Net buite Wolseley in die Witzenberg-distrik wys twee mans al vir byna 20 jaar hoe toerisme meer as net lekker slaap en lekker eet kan wees, skryf Maryke Roberts.
Meer as 90% van die diere in hul sorg is gered uit haglike omstandighede. Daar is aaklige stories van mishandeling, van diere wat verhonger, vasgebind of geslaan is. Maar by die Fynbos Guest Farm & Animal Sanctuary kry die diere 'n kans op 'n waardige lewe. Sommige van die perde daar is al bykans 17 jaar oud. Hul bewaringswerk het hulle in 2019 die Kaapse Wynland se prys vir volhoubare en verantwoordelike toerisme besorg.
Daar is oulike selfsorghuisies en kampeerplek tussen die bome. Die labirint, meditasie- tuin en 'n klein glashuisie in die middel van alles, is 'n oase vir baie mense wat met siekte, dood of trauma worstel.
Baie diere word bloot by die hek afgelaai; sommige se wonde te erg om hulle te laat oorleef; ander word sorgvuldig en met deernis behandel tot hulle weer sterk is. 'n Veearts kom loer gereeld in om na hul gesondheid om te sien, en vir die welsyn van almal, is Peter Nel en Maurice Lancaster se harte groot.
Benewens die diere, bied Fynbos twee staproetes en vakansieverblyf. Daar is oulike selfsorghuisies en kampeerplek tussen die bome. Die labirint, meditasie- tuin en 'n klein glashuisie in die middel van alles, is 'n oase vir baie mense wat met siekte, dood of trauma worstel.
Ek ontmoet Peter eerste by die padstal op die R46. Die kwik draai hoog op die termometer. Hy nooi gul dat ons buite by die beskutte area agter by die pizza-oond gesels, waar ek 'n yskoue Piña Colada-kamma-skemerkelkie kry. Die omheinde agterplaas met sy lekker speelpark vir kinders het groot bome en daar is 'n briesie. Die yskoue pienk soetigheid is heerlik verfrissend.
Mense kuier by die padstal voor hulle opstap na die dierehawe en eindig weer hul kuier daar.
"Ons strewe is om die diere lewensgehalte, gevul met liefde, sorg en rustigheid, te gee. Jy sal 'n natuurlike harmonie tussen alles daar sien. Ons diere weet nie meer wat dit beteken om gejaag, geterg of mishandel te word nie."

'n Hemel op aarde ontdek
Peter vertel dat sy pad met die eiendom reeds meer as 30 jaar strek. Hy het destyds in Kaapstad gewoon en gereeld met sy motorfiets by die padstal, toe Grapes and Grain, aangedoen vir 'n maaltyd, geselsie en iets om te drink. Die plaas het sy hart gesteel, maar dit het etlike jare geneem voor hy dit kon koop.
Maurice was op 'n sakereis in Durban toe Peter bel en sê hy het "hemel op aarde" gevind en hulle moet vinnig koop en trek. Later vertel Maurice dat hy effens stomgeslaan was toe hulle aankom en daar is nie veel om mee te werk nie. Weke se klippe pak in draadrame om omheinings vir die diere te maak, het ten minste die duisende klippe minder gemaak sodat die perde, sebra, alpakkas en donkies makliker kon loop. Elke ander struktuur op die plaas het hulle met hul eie hande gebou.
"Ons gaan deur die lewe met oogklappe, maar diere het die vermoë om daardie oogklappe te laat wegval en ons die wêreld met hernude helderheid te laat beskou," vertel hy.
Ons ry op na die plaas waar Maurice ons inwag met 'n bababottel met melk en klomp blikkies met gekapte wortels en appels in. Ons stap 'n sirkelroete onder die groot bome, ontmoet perde, poue, alpakkas, lamas, twee sebras, 'n volstruis en 'n pikswart kat. Oral voer jy die diere met jou hand plat uitgestrek en gulsige lippe raap die vars groente en vrugte op, voor dit luidkeels gekou word.
Maurice sê die renosterveld-staproete van 1,6 km en die staptog deur die dennewoud en labirint van 1,2 km, is gewild.
Jy stap eersgenoemde roete al langs die draad af saam met die sebra wat mal is oor stap - aan die ander kant van die draad. Hoewel jy sommige diere kan vryf, bly hulle immers wild. Die padstal en plaas is bekend vir sy kinderpartytjies. Die kleinspan ry agterop die trekker se sleepwa na die kafee, waar hulle burgers en melkskommels geniet en dan weer terug op die trekker na die diere.
Elke dag is die Fynbos-span al langs die teerpad besig om 'n bakkievrag indringers (portjacksonbome) uit te kap as voeding vir die boerbokke. Dié liefdestaak het al baie indringers uitgewis en ook welkome brandpaaie langs die draad geskep. Maurice vertel hulle bied gereeld opvoedkundige toere vir kinders aan.
"Hier was onlangs 120 gestremde kinders saam met ons plaaslike toerismeburo se personeel en ons het opritte gebou sodat die rolstoele die diere kon bereik."
Daar is ook 'n reusehok met voëls - en drie klein nonnetjie-uiltjies wat 'n dag of wat tevore ingekom het, sit styf teen mekaar onder 'n houthuisie. Plaaslike mense het hul ma doodgemaak uit bygeloof en hulle is wees gelaat. Hul toestand verbeter daagliks, sê Maurice, terwyl hy paaiend met hulle praat. Twee klein duikertjies kom snuffel nuuskierig om ons voete, en gaan skuil dan by die klipdam.
Uit liefde vir die saak
Die paartjie kry geen finansiële hulp nie en is op donasies aangewese. Boere in die omgewing skenk vrugte; iemand anders het al hooi afgelaai; soms is daar 'n halwe bakkievrag kool of blomkool. Peter vertel die somers is lank en verg baie voer. Die veld is kaal en droog en al die diere moet vars voer kry. Die winter laat die grasse opskiet en dan is meeste diere selfversorgend.
"Maar om die skilpaaie te voer, is die moeilikste, want hulle eet elke dag hope vars kos, jy kan nie wegkom met gedroogde voer nie," sê Maurice.
Baie van die diere wat by Fynbos aankom, is rehabiliteerbaar en word later weer in die veld vrygelaat. Maurice sê hy droom egter van die dag wat hy 'n behoorlike heining om die hele eiendom kan sit sodat die diere meer ruimte het. Tans is almal in afsonderlike kampe, maar hy sou graag wou hê dat hulle nóg vryer kan wees . . .
Kitsfeite
- Dagbesoekers is baie welkom op Fynbos. Toegang is R60 vir volwassenes en R30 vir kinders. Jy kry 'n oulike kaart van die eiendom en 'n blikkie vol vars groente of vrugte om die diere te voer. Skakel 072 223 4674 of stuur e-pos na info@fynbosguestfarm.co.za.
- As jy nie binnekort kan gaan kuier nie, borg die versorging van een van die diere en word op hoogte gehou van hoe dit met jou dier gaan. Dit bied jou drie gratis dagbesoeke per jaar. Besoek www.fynbosguestfarm.co.za vir meer.





















