Met 'n nimmereindigende lysie van dinge wat gedoen moet word, is die versoeking groot om dwarsdeur jou etensuur te werk, maar dis regtig nie goed vir jou welstand nie. 'n Ruskans sal jou help om beter te fokus en uitbranding voorkom.
Maar dan help dit nie jy verwyl 'n uur op sosiale media of sit agter jou lessenaar en eet jou toebroodjie terwyl jy tussendeur nog werk probeer afhandel nie.
Hier is 'n paar maniere hoe jy jou etensuur sinvol kan benut:
- Gaan vir 'n stappie. Moenie jou etenstyd agter jou lessenaar deurbring nie. Gaan stap 'n vinnige entjie, selfs al is dit net in die parkeerterrein van jou werksplek, in die tuin indien jy van die huis af werk of om die blok. Dit sal jou energievlakke sommer vinnig 'n hupstootjie gee.
- Word vir 'n uur stil in die oomblik. Gebruik die tyd vir meditasie, asemhalingsoefeninge of om jou middagete aandagtig te eet sonder dat jou aandag deur enigiets anders afgetrek word. Dit sal jou anker en meer verfris laat voel.
- As jy bevoorreg genoeg is om toegang te hê tot 'n mooi park of tuin, oorweeg dit om jou etenstyd in die natuur deur te bring. Sit onder 'n boom of hou 'n middagete-piekniek op die grasperk. En waag dit ook 'n bietjie in die son. Dit sal jou spanning verlig en jou bui verbeter.
- Gebruik die uur om iets nuuts te leer. Doen 'n aanlyn kursus of luister na 'n interessante podsending. As jy byvoorbeeld meer oor troeteldiere wil leer, kan jy Pawpedia besoek, 'n webwerf met gratis kortkursusse oor onderwerpe soos waarom honde aggressief raak (en wat om daaromtrent te doen) en hoe om dit te hanteer as katte (ook in dieselfde huishouding) met mekaar baklei. Die kursusmateriaal kan uitgedruk word en daar is ook podsendings, video's en infografika. 'n Mens is mos nooit te oud om te leer nie!
- Sit jou etensuur opsy om te lees. Of dit nou 'n tydskrif, koerant, 'n boek of artikels is waarby jy nie andersins uitkom nie - 'n uur se lees is 'n wonderlike manier om te ontspan. Maar probeer om nie by jou lessenaar te sit en lees nie, want dan is die versoeking altyd daar om "net vinnig" nog 'n stukkie werk gedoen te kry.
Jou etenstyd is 'n uitstekende kans vir jou om na jou welstand om te sien sodat jy agterna verfris en energiek kan terugkeer na jou werk - gereed om die res van die dag se uitdagings te hanteer. - Besoek www.pawpedia.co.za vir meer inligting.














