG
Neurexan®

Verminder spanning, verbeter fokus.
Jou vermoë om aandag te skenk en te fokus is 'n belangrike breinfunksie. Konsentrasie en fokus kan belemmer word deur stres. Neurexan® is 'n toonaangewende Duitse produk wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is. Neurexan® het ‘n stres-verligtende uitwerking en daar is bewys dat Neurexan® die vatbaarheid vir afleiding verminder en fokus verbeter. Neurexan® is beskikbaar in apteke, waar natuurlike produkte gehou word, sonder 'n voorskrif en is veilig vir alle ouderdomme.
















