Welstand

‘Min koolhidrate beter vir diabete’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Diabetes is 'n onvermoë om koolhidrate op 'n veilige manier te metaboliseer, en daarom help 'n laekoolhidraatdieet vir dié toestand, sê die skrywers van 'n nuwe boek.

Tipe 1-diabetes is by die kosskrywer Vickie de Beer se seun Lucca ge­diagnoseer toe hy agt jaar oud was. 'n Hoëkoolhidraatdieet (met 'n lae glukemiese indeks) is vir hom voorgeskryf.

Maar dit het geblyk 'n laekoolhidraatdieet hou sy bloedsuiker meer stabiel en het ander positiewe gesondheidsgevolge.

Volgens De Beer, die pediatriese dieetkundige Kath Megaw en prof. David Segal, 'n spesialis in pediatriese endokrinologie, kan 'n laekoolhidraatdieet help om tipe 2-diabetes stop te sit en selfs om te keer.

Hul boek, Suid-Afrikaanse leefstylgids vir diabetes, het pas by Human & Rousseau verskyn.

Tipe 1, 2 of 3

Met tipe 1-diabetes vernietig die immuunstelsel die betaselle in die pankreas wat insulien vervaardig. Sonder die insulien vervaardig die lewer deurlopend te veel glukose ('n brandstofbron vir die liggaam). Sonder insulien word glukose nie volledig deur die selle opgeneem nie. Dit bly in die bloedstroom en in plaas daarvan dat die liggaam dit opgebruik, word baie van die glukose in die urine uitgeskei.

Dit is nie duidelik wat die presiese oorsake is nie, maar sommige studies dui op oorgeërfde vatbaarheidsgene waarvoor 'n omgewingsagent die sneller is, soos virusinfeksies, entstowwe (hoewel navorsing nog nie uitsluitsel hieroor gee nie), lae vitamien D-vlakke en trauma, lui die boek.

Klassieke simptome van tipe 1-diabetes is:

• Gereelde urinering en 'n toename in dors;

• Gewigsverlies; en

• Swakheid en moegheid.

Tipe-2-diabetes beteken jou liggaam is insulienweerstandig. Jou pankreas vervaardig steeds insulien, maar die insulien­reseptore in jou selle werk nie behoorlik nie.

Dit ontwikkel weens 'n kombinasie van insulienweerstandigheid en die degenerasie van beta-selle.

"Een van die grootste risikofaktore is 'n familiegeskiedenis van tipe 2-diabetes. Die geweer is gelaai . . . maar dit is die omgewing wat die sneller trek," skryf Segal.

Simptome van insulienweerstandigheid, hoë bloedsuiker en uiteindelik tipe 2-diabetes sluit in:

• Moegheid;

• Groter dors;

• Groter eetlus;

• Onbeplande gewigsverlies;

• Wasige/dowwe sig;

• Seerplekke wat stadig genees;

• Gereelde infeksies;

• Verlies aan gevoel of gevoel van naalde en spelde in die hande en voete;

• Dele of plekke op die vel wat verdonker, gewoonlik in die armholtes en op die nek;

• Merke op die vel; en

• Vaginale en ander velinfeksies.

Tipe 3-diabetes kom voor wanneer neurone in die brein nie op insulien reageer nie, wat noodsaaklik is vir basiese take soos geheue en leer. Dis 'n aanvaarde feit dat mense met tipe 2-diabetes 'n groter risiko het om alzheimersiekte te ontwikkel, en alzheimersiekte word dikwels tipe 3-diabetes genoem.

Een teorie daarvoor is dat 'n geen teenwoordig is wat inmeng in die breinselle se vermoë om insulien te gebruik, wat uiteindelik daartoe kan lei dat die selle degenereer en doodgaan.

Beheer en ongedaan maak

Tipe 1-diabetes kan beheer word deur insulien in te spuit en 'n dieet te volg wat uit gesonde kossoorte bestaan en waarin verfynde koolhidrate beperk word, sê die skrywers.

Volgens hulle kan die ontwikkeling van tipe 2-diabetesstopgesit en ongedaan gemaak word deur middel van gewigsverlies en oefe­ning.

Die skrywers stel 'n laekool­hidraatdieet en afwisselende vas voor.

Korslose ham-quiches

Dié ham-quiches is ideaal vir inpakkos skool of werk toe.
Dié ham-quiches is ideaal vir inpakkos skool of werk toe.

Bestanddele:

12 skywe plaasham (country ham) of gypsy-ham

100 g kersietamaties, gehalveer

100 g (1 gelykvol koppie) cheddarkaas, gerasper

2 klein murgpampoentjies, gerasper

3 eiers

375 ml (1½ koppies) room

'n hand vol vars pietersielie

sout en varsgemaalde swartpeper

Metode:

1. Voer 'n muffinpan met 12 holtes met hamskywe uit.

2. Verdeel die kersietamaties, gerasperde kaas en murgpampoentjies tussen die holtes.

3. Klits die eiers en room saam en voeg die pietersielie by.

4. Verdeel die eiermengsel gelykop tussen die muffinholtes. Geur met sout en peper na smaak.

5. Bak in die oond teen 180 °C vir sowat 20-25 minute of tot goudbruin en opgepof. Bedien warm of koud.

6. Die afgekoelde gaar quiches kan tot vier dae in die yskas hou.

Kaasfrikkadelle

Die resep vir hierdie kaasfrikkadelle kan ook vir hamburger-frikkadelle gebruik word. Foto's: CRAIG FRASER en VICKIE DE BEER
Die resep vir hierdie kaasfrikkadelle kan ook vir hamburger-frikkadelle gebruik word. Foto's: CRAIG FRASER en VICKIE DE BEER

Bestanddele:

500 g beesmaalvleis

1 ui, gekap

1 middelslag-wortel, geskil en grof gerasper

1 klein murgpampoentjie, grof gerasper

60 ml (¼ k) tuisgemaakte tamatiesous (die resep is in die boek) of passata (Italiaanse tamatiepuree)

80 g (ª k) cheddarkaas, gerasper

1,5 g (1 t) psilliumvesel

5 ml (1 t) sout

olyfolie, vir braai

Metode:

1. Meng al die frikkadelbestanddele in 'n groot mengbak. Meng goed deur.

2. Rol die mengsel in 12 happiegrootte frikkadelle.

3. Verhit die olyfolie in 'n braaipan oor matige hitte en braai die frikkadelle in sarsies tot gaar en goudbruin, sowat 10 minute.

4. Die frikkadelle is heerlike partytjiekos en is ideaal om in 'n kosblik saam werk of skool toe te neem. Dit vries ook baie goed en die mengsel kan vir hamburger-frikkadelle gebruik word.

Dié worsrolletjies word met laekoolhidraatdeeg gemaak.
Dié worsrolletjies word met laekoolhidraatdeeg gemaak.

Bestanddele:

180 g (1½ k) geras­perde mozzarellakaas

45 g (3 e) roomkaas

1 eier, lig geklits

150 g (1½ k) amandelmeel of fyngemaalde sonneblomsaad

2,5 ml (½ t) sout

500 g varkwors of boerewors van goeie gehalte - maak seker jy koop wors wat nie MNG (MSG op verpakkings) in vulstowwe, of stysels of verdikkers bevat nie.

Metode:

1. Plaas die mozzarella- en roomkaas in 'n mikrogolfbestande bak. Mikrogolf op hoog vir 2 minute totdat al die kaas gesmelt het.

2. Voeg die eier, amandelmeel en sout by. Meng goed. As dit nie goed deurgemeng is nie, mikrogolf dit vir nog 30 sekondes op hoog om die kaas weer te laat smelt.

3. Rol die deeg tussen twee lae bakpapier uit om 'n reghoek van 20 cm x 30 cm te vorm. Lig die boonste laag bakpapier op.

4. Maak met 'n skerp mes al langs die lengte van die wors 'n snit in die worsderm. Verwyder die omhulsel.

5. Verdeel die wors in twee ewe lang stukke. Plaas die een helfte van die wors aan die onderpunt van die deegreghoek. Gebruik die onderste laag van die bakpapier om die deeg te lig en oor die wors te rol.

6. Sny die deeg al in die lengte van die wors af, maar los genoeg deeg aan die kant oop sodat daar plek is om die wors toe te knyp. Druk die deegrande met jou vingers saam om die wors te bedek.

7. Herhaal met die ander worshelfte en die oorblywende stuk deeg.

8. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer 'n bakplaat met bakpapier uit.

9. Sny die twee groot worsrolle in kleiner rolletjies van 5-7 cm elk. Plaas die rolletjies met die gesnyde kante na onder op die bakplaat.

10. Bak vir 20 minute tot goudbruin en opgepof. Sit onmiddellik warm voor of by kamertemperatuur.

11. Die gaar, afgekoelde worsrolletjies hou 4-5 dae in die yskas.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM