Welstand

Maak rap-liriek ons kinders siek?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die drama betreffende die Amerikaanse rapper en musiekmagnaat Sean (Diddy) Combs noop ons om te vra of sekere musiek waarna jong mense luister bydra tot die euwel van veral geweld teen vroue, skryf Shafiek Mouton.

Sean (Diddy) Combs (54), ook bekend as P. Diddy, Puff Daddy en Puffy, is sedert die middel 1990's een van die grootse name in die kletsrym- (rap) en hip-hop-bedryf. Hy het nie net 'n suksesvolle loopbaan as solo-kunstenaar gehad nie, maar is die eienaar van Bad Boy Records, wat sterre soos die wyle Notorious B.I.G, Mase, Faith Evans, Mary J. Blige en Carl Thomas op hul boeke gehad het.

Die R&B- en popsanger Cassandra (Cassie) Ventura was tussen 2007 en 2018 sy lewensmaat. Sy tel egter nou onder 'n aantal slagoffers wat beweer Combs het hulle onder meer seksueel en fisiek aangerand, gedwing om dwelms en alkohol te gebruik, en selfs gedwing om saam met sekswerkers te slaap.

Maar nou speel 'n ander deuntjie vir hom.

Combs word deur 'n rits siviele aanklagte in die gesig gestaar wat hom van sekshandel, seksuele misbruik en verkragting beskuldig.

Die R&B- en popsanger Cassandra (Cassie) Ventura was tussen 2007 en 2018 sy lewensmaat. Sy tel egter nou onder 'n aantal slagoffers wat beweer Combs het hulle onder meer seksueel en fisiek aangerand, gedwing om dwelms en alkohol te gebruik, en selfs gedwing om saam met sekswerkers te slaap.

Federale agente het verlede maand op twee van die kletsrymer se huise in Los Angeles en Miami toegeslaan. Hy is nog nie formeel van enige misdaad aangekla nie, maar daar kom die laaste ruk al hoe meer beweerde slagoffers na vore.

Combs se saak herinner sterk aan dié van R. Kelly waarvoor die voormalige "Koning van R&B" nou tronkstraf van 30 jaar uitdien.

En dit laat 'n mens wonder of sekere R&B-, hip-hop- en rap-musiek enigsins bydra tot 'n kultuur van losbandigheid, onsedelikheid en geweld teen vroue en kinders. En wat die invloed daarvan is op veral jong mense wat daarna luister en dié soort musiek waardeer.

Hoe vroue uitgebeeld word

Byna elke hip-hop en rap-ster van die afgelope 30 jaar - Diddy, Tupac, Biggie, 50 Cent, Snoop, noem maar op - maak gebruik (of is dit misbruik) van jong, dikwels skraps geklede vroue in hul musiekvideo's.

Die wêreld sal jou vertel "seks verkoop", maar teen watter prys? Is die kultuur wat bestaan in hierdie genres toksies, 'n aansporing vir geweld, 'n wanopvatting van seks en hoe die vroulike geslag beskou word?

Die Amerikaanse rapper Eminem, wat danksy Dr. Dre, stigter van Death Row Records, bekendheid verwerf het, het 24 jaar gelede die rap-liedjie "Kim" uitgereik. Sy eksvrou se naam is Kim Scott. In hierdie liedjie kletsrym hy oor die moord van 'n intieme maat, geweld voor 'n kind, wraakgedagtes en selfdood. In kommentare op YouTube, wat so onlangs as 'n paar maande en twee jaar gelede gemaak is, prys talle luisteraars Eminem.

Een gebruiker skryf: "Die feit dat hy weens sy woede in lirieke sy gedagtes om sy vrou te vermoor beskryf, sal my altyd beïndruk."

In 'n ander Eminem-liedjie getiteld "Kill You" verwys hy na 'n "slet" en hoe hy haar vermoor en haar lyk in 'n kas versteek. Hy insinueer ook verkragting.

Eminem was volgens Business Insid­er verlede jaar die rap-kunstenaar wat die meeste albums (61,5 miljoen) in die geskiedenis verkoop het.

Fox6 News Milwaukee berig Patrick Fowler (toe 33) is in 2017 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy sy meisie en haar vierjarige dogtertjie met 'n mes doodgesteek en toe hul huis aan die brand gesteek het.

BET berig voorts hy het vir die polisie gesê Eminem se liedjie "Space Bound" verduidelik sy motief.

Lirieke uit hierdie liedjie lui:

I'm tryin' to stop you from leavin'

You won't even listen so fuck it, I'm tryin' to stop you from breathin'

I put both hands on your throat, I sit on top of you, squeezin'

Till I snap your neck like a Popsicle stick

Hierdie tipe hip-hop-musiek staan as "gangsta rap" bekend.

Die Amerikaanse departement van justisie het in die 1990's, toe "gangsta rap" in gewildheid toegeneem het, hierdie genre erg gekritiseer en selfs voorgestel dat die verkoop van hierdie soort musiek aan jong mense gestaak moet word.

"Lirieke in gangsta rap verheerlik geweld en die afkraak van vroue . . . Sulke musiek moedig jong mense aan om gewelddadige dade te pleeg, dwelms te gebruik en vroue te mishandel deur vernederende seksdade. Selfs al kan daar nie 'n direkte verband tussen gangsta rap en geweld gemaak word nie, moet ouers en verkose amptenare ernstig bekommerd wees oor die musiek omdat dit obseen en seksisties is, en uiteindelik gemeenskapswaardes vernietig," lui die verklaring op die departement se webtuiste.

Navorsers van die Distrik Columbia in Amerika het in 2020 navorsing gedoen oor die verband tussen geweld onder jong mense en hip-hop. Hulle het daarna gekyk omdat geweld in skole 'n kommerwekkende probleem in Amerika is. Hul ondersoek het bevind dat daar 'n verband is tussen gereelde blootstelling aan hip-hop en woede, asook 'n geneigdheid tot geweld by sommige adolessente.

Romanse in musiek is weg

Dr. Harlan Cloete, voorsitter van die raad van die Bolandse gemeenskapsradiostasie KC 107.7, sê hulle speel glad nie meer R. Kelly se musiek nie.

"Die klagtes teen hom en waarvoor hy tans tronkstraf uitdien, is goed waarmee ons nie kan gesien word as ondersteunend daarvan nie. Ek voel ook dat die romanse in musiek weg is en dis so jammer dat vroue en meisies deur die kunstenaars en vervaardigers as seksobjekte gesien word. In my tyd was iemand soos Lionel Richie 'n held - ons het sy lirieke gevat en briewe geskryf daarmee vir 'n meisie wat jou knieë sou lam maak. Nou is dit egter so blatant en grafies . . . dit word bloot 'n objectification van vroue."

Cloete is ook van mening dat sommige genres 'n negatiewe invloed op jong mense het. Hy sê: "As jy kyk na die sogenaamde boodskap wat sommige van die lirieke op ons youngsters en gemeenskappe het, dan moet ons waak daarteen dat ons skollies en bendes glorify. Dit raak aspirational vir veral jong seuns en het 'n negatiewe invloed op hoe hulle vroue beskou."

Melissa Ephraim (32), 'n laerskoolopvoeder in Wellington, popkultuur-kenner en aanbieder van Paarl FM se #Top30, sê sy luister daagliks na R&B, rap en hip-hop. "Ek het 'n groot liefde en waardering vir hierdie genres. Dit beïnvloed en lig my gemoed en het my oor die jare soveel vreugde gebring."

Sy sê dat tieners ook na hierdie genre luister om hul daaglikse uitdagings te hanteer.

"Dit beïnvloed natuurlik hul algemene gedrag, hoe hulle praat, dit vorm hul perspektief oor sekere dinge. Hulle wil hul idols nastreef. Hulle sien hoe sterre leef - die sukses, die geld, meisies, aandag en alles gebeur in 'n oogwink. Dit bring vir 'n kort tydjie vreugde, maar die reis is altyd kortstondig," waarsku sy.

Ephraim is versigtig om Diddy te kruisig.

"Met Diddy is als nog vars en nuut en in dié stadium is daar bloot beweringe. Ja, daar is mense wat na vore kom, maar wat is waar en wat is nie? Dit moet nog in 'n hof beslis word. Maar, bygesê, gewoonlik, waar daar 'n rokie trek, brand daar 'n vuurtjie."

Aan die plaaslike front kan jy net kyk na die opgang van een van die plaaslike seunsgroepe. Van hul liedjies is so vulgêr dat jy eintlik moet wonder of jy reg hoor. Kinders sing lustig saam en dans daarop en, onwetend, word dié gedrag as die norm beskou.

Meisies en vroue bly egter die slagoffers. Nie net in die lirieke nie, maar ook letterlik in die samelewing.

Wat gaan ons reaksie wees?

  • Shafiek Mouton is 'n voormalige sportskrywer en deesdae 'n sportagent.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM