Toe die Lauren Dickason-storie in September 2021 breek, kon ek myself nie sover bring om haar storie te volg nie. Ek was toe self 'n ma van twee jong dogtertjies en het probeer begryp wat hierdie ma tot sulke uiterstes kon dryf. Ernusta Maralack wonder of ons genoeg aandag skenk aan ma's se geestesgesondheid.
Teen hierdie tyd ken die meeste mense Lauren Dickason (42) se storie, maar ek gee tog 'n bietjie agtergrond.
Dickason is 'n Suid-Afrikaanse dokter wat op 16 September 2021 haar drie dogters, Liané (6) en die tweejarige tweeling, Karla en Maya, vermoor het nadat haar man, Graham, uit was vir ete saam met kollegas. Sy het haarself daarna om die lewe probeer bring, luidens die Nieu-Seelandse media, maar was onsuksesvol.
Moederskap is nie altyd Instagram-mooi nie. Dis uitdagend en daar is nie af-dae vir jou nie. Jy moet hééltyd aan- en ingeskakel wees. Dis moeilik om klein mensies wie se bestaan heeltemal van jou afhanklik is, te versorg - finansieel en emosioneel. En as vrou moet jy 'n huishouding suksesvol bestuur én jou maat gelukkig hou, terwyl jy optimaal in die werkplek ook moet funksioneer. As jy dit alles boonop sonder 'n ondersteuningsnetwerk doen, is dit nóg moeiliker.
Die omstandighede waaronder Dickason haar kinders om die lewe gebring het, is uiters ontstellend. Sy het kabelbande om haar kinders se nekke gesit en hulle daarmee probeer verwurg. Toe hulle ná hierdie poging egter steeds asemhaal, het sy hulle met 'n handdoek versmoor.
'n Ma sal haar kinders soos 'n leeuwyfie beskerm, daarom is hierdie storie so ontstellend - omdat dit 'n ma is wat aan haar kinders lewe geskenk het, wat hul lewens uiteindelik geneem het.
Dis dalk hoekom daar mense is wat Dickason kruisig en geen ruimte laat vir deernis of die vermoë om jouself in haar skoene te plaas nie. Hoe kan jy? sal jy jouself afvra en dalk verklaar, "Dickason is 'n koelbloedige moordenaar en ek is nie een nie".
Dickason gaan inderdaad boet vir haar dade. Daar is geen twyfel dat sy haar kinders vermoor het nie; sy het 'n bekentenis aan die polisie afgelê. Haar regspan het egter aangevoer dat Dickason, wat sukkel met haar geestesgesondheid (onder meer depressie en nageboortelike depressie), eerder 'n klag van kindermoord (infanticide) en/of waansin in die gesig moet staar, wat ingevolge Nieu-Seelandse wetgewing tronkstraf van nie langer as drie jaar dra nie. Maar 'n jurie het Dickason uiteindelik in Augustus verlede jaar skuldig bevind op drie aanklagte van moord.
Dickason sou aanvanklik in Desember gevonnis word, maar haar vonnisoplegging is verskuif na Maart vanjaar. Die Herald in Nieu-Seeland berig 'n lewenslange vonnis staar Dickason in die gesig en dat die regter gaan besluit of sy die begin van haar tronkstraf in 'n tronk gaan uitdien, of in die forensiese psigiatriese fasiliteit, waar sy aangehou word sedert haar kinders se moord.

Geregtig op jou opinie
Elkeen is geregtig op hul eie opinie, maar as joernalis het ek al talle hartverskeurende misdaadstories gedek, soos dié van 'n 43-jarige ma van Kraaifontein in die Kaap, wat haar oudste seun (21), haar tweelingseuns en haarself in Januarie 2017 geskiet het. Die ma en die oudste seun het gesterf, maar die tweeling (toe 14) het oorleef. Een van hulle het gemaak of hy dood is, en so sy eie lewe en dié van sy broer gered. Hy was self beseer, maar het toe die skote stil word sy bloeiende broer, wat in die kop geskiet was, uit die huis gehelp en gaan hulp soek by familievriende in dieselfde buurt. Die gemeenskap was stomgeslaan, want hierdie vrou was baie lief vir haar kinders sover hulle kon agterkom.
"Wat kon só verkeerd gegaan het?" "Hoekom het sy niks gesê nie?" was die vrae op almal se lippe.
Myns insiens is Dickason (en die Kraaifonteinse ma) se storie nie een waar dinge net swart of wit is nie. Dis eerder 'n wrede wekroep dat sommige vroue daagliks onder geweldige druk moet funksioneer.
Ma's wil nie noodwendig erken hulle sukkel nie, daarom dra ons maskers van "alles is orraait by die huis", terwyl dit agter geslote deure dalk 'n totaal ander storie is.
Ma's sal nie sommer erken hoe broos en moeg hulle eintlik is nie; te bang vir veroordeling.
Moederskap is nie altyd Instagram-mooi nie. Dis uitdagend en daar is nie af-dae vir jou nie. Jy moet hééltyd aan- en ingeskakel wees.
Dis moeilik om klein mensies wie se bestaan heeltemal van jou afhanklik is, te versorg - finansieel en emosioneel. En as vrou moet jy 'n huishouding suksesvol bestuur én jou maat gelukkig hou, terwyl jy optimaal in die werkplek ook moet funksioneer. As jy dit alles boonop sonder 'n ondersteuningsnetwerk doen, is dit nóg moeiliker.
Dickason en haar gesin het in Augustus 2021 vanuit Pretoria na Timaru, Nieu-Seeland, geëmigreer, en hierdie verandering op sigself is enorm. Jy moet jou lewe oorbegin in 'n nuwe land weg van jou ondersteuningsnetwerk. Sy het boonop, luidens berigte, gesukkel met depressie en nageboortelike depressie. Voordat sy haar kinders gehad het, het sy gesukkel om swanger te raak; al 'n miskraam gehad en is deur talle in vitro-behandelings voordat sy uiteindelik haar drie kinders gehad het.
Die impak van trauma
Dink jouself die trauma in wat hierdie vrou al moes deurmaak. Trauma laat niemand sonder letsels nie.
Ek is nooit amptelik gediagnoseer nie, maar ek vermoed ná albei my kinders se geboorte het ek gesukkel met nageboortelike depressie. My oudste (nou nege) was 'n koliekbaba en ontroosbaar vir die eerste paar maande van haar lewe. Sy het ook eers begin deurslaap toe sy 'n kleuter was. Ek het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Ek was ontsettend en konstant moeg, huilerig, oorweldig en het heeltyd gedink ek doen iets verkeerd.
My tweede kind (nou vyf) is vier jaar later ná 'n swangerskap vol gesondheidsuitdagings gebore. Ek het haar onder meer op 13 weke amper weens 'n dreigende miskraam verloor.
Net 'n vrou wat al hierdeur is, sal verstaan hoe traumaties 'n miskraam of selfs net 'n dreigende miskraam is.
Ek het vir niemand van die nageboortelike depressie vertel nie omdat ek soos 'n mislukking gevoel het, maar ek het gaan lees daaroor en byna elke simptoom-boksie getiek.
Net omdat iemand 'n kind begeer en alles medies moontlik sal doen om een te kry, soos in Dickason se geval, beteken nie jy gaan goed soos nageboortelike depressie vryspring nie. En net omdat jy dit ervaar, beteken nie jy is minder lief vir jou kind nie. Depressie is 'n chemiese wanbalans in jou brein, wat jy nie self kan beheer deur net jouself "reg te ruk" nie.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ervaar sowat 10% van swanger vroue en 13% van vroue wat pas geboorte gegee het wêreldwyd 'n geestesgesondheidsiekte, hoofsaaklik depressie, en selfdood is een van die gevare. "Byna alle vroue kan geestesgesondheidsiektes tydens swangerskap en in die eerste jaar ná die geboorte ervaar, maar armoede, migrasie, uiterste stres, blootstelling aan huishoudelike, seksuele en geslagsgeweld, noodgevalle- en konfliksituasies, natuurrampe, en min ondersteuning, kan oor die algemeen risiko's vir spesifieke toestande verhoog," lui 'n WGO-verklaring.
Ek keur nie goed wat Dickason gedoen het nie, maar eers wanneer sulke tragedies gebeur, wil almal geskok weet, "wat kon fout gegaan het?" Maar as jy diep genoeg kyk of selfs net waarneem, sal jy dalk raaksien wanneer iemand sukkel. Geestesgesondheidsprobleme is 'n werklikheid - dis nie net "in iemand se kop nie". Wees daar en bied aan om byvoorbeeld te help kyk na 'n ma wat oorweldig is se kinders, sodat sy 'n bietjie kan rus.
Ek sê nie dit sal altyd tragedies voorkom nie, maar dalk, net dalk, red jy 'n lewe deur 'n helpende hand uit te reik aan iemand wat dit nodiger het as wat jy ooit sou kon besef.



















