Welstand

Moenie dat skuld jou aftrede versuur

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Probeer om sover moontlik teen die tyd dat jy aftree, al jou skuld te delg, want na aftrede raak dit moeilik om dit af te betaal.              Foto: GETTY IMAGES
Probeer om sover moontlik teen die tyd dat jy aftree, al jou skuld te delg, want na aftrede raak dit moeilik om dit af te betaal. Foto: GETTY IMAGES (Foto: GETTY IMAGES)

In 'n tydperk waar afgetredenes toenemend sukkel om finansieel kop bo water te hou, word die kwessie van skuld in hierdie lewensfase al hoe belangriker. Mauricia Petersen gesels met Marié Vorster (80), 'n pensioentrekker, en Carl-Peter Lehmann, 'n ervare finansiële adviseur, wat hul perspektiewe en praktiese wenke deel.

Marié beklemtoon die belangrikheid van beplanning en verstandige finansiële besluite ná aftrede.

"Wanneer my pensioen nie meer voldoende is nie, sal ek eerder my spaargeld gebruik as om skuld aan te gaan," verduidelik sy.

Marié vermy die gebruik van haar kredietkaart tensy dit absoluut noodsaaklik is, en verkies om spaargeld eerder as krediet te gebruik vir onverwagte uitgawes soos stukkende toestelle.

"Ek sal nooit oorweeg om 'n nuwe verband op my huis te neem nie, selfs al is dit afbetaal," sê Marié beslis.

Sy beskou dit as 'n resep vir finansiële rampspoed.

Sy beklemtoon ook die waarde van versekering, veral vir belangrike bates soos haar motor, om onverwagte finansiële skok te vermy.

Marié se benadering weerspieël 'n praktiese perspektief: "Afgetredenes moet realisties wees oor wat hulle kan bekostig en aanpassings maak waar nodig."

Sy oorweeg byvoorbeeld om na 'n goedkoper mediesefonds-opsie oor te skakel om haar maandelikse uitgawes te verminder.

Die finansiële adviseur se insae

Carl-Peter Lehmann is 'n direkteur en vennoot by Henceforward Wealth and Family Office. Hy bevestig dat skuld tydens aftrede 'n groot risiko inhou.

"Hoë-rente skuld soos kredietkaarte en persoonlike lenings kan vinnig handuit ruk en 'n reeds beperkte pensioen verder verswak," waarsku hy.

Kernpunte om te oorweeg:

  • Begrotingshersiening is deurslaggewend. "Onderskei duidelik tussen noodsaaklike en nie-noodsaaklike uitgawes," raai hy aan.
  • "Prioritiseer basiese behoeftes en soek na areas waar jy kan besnoei."
  • Mediese uitgawes moet doeltreffend bestuur word. "Oorweeg bekostigbare hospitaalplanne, generiese medikasie, en staatsgesondheidsdienste vir chroniese toestande," stel Carl-Peter voor.
  • "Jou gesondheid is 'n prioriteit, maar vermy onnodige uitgawes aan voordele wat jy selde gebruik."
  • Betalingsreëlings kan skuld voorkom. "Onderhandel met diensverskaffers oor buigsame betalingsopsies, eerder as om na krediet te gryp vir onverwagte uitgawe," beveel hy aan. As jy byvoorbeeld aan jou motor laat werk, kan jy probeer vooraf reël dat jy dit maandeliks afbetaal.
  • Professionele hulp is waardevol. "Raadpleeg 'n finansiële adviseur oor komplekse kwessies soos gewaarborgde lewensannuïteite of skuldverpligtinge ná 'n eggenoot se afsterwe," sê hy.

Praktiese stappe vir afgetredenes

As ons kyk na Marié en Carl-Peter se insigte kom die volgende praktiese stappe aan die lig:

1. Leef binne jou vermoë. Pas jou leefstyl aan by jou pensioen. Oorweeg om af te skaal of onbenutte ruimte te verhuur as jou woning te duur raak.

2. Gebruik spaargeld verstandig. Spaar vir voorsienbare noodgevalle (soos toestelle wat breek) en gebruik hierdie geld eerder as om skuld aan te gaan.

3. Vermy alle hoë-rente skuld. Kredietkaarte, persoonlike lenings en winkelrekeninge dra buitensporige rentekoerse wat vinnig kan akkumuleer.

4. Heroorweeg jou pensioenstruktuur. Vir sommige afgetredenes kan 'n gewaarborgde lewensannuïteit meer stabiliteit bied as 'n lewende annuïteit.

5.Skakel oor na bekostigbare planne. Van mediese fondse tot versekering - vind meer ekonomiese opsies wat steeds noodsaaklike dekking bied.

6. Kry professionele raad. Finansiële besluite tydens aftrede het langtermyngevolge. Professionele leiding keer dat jy duur foute begaan.

Dit is duidelik dat skuld ná aftrede so ver as moontlik vermy moet word. 'n Beperkte inkomste en min geleentheid om ekstra geld te verdien kan maak dat skuld vinnig oorweldigend word. Deur proaktief te beplan, verstandige finansiële besluite te neem en betyds aanpassings te maak, kan afgetredenes 'n stabiele, skuldvrye aftrede geniet.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM