Welstand

Mammogram: Dís waarom vroue steeds huiwerig is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Die Wêreldgesondheidsorganisasie doen elke Oktober bewusmaking oor borskanker. Sedert dit in 1985 begin is, het Borskankermaand wêreldwyd eksponensieel gegroei en vanjaar is geen uitsondering nie. Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) beveel maandelikse bors-selfondersoeke, roetine- mediese ondersoeke en jaarlikse siftingstoetse aan. Radioloë by SCP Radiology en dr. Lizanne Langenhoven, wat in die behandeling van borskanker spesialiseer, gesels oor sommige van die kwelpunte in borskankersifting.

As vroeë opsporing aanbeveel word om die beste uitkoms te verseker, waarom is vroue huiwerig oor sifting? 'n Informele meningspeiling onder vroue wat huiwerig is, selfs al is dit binne hul vermoë om vir 'n mammogram te gaan, toon dat die algemeenste redes die volgende insluit:

Dit gaan te seer wees

Baie vroue maak steeds op hul ma's se ervaring van vroeër, pynlike mammogramme staat. Mammografiemasjiene het sedert vroeër jare eksponensieel ontwikkel en die vlak van ongemak wat tydens die prosedure ervaar word, is dus nou aansienlik minder. Moderne tegnologie en digitale toerusting laat ons verder toe om minder kompressie toe te pas en steeds gehaltebeelding te verkry. Die hoeveelheid druk verskil tussen individue, afhangend van die borsgrootte en borssamestelling. Die masjien se druk kan dikwels ook met die hand aangepas word, so gesels met jou mammograaf as jy enige ongemak voel.

Vrees vir blootstelling aan skadelike bestraling

'n Mammogram gebruik relatief lae dosisse bestraling. Die totale dosis is sowat 0.5 mSv (2D-mammogram). Om dit in perspektief te stel, word ons jaarliks aan 3.0 mSv-agtergrondbestraling uit ons natuurlike omgewing blootgestel.

Radioloë hou ook streng by die Alara-beginsel (as low as reasonably achievable) om altyd die laagste haalbare bestraling toe te pas. Die voordele van mammografie oortref dus die risiko van hierdie lae dosis bestraling beduidend.

Die internasionaal erkende riglyne wat gevolg word, is vasgestel om te voorkom dat die risiko van bestraling die voordele van ondersoeke oorskry. Die aanvaarde begin-ouderdom vir borskankersifting is 40, onder meer omdat die kanse vir borskanker om te ontwikkel dan groter raak as die risiko's van bestraling. Die borsweefsel van vroue onder 40 is verder digter en sal 'n hoër vlak van bestraling benodig om 'n toereikende beeldgehalte moontlik te maak.

Vrees om uit te vind dat jy borskanker het

"Die goeie nuus is dat ons begrip van die verskillende subtipes borskanker die afgelope paar jaar beduidend verbeter het! Ons volg nie meer 'n eenvormige benadering nie en baie vroue kan selfs met veiligheid chemoterapie in 'n behandelingsregime vryspring," sê dr. Langenhoven.

"Soos met enigiets anders in die lewe is dit makliker om 'n ‘klein' of ‘vroeë' probleem aan te spreek as wat dit is om 'n veel groter probleem op te los. Ek het al gesien hoe borskanker op 'n grootte van 2 mm op 'n mammogram gediagnoseer word, wat beteken die behandeling word vir 'n baie laerisiko-situasie aangepas.

"Kortliks, hoe vroeër ons van 'n bestaande probleem bewus raak, hoe gouer kan dit aangespreek word en met veel minder ingrypende behandeling."

Ek gaan nie vir mammogramme nie, ek gaan net vir termografie

Termografie blyk nie effektief te wees as 'n alleenstaande toets vir die vroeë opsporing van borskanker nie, hetsy as siftings- of diag­nostiese ondersoek. Mammografie is steeds die mees effektiewe primêre siftingsmetode vir die opsporing van borskanker in die mees behandelbare stadiums.

Termografie kan tans nie mammografie vervang nie, maar dit kan aanvullend gebruik word.

Dr. Langenhoven maan dat vir kanker om hitteseine af te gee, dit reeds beduidend groot moet wees. Aan die anderkant kan mammografie veranderinge in die bors opspoor voor dit tot kanker ontwikkel. 'n Mammogram tel dus die siekteverloop baie vroeër as termografie op.

Waarom mammografie in plaas van sonar, wat nie bestraling inhou nie?

Mammografie is volgens radioloë hul werkesel. Dit word gebruik om te soek na soliede massas in die bors, verkalking en argitektuurversteurings.

'n Sonar is 'n aanvullende hulpmiddel wat gebruik word om massas verder te ondersoek vir kwaadaardige karaktereienskappe, so ook limfnodes wat abnormaal op 'n mammogram vertoon.

Tomosintese is ook aanvullend en word gebruik om argitektuurversteurings wat op 'n mammogram vertoon, verder te ondersoek. Hulle almal werk saam.

Met digter borsweefsel is mammografie ook minder sensitief, en dit is wanneer bykomende ondersoeke bygevoeg word om die sensitiwiteit van opsporing te verhoog.

As borskanker by my gediagnoseer word, sal ek in elk geval doodgaan, so ek sal eerder nie uitvind nie

Dié stelling is nie waar in ons huidige era waar 90% van vroue met vroeë borskanker van hul siekte genees kan word nie, sê dr. Langenhoven.

"Net soos ons nie meer die motors van die vyftigerjare bestuur nie, is ons behandeling ook nie meer antiek nie.

"Die profiel van ons nuwe medikasie se newe-effekte is daarop gemik om lewensgehalte tydens behandeling te verbeter. Die feit dat ons nou vier duidelike subtipes borskanker kan identifiseer, beteken dat ons spesifieke groeipatrone kan teiken en onnodige behandeling kan vermy."

Omdat die dokters voorheen nie geweet het watter vroue aggressiewe borskanker het en wie nié, is alle vroue 'n paar jaar gelede min of meer dieselfde behandel, sê dr. Langenhoven.

"Dit het beteken dat vroue 'n diagnose gevrees het omdat hulle die radikale en toksiese behandeling waaraan hulle onderwerp sou word, gevrees het. Dit het die afgelope tien tot 15 jaar heelwat verander en ons benadering het verander om spesifiek en konserwatief te wees wanneer ons behandeling aanbeveel. Dit is aangepas by die spesifieke eienskappe van elke vrou se siekte.

"Chirurgiese uitkomste is ook soveel beter en baie min vroue word 'n ‘stomp' mastektomie aangebied as deel van hul behandelingsplan. Ons benader nie meer elke borskankeroperasie sonder oorweging van die kosmetiese uitkomste en lewensgehalte van die vrou agter die kanker nie."

Die idee dat kanker lyding en dood beteken, kom van 'n vergange era en alles moet gedoen word om hierdie uitgediende persepsie te verander.

Die oorlewingskoers vir borskanker hang van verskeie faktore af, insluitend die tipe kanker, immuunreseptore, en die graad en die spoed waarteen dit groei - dit alles bepaal die oorlewingskoers. 'n Groot gewas wat stadig groei en 'n lae graad het, het 'n gunstiger uitkoms as 'n klein gewas van 'n hoë graad wat vinnig groei.

As kanker egter vroeg opgespoor word en die graad word vroeg vasgestel, kan spesifiek ontwerpte behandeling vroeër begin, wat progressie kan vertraag of beperk.

GEBORG

SCP Radiology

Medici beveel aan dat vroue op 40-jarige ouderdom begin om jaarliks vir 'n mammogram te gaan. 'n Mammogram is 'n erkende siftingsondersoek vir die vroeë opsporing van borskanker. SCP Radiology bied mammografiedienste aan by tien takke in Kaapstad, aan die Weskus en in die Kaapse Wynlande, insluitend by die nuwe toegewyde Tygervalley Mammography Centre vir vrouegesondheid. Besoek www.scp.co.za vir meer inligting of om 'n afspraak vir 'n mammogram te maak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM