Welstand

Konyne verdien ook 2de kans

Die boeties is gebore op die strate van Johannesburg. Hul ouers, eens geliefde troeteldiere gewoond aan sagte kombersies en vars kruie, is "vrygelaat", of eerder weggegooi in 'n plaaslike park.

Frederik en Wilhelm, die weggooikonyne.Foto: Reney Warrington
Frederik en Wilhelm, die weggooikonyne.Foto: Reney Warrington

Ek red vir Frederik en Wilhelm op die jong ouderdom van twee maande by 'n chop shop waar hulle rondhop tussen Mercedes-wrakke en swart enjinolie wat die motordiewe op die grasperk uitgetap het.

Ek is een van sewe (vroulike) vrywilligers wat op 'n Sondagmiddag die broers en hul uitgebreide familie hier loop vang het. Die eienaars het beplan om hulle in draadhokke te sit en te teel vir vleis.

Die broers is saam met my huis toe as "pleegkinders". Ek moes hulle mak maak, dit sal hul kans op aanneming verbeter. Hul aankoms het ook my kans op 'n egskeiding vergroot. My vrou, Hannelie, is immuun teen 'n konyn se sjarme. Nietemin ignoreer ek die moontlike dagvaarding en druk deur.

Sowat drie weke ná hul aankoms pak Hannelie se gewoonlik perfekte rug op.

'n Uur voor haar fisio-afspraak, lê sy plat op haar maag in die wintersonnetjie op die geweefde Griekse wolmat op ons slaapkamervloer.

Dit is die enigste posisie wat sy kan verduur. Kort voor lank word sy wakker - Frederik het teenaan haar rug kom inkruip. Vir 'n halfuur hou hy rugwerwels L4 en L5 warm. Nege uur daardie aand rol hulle Hannelie teater toe vir 'n noodoperasie op rugwerwels L4 en L5. Haar lewe is in gevaar en sy kan vir die res van haar lewe verlam wees.

Ek stap net voor middernag by die huis in. Die twee konyne sit kiertsregop in die sitkamer. Hul vaste roetine van aandete teen vyfuur, gordyne toe en ligte aan is versteur. Hulle bly onder my voete tot ek ses uur later 'n oproep uit die teater ontvang. Hannelie leef. Sy is ook nie 'n parapleeg nie.

Saterdagoggend bring ek haar huis toe. Vir die eerste twee weke van haar herstel benader hulle haar asof sy van die fynste porselein gemaak is. Die pleegkinders word aanneemkinders.

Die maklike

Stadig maar seker skemer hul persoonlikhede deur. Wilhelm is ernstig, teruggetrokke. Hy hop net op matte. As hy die houtvloer móét aandurf, skuur hy al langs die muur af. Frederik is 'n ekstrovert. Hy skuur die vertrek binne, met of sonder matte, en gooi sy agterstewe heen en weer soos hy weghardloop - alles vir die show.

Ons leer hul lyftaal ken. Durf jy 'n appel eet sonder om te deel, word jy die rug gedraai. Jy word wel oor die skouer dopgehou om te sien of die appel werklik klaar is. Wanneer jy sê "klaar", skop hulle terug met die weghardloop. In die natuur sou jy 'n gesig vol modder en gras gekry het.

Wanneer hulle hul voete stamp, is hulle werklik kwaad en dan moet jy begin soebat. Die wrok teen jou kan maande lank aanhou.

Maar wanneer hulle opgewonde of bly is, is die tweetjies pure pronkertjies. Daar is die "Springmielie", waar hulle op een plek staan en in die lug skiet - soos springmieliekorrels in 'n vuurwarm pot.

Die "Mexican Wave" - Wilhelm se hele lyf is in die lug en dan trek daar 'n rilling van een kant af deur, want hy het die hawermout gewaar. Die "Charlie Chaplin", waar Frederik, nes die stilrolprentster, sy boudjies potsierlik links of regs swaai en opskop met die agterbeentjies.

Jy kan ook baie lees in hul manier van lê. "Die Brood" - hulle lê, maar met al vier bene onder hul lyfies, indien hulle moet snol. "Die Lamstjop" - voorpote is nog reg vir snol, maar die agterpote is uitgestrek en reg vir 'n middagslapie. Die "Dead Bunny" - hulle lê plat op hul sy met al vier bene uitgestrek na voor. Soms is hul oë oop, vandaar die naam. Dit is vreesaanjaend om die vertrek binne te stap en hulle so te sien lê. Dit beteken wel hulle is nou so ontspanne dat hulle hul pensies, hul mees weerlose kant, vir die wêreld kan wys. 'n Mens raak skoon emosioneel.

Konyne is nuuskierig en klim oral waar hulle wil. Hulle ken hul name en sekere woorde - hoofsaaklik "kos", "klaar", en "nee."

Hul stapelvoedsel, hooi, is genadiglik goedkoop. Nes kinders hou hulle ook van 'n vaste roetine. As jy gewoonlik 06:00 kos gee, sal hulle jou 06:05 wakker maak deur hul voete te stamp of hul kosbakke rond te gooi.

Uitdagings

Dis nie altyd maneskyn en rose nie.

Frederik kies vir Hannelie as syne, Wilhelm kies vir my. Ons dink eers dis vrek oulik. Wanneer ek werk, lê Wilhelm by my voete. As hy ekstra aandag soek, druk hy sy neusie teen my bene. Gelukkig werk ek van die huis af, so ek kan genoeg vryfies uitdeel. Hannelie, 'n kunstenaar, moet elke dag studio toe gaan. Frederik se vloermoere manifesteer in vernielsug. Hy kou al haar plakkies stukkend, nét hare en meestal die linker-een. Ons leer vinnig om meer aandag te gee en ons skoene weg te sit.

Dit bly egter nie by Hannelie se plakkies nie. Vyftien minute voor 'n groot Springbok-rugby­wedstryd kom ons agter die 30 m lange HDMI-kabel is morsaf gekou. Deur die maande bly die kabels van bedlampies, verlengings, luidsprekers, selfoonlaaiers en modems in die slag. Ons leer vinnig om die kabels buite bereik van die boeties te sit, of ons maak dit konynbestand met 'n plastiekomhulsel.

Houtmeubels word ook geteiken - konyne se tande hou nooit op met groei nie en hulle moet dit afvyl deur hooi of die riempiesbankie wat jou oupagrootjie met sy eie hande gemaak het, te kou. Die oplossing? Een, deurskynende kleefband op familie-erfstukke en twee, jy verskaf kougoed soos wilgertakke.

Gelukkig het hulle (meestal) goeie toiletmaniere en verkies om hul "ablusies" in een plek, spesifieke hooibokse, af te handel. Ongelukkig gebruik hulle ook liggaamlike uitwerpsels om te kommunikeer. As hulle bang is, hul roetine omver gewerp word of jy te lank wegbly, gee hulle gou hul misnoeë te kenne. Op die vloer, op die bank, op jou denimbaadjie. Hul bewysstukke ruik gelukkig omtrent na niks.

Dan is daar die angstige veeartsbesoeke in 'n gekreukelde sweetpak op 'n Saterdagoggend.

Nes fyngeteelde honde kom hulle met allerhande kwale soos sensitiewe magies en bros beentjies wat maklik breek. Dis ons skuld. Hulle is geteel vir vleis, toetse in laboratoriums, hul pels en om in beknopte hokke te sit en nie vir hul gesondheid nie

Boonop kan net veeartse wat spesialiseer in eksotiese diere hulle behandel, vandaar die eksotiese veeartsrekeninge. Ons neem blitsvinnig mediese versekering uit.

Red 'n konyn

Ná Wilhelm en Frederik het daar sedertdien talle "pleegkinders" deur ons huis beweeg. Ons maak seker die "voornemenende ouers" weet waarvoor hulle hulself inlaat. Telers of troeteldierwinkels deel nie hierdie inligting nie.

Wanneer Kobus die Konyn begin meubels en kabels kou, en sy uitlaatklep gebruik om protes aan te teken, word hy summier by die naaste parkie "vrygelaat". Ons red hulle in parke, velde, op gholfbane, voordat hulle in die kake van 'n hond opeindig of mense hulle gebruik vir teikenskiet.

Dink dus twee maal voor jy 'n konyn as troeteldier aanneem - en as jy dit doen, kry asseblief 'n "rescue".

As die kabelkouery en vloermoere jou nie afsit nie, neem asseblief (twee) aan. Daar is honderde konyne wat tans 'n huis soek. Gaan sit op die grond by jou plaaslike DBV of diereskuiling en laat jóú Frederik en jóú Wilhelm jou kies.

  • Warrington is 'n skrywer en rolprentvervaardiger en mede­direkteur van ARC, 'n organisasie wat help met geldinsameling en opvoeding oor weggooikonyne. Sy werk ook as vrywilliger by Berario Bunnies, 'n skuiling vir weggooi­konyne.
Reney Warrington

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM