Welstand

Hoë bloeddruk: Tyd vir ’n regruk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Los die rookgoed en beperk jou alkoholinname om jou risiko vir hoë bloeddruk wesenlik te verlaag. Foto’s: iStock
Los die rookgoed en beperk jou alkoholinname om jou risiko vir hoë bloeddruk wesenlik te verlaag. Foto’s: iStock

Baie mense leef met hoë bloeddruk, maar is salig onbewus daarvan tot 'n gesondheidskrisis soos 'n beroerte hulle tref, skryf Jandri Barnard.

Tot 2,5 miljoen mense sterf jaarliks aan hartsiektes en beroertes weens ongediagnoseerde hoë bloeddruk.

Dáárom probeer die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bewusmaking oor dié dodelike toestand verbeter.

Hoë bloeddruk, oftewel hipertensie, staan ook bekend as die "stille sluipmoordenaar" Dít omdat die simptome as algemeen bestempel kan word en die diagnose dikwels eers kom nadat die pasiënt kardiovaskulêre komplikasies of 'n beroerte gekry het.

—  dr. Leonard Steingo, 'n kardioloog by Mediclinic Morningside

Een uit elke vier mans en een uit elke vyf vroue het hoë bloeddruk, aldus die WGO. In Suid-Afrika lyk die prentjie selfs slegter met tot 30% van mense wat aan hoë bloeddruk ly.

Hoë bloeddruk, oftewel hipertensie, staan ook bekend as die "stille sluipmoordenaar", sê dr. Leonard Steingo, 'n kardioloog by Mediclinic Morningside.

Dít omdat die simptome as algemeen bestempel kan word en die diagnose dikwels eers kom nadat die pasiënt kardiovaskulêre komplikasies of 'n beroerte gekry het.

Leefstyl én gene

Die primêre oorsake is geneties ('n familiegeskiedenis van hipertensie) en leefstylverwant ('n ongesonde dieet, vetsug, lae aktiwiteitsvlakke en verhoogde stresvlakke).

Mense wat baie sout eet - meer as 'n teelepel sout per dag - stel hulself ook hieraan bloot.

Onder die vernaamste simptome van hipertensie is 'n aanhoudende hoofpyn, hartkloppings, onverklaarbare neusbloeding, moegheid en duiseligheid­, buitengewoon erge sweet, angsaanvalle en borspyn, indien jy dit reeds kronies op lang termyn ervaar.

By Steingo se praktyk vind hy selfs jong volwassenes in hul twintigerjare met hoë bloeddruk.

Dit kom egter meer algemeen voor onder mans ná hul veertigerjare en vroue vanaf menopouse.

Langtermynkomplikasies van hoë bloeddruk behels die volgende: kardiovaskulêre siektes soos hartversaking, beroerte of bloedsomloopprobleme wat jou sig kan belemmer met skade aan jou oë, asook nierversaking.

Laat jouself toets

Dit is belangrik om jou bloeddruk gereeld te laat monitor by 'n kliniek of tydens 'n algemene doktersbesoek, sê dr. Morné Strydom, algemene praktisyn by Intercare Morningside.

Hy benadruk dat dit belangrik is om jou bloeddruktelling korrek te interpreteer.

Bloeddruktelling word aangedui met die boonste sistoliese bloeddruktelling (met verwysing na die druk in jou are wanneer jou hart klop) en onderste diastoliese bloeddruktelling (verwys na die druk tydens jou hart se ruspouse tussen elke hartklop).

Dit word gelees as sistoliese telling oor diastoliese telling met die normaal 120/80 mm Hg.

'n Lesing hoër as 135/85 mm Hg word as hoog beskou en 'n dokter sal hipertensie diagnoseer as 'n persoon oor meer as twee dae 'n telling bo 140/90 mm Hg het.

Los die soutpot en gebruik kruie en speserye soos mosterdpoeier, peper, lourierblare, kerrie, knoffel, masala en kaneel om jou kos mee te geur.
Los die soutpot en gebruik kruie en speserye soos mosterdpoeier, peper, lourierblare, kerrie, knoffel, masala en kaneel om jou kos mee te geur.

Slaan hoë bloeddruk hok

Dieetkundiges by die Vereniging vir Dieetkunde in Suid-Afrika (Adsa) beveel die volgende leefstylveranderinge aan om jou risiko te verlaag:

Verloor gewig indien jy reeds oorgewig is, want oortollige gewig plaas ekstra druk op jou hart. Gewigsverlies is die doeltreffendste metode om jou bloeddruk te verlaag en die invloed van bloeddruk-verlagende medikasie te verhoog.

Beweeg meer en verbeter jou fiksheid. Net 30 tot 45 minute se matige oefening (stap, fietsry, swem of huiswerk) vier keer per week kan jou hart-fiksheid help verbeter.

Beperk jou alkoholinname, want dit kan jou bloeddruk verhoog omdat jou hart se pomp-aksievermoë verlaag word. Dit kan ook die doeltreffendheid belemmer van medikasie wat jou bloeddruk verlaag.

Staak die rookgewoonte. Hou op rook of damp­rook, want dit tel onder die vernaamste risikofaktore vir kardiovaskulêre siektes.

Pas jou daaglikse eetgewoontes aan deur die DASH-dieet (Dietary Approaches to Stop Hypertension). Dit is ontwikkel om jou bloeddruk te help verlaag en bestaan uit: 6-8 porsies volgraan­stysel, 4-5 porsies vars groente en vrugte, 2-3 porsies laevet-suiwelprodukte en 'n maksimum van 6 porsies maer proteïene per dag.

Dit voorsien vir 4-5 porsies neute en sade per week en met 'n beperking op versadigde vette en suikers.

Meer omega-3-vetsure dra by tot die verlaging van jou bloeddruk. Voeg olierige vis soos tuna, sardiens, salm of forel twee keer per week by jou dieet. Lynsaad is 'n goeie keuse vir vegetariërs.

Beperk jou soutinname. Sit minder by in die kospotte en aan tafel. Sout gee geur en dien as preserveermiddel. Volgens die Amerikaanse Hartvereniging is tot 75% van die sout wat mense inneem "versteek" in verpakte, geblikte of verwerkte kosse.

Produkte soos soppoeiers, vleis- of groenteaftreksels en gemakskosse bevat baie sout.

Volgens die Suid-Afrikaanse Hartvereniging veroorsaak dit dat Suid-Afrikaners meer as dubbel die aanbevole hoeveelheid sout per dag inneem.

Kyk dus na voedseletikette en maak seker dat die produk 'n natriuminhoud van <140 mg per 100 g bevat.

Verhoog jou kaliuminname. Sitrusvrugte en -sappe van lemoene, nartjies en pomelo's is hoog in kalium.

Dit geld ook droë vrugte, piesangs, druiwe, spanspek, perskes, mango, papaja, appelkose, waatlemoen, avokado en tamaties. Volgraanprodukte, droë bone, aartappels, patats, spinasie, wortels en pampoen kan ook op jou daaglikse spyskaart wees.

Verhoog jou kalsiuminname. Dit bevorder die senuweegeleiding in jou liggaam wat jou hartspier se funksie reguleer. Hiervoor moet jy laevet-suiwelprodukte, blikkies of vars vis en groen blaargroente soos spinasie in jou dieet hê.

Verhoog jou magnesiuminname om te verhoed dat jou are verhard en sodoende die risiko te verminder om hartsiektes te ontwikkel. Eet sade, neute, droë bone, volgraan-ontbytpappe, laevet-suiwelprodukte en groen blaargroente.

Alternatiewe geurmiddels kan jou kos opkikker sonder dat jy na die soutpot gryp.

Geur rooivleis en hoender met lourierblare, kerriepoeier, masala, kaneel, knoffel, gemmer, suurlemoensap, neutmuskaat, mosterdpoeier, mentblare, gerookte paprika, roosmaryn en tiemie.

Groente kan 'n geurige hupstoot kry met suurlemoensap, knoffel, sesamsaad, neutmuskaat, peper sowel as 'n mengsel van vars tamatie en uie.

Uie, borrie, kaneel, neutmuskaat, mosterdpoeier en tiemie kan ekstra smaak gee aan stysels.

  • Jandri Barnard is 'n geregistreerde dieetkundige.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM