Welstand

Mans, laat doen daardie bloedtoets

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Mans moet hul liefs laat toets vir prostaatkanker as hulle oor die ouderdom van 40 is. Foto: ISTOCK
Mans moet hul liefs laat toets vir prostaatkanker as hulle oor die ouderdom van 40 is. Foto: ISTOCK

November, of Movember, is tradisioneel wanneer mans oor die wêreld heen 'n snor kweek ter bewusmaking vir mans se gesondheid, spesifiek prostaatkanker.

Dr. Jan Wilhelmus Aucamp, 'n uroloog van Plettenbergbaai, sê prostaatkanker is die tweede algemeenste kanker onder mans en die vyfde algemeenste oorsaak van kankersterftes by mans.

"Prostaatkanker word meestal by mans tussen 65 en 74 jaar gediagnoseer. Die wêreldwye voorkoms van prostaatkanker het egter toegeneem by mans van so jonk as 15 tot 40 jaar oud met 'n gemiddeld van ongeveer 2% per jaar sedert 1990."

As gevolg van die beduidende rol wat ouderdom in die ontwikkeling van prostaatkanker speel, moedig gesondheidswerkers mans aan om die belangrikheid van sifting ernstig op te neem.

Dr. Stephen Cornish, 'n uroloog van Sandton, benadruk dat enige man van ouer as 40 moet oorweeg om hom te laat ondersoek wat betref die huidige toestand van sy prostaatklier asook die potensiaal daarvan om prostaatkanker in die toekoms te ontwikkel.

"Mans hoef nie paniekerig te raak oor prostaatkanker nie, aangesien dit gewoonlik stadig groei en daar tyd is om spesifieke strategieë te ontwikkel. Die siekte word meer algemeen met veroudering," sê hy.

"Trouens, wanneer jy jou middel 80's bereik, sal omtrent elke man prostaatkanker hê.

"Baie prostaatkankers sal net 'n waaksame wag vereis, wat beteken dat jou uroloog jou toestand noukeurig sal monitor en ingryp indien daar bewyse is dat die siekte vorder.

Hoewel die grootste deel van prostaatkanker nie progressief is nie, is dit steeds verstandig om mans wat ouer as 40 is te ondersoek."

Ras, genetika en lewenstyl dui op risikofaktore

"Rasse-ongelykheid in die voorkoms en sterftesyfer van prostaatkanker is beduidend, met 'n twee keer hoër dodetal onder swart mans as onder wit mans. Asiatiese mans, in hul geboortelande, het die laagste voorkoms," sê Aucamp.

"Familiegeskiedenis en genetika is bykomende risikofaktore. 'n Familiegeskiedenis van prostaatkanker verhoog jou risiko met 68%. Lynch-sindroom, ook bekend as oorerflike nie-poliposis kolorektale kanker maak jou twee keer meer vatbaar."

Aucamp waarsku dat ongesonde leefstylfaktore soos tabakrook en verhoogde liggaamsmassa-indeks die risiko van prostaatkanker verhoog.

Volgens Aucamp kan prostaat­kanker met sifting opgespoor word voordat pasiënte enige simptome ervaar, maar plaaslike simptome kan die volgende insluit.

Hierdie simptome kom egter gewoonlik net in 'n meer gevorderde stadium voor:

  • Onderste urienweg-kwessies soos gereelde, swak, onderbroke of pynlike urienvloei
  • Teenwoordigheid van bloed in die urine of seminale vloeistof
  • Erektiele disfunksie
  • Urienretensie

Cornish merk op dat baie van die bogenoemde simptome ook op prostaatvergroting (nie kwaadaardig nie) kan dui, en dat 'n goeie plek om te begin dikwels die huisdokter is wat 'n basislyn-sifting vir prostaatkanker behoort te kan uitvoer. As daar iets opduik, sal 'n verwysing na 'n uroloog nodig wees.

" 'n Eenvoudige bloedtoets, die PSA-toets, bly die beste biochemiese toets wat kan aandui of prostaatkanker teenwoordig is en of daar potensiaal is vir voorkoms in die toekoms.

"Verder is die PSA-toets nie 'n plaasvervanger vir 'n rektale ondersoek nie," sê hy.

"Niemand hou van 'n rektale ondersoek nie, net soos vroue nie lus is vir vaginale ondersoeke nie.

Dit is egter belangrik en wys vir mans om hul afkeer van so 'n ondersoek opsy te sit en dit as 'n noodsaaklike deel van die handhawing van goeie gesondheid in latere jare te sien."

Indien jy geen simptome, enige familiegeskiedenis van prostaat- of borskanker en lae PSA-vlakke het nie, moet jy jou drie- tot vyfjaarliks laat ondersoek. En indien jy 'n familiegeskiedenis, abnormale PSA-vlakke en 'n abnormale prostaatondersoek het, moet jy jou jaarliks laat toets.

GEBORG

SCP Radiology

SCP Radiology lewer omvattende mediese beeldingsdienste by bykans 20 takke in Kaapstad, aan die Weskus en in die Kaapse Wynlande. Dienste sluit onder meer magnetiese resonansie-beelding (MRI), rekenaartomografie (CT), mammografie, sonar en algemene X-strale in. Pasiënte wat deur hul dokter verwys word vir diagnostiese beelding, kan SCP Radiology se webtuiste by www.scp.co.za besoek.

Vacuhealth

Ereksieprobleme kan veroorsaak word deur 'n besering,kanker, radikale prostatektomie, kardiovaskulêre siektes of diabetes. Dit beteken egter nie die einde van joumanwees nie. Vacuhealth se Vacurect is die ideale oplossing virereksieprobleme. Dié vakuum-ereksieapparaat werk deurdat ‘n vakuum in ‘nsilinder geskep word wat bloed na die are in die penis trek sodoende ‘n ereksiete skep. Vacurect is ‘n trotse Suid-Afrikaanse produk. Probeer dit gerus!

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM