In September in Suid-Afrika word bewusmaking geskep rondom hartgesondheid, wat met Wêreldhartgesondheidsdag op 29 September veral aandag geniet.
Die menslike hart pomp gemiddeld 90 000 keer per dag. Sowat een uit vyf sterftes kan egter aan hartsiektes toegeskryf, sê die Hart-en-beroertestigting van Suid-Afrika.
Hartsiektes ontwikkel dikwels mettertyd ongemerk en sonder definitiewe simptome - totdat die persoon die dag 'n hartaanval kry. Maar met 'n gesonde leefstyl en gereelde mediese konsultasies kan jy jou kardiovaskulêre gesondheid beheer en verbeter.
Byna 80% van hartsiektes wat voor die ouderdom van 65 jaar by mans en vroue gediagnoseer word, sou voorkom kon word.
Verander leefstyl só om risiko's te verminder
- Verloor gewig: Addisionele gewig plaas ekstra druk op jou hart.
- Gewigsverlies is die doeltreffendste manier om jou bloeddruk te verlaag sonder dat jy medikasie hoef te gebruik, en om jou risiko vir ander lewenstylsiektes soos diabetes te verlaag.
- Oefen meer: Gereelde oefening kan jou hart se fiksheid help verbeter en tot gewigsverlies bydra.
- Probeer om minstens vier keer per week vir 30 tot 45minute te oefen deur te stap, draf, fietsry, swem of dans.
- Drink minder alkohol: Alkohol kan jou bloeddruk verhoog en jou hart se pompvermoë verminder.
- Hou op rook: Rook vererger die risiko vir kardiovaskulêre siektes.
Met die ongesonde leefstyl van die meeste Suid-Afrikaners het twee uit vyf Suid-Afrikaners hoë bloeddruk, twee uit elke drie vroue is oorgewig, 'n derde van mans rook en byna die helfte van die bevolking is onfiks.
Hartaanvalle kan natuurlik wel in sommige gevalle weens geneties oorerflike hartsiektes voorkom, of as 'n gevolg van 'n infeksie.
Die goeie nuus is dat tot 80% van die gevalle van hartsiektes en beroertes wat voor die ouderdom van 70 by mense gediagnoseer word, deur 'n gesonde leefstyl en die korrekte behandeling van hoë bloeddruk (hipertensie), hoë cholesterolvlakke en diabetes verhinder kan word.
Wanneer hipertensie nie behandel word nie, kan dit tot 'n hartaanval, beroerte, skade aan jou sig, nierversaking of sirkulasieprobleme lei.
Dus moet jy gereeld by 'n mediese praktisyn of jou kliniek aanklop om jou hartgesondheid behoorlik te bestuur, veral as jy gereeld van die volgende simptome kry: hoofpyne, hartkloppings, moegheid, duiseligheid, naarheid, oormatige sweet of dowwe visie.
Pas jou dieet aan vir beter hartgesondheid
- Eet minder sout: Voeg minder sout by jou kos in die voorbereiding daarvan en aan tafel. Vermy verwerkte kosse met 'n hoë soutinhoud. Lees voedseletikette. Die sout- of natriuminhoud moet minder as 140 mg per 100 g wees.
- Eet minder versadigde vette: Verruil volroom-suiwelprodukte (roomys, melk, kaas, jogurt, maas) en vetterige en verwerkte vleise vir laervet- of afgeroomde suiwelprodukte of laevet-diereproteïen soos hoenderborsies sonder die vel of gestoomde visfilette.
- Verhoog jou inname van omega-3-vetsure: Dit is doeltreffend in die verlaging van hipertensie sowel as cholesterolvlakke. Dit sluit in vetterige vis soos tuna, sardyne (pilchards), sardiens, snoek, makriel of salm een of twee keer per week.
- Vir vegetariërs is droë bone sowel as donkergroen groentes en avokado's bronne van omega-3- vetsure.
- Gebruik laevet-gaarmaakmetodes: Rooster, bak (in oond sonder olie), stoom, roerbraai of lugbraai jou kos om jou totale vetinname te verminder.
- Verhoog jou kalium-inname: Dit help om jou bloeddruk te verlaag deur daagliks drie verskillende vrugte en twee groentes by jou dieet in te sluit. Ander bronne ryk aan kalium sluit in sitrusvrugte, droëvrugte, piesangs, druiwe, spanspek, perskes, mango, papaja, waatlemoen, tamaties, patats, spinasie, wortels, pampoen en avokado's.
- Verhoog jou kalsiuminname: Dit verbeter senuwee-oordrag en die regulering van jou hartspierfunksie. Suiwelprodukte soos kaas, melk en jogurt, geblikte of vars vis soos salm en sardyne, of donker blaargroentes soos spinasie is goeie bronne van kalsium.
- Kry meer magnesium in: Dit speel 'n rol in die voorkoming van die verharding van jou are om sodoende jou risiko te verlaag om kardiovaskulêre siektes te ontwikkel.
- Verhoog jou inname van oplosbare vesel: Dit is hoofsaaklik in hawermoutpap, droë of geblikte boontjies en lensies of vrugte en groente wat 'n jel vorm in jou spysverteringskanaal om aan cholesterol te bind en dit uit te skei.
- Verhoog jou inname van anti-oksidantvitamiene: Dit beskerm jou bloedvate teen die skade van rook, oksidasie en veroudering. Bronne van vitamien A is perskes, appelkose, wortels, pampoen, spinasie en broccoli; bronne van vitamien C is sitrusvrugte, koejawels, kiwivrugte en tamaties; en vitamien E is volgrane, ongesoute neute, sade en groen blaargroentes.
- Barnard is 'n geregistreerde dieetkundige van Newcastle in KZN.
GEBORG
Vacuhealth

Afgesien van faktore soos veroudering, oorgewig, dwelm- of drankmisbruik, kan fisieke faktore soos diabetes, verhoogde cholesterol en hartvatsiektes ook aanleiding gee tot ereksieprobleme. Dit is belangrik om eers 'n gesondheidsverskaffer te raadpleeg om die mees geskikte behandeling vir ED te bepaal, veral as dit verband hou met kardiovaskulêre gesondheid. Hulle kan leiding bied oor of 'n toestel soos die Vacurect geskik is gegrond op individuele gesondheidstoestande en behoeftes. Terwyl die Vacurect van Vacuhealth 'n doeltreffende hulpmiddel kan wees om ED te bestuur, veral wanneer dit gekoppel is aan kardiovaskulêre probleme, is dit van kardinale belang om die simptoom (ED) én die onderliggende oorsaak (hartgesondheid) met die hulp van mediese kundiges aan te spreek.
Hierdie toestel kan met vertroue vir ereksieprobleme en penisrehabilitasie gebruik word, het selde newe-effekte en is die mins ingrypende behandeling wat tans beskikbaar is. Vir meer inligting, skakel gerus 072 688 0795.















