Die ure se geblaai op Instagram, Facebook of TikTok is lankal nie meer 'n onskuldige tydverdryf nie. Nuwe syfers wys dat 210 miljoen mense wêreldwyd verslaaf is aan een of meer sosialemediaplatforms. Liesl Peyper stel ondersoek in.
Arturo Bejar, voormalige ingenieur en konsultant by Facebook (deesdae Meta), het onlangs vertel hoe sy 13-jarige dogter die slagoffer was van seksuele toenadering op Instagram.
Sy getuienis wat hy gelewer het voor openbare sittings van die Amerikaanse senaat het opnuut die soeklig laat val op die ongewensde gevolge van sosialemediagebruik - veral vir kinders.
Ek sou 'n taak gehad het wat die volgende dag ingehandig moes word, maar ek is herhaaldelik terug Facebook toe. Ek het gewéét daar is meer verrykende goed wat ek kan doen - soos 'n boek lees of 'n stokperdjie beoefen. En dan het ek myself blameer: ‘Is dít hoe jy kies om jou tyd te bestee?'
Toe sosiale media in 1997 op planeet aarde losgelaat is, was dit vir baie mense 'n manier om ou vriende op te spoor en kontak te hou met 'n bestaande vriendekring. Dit het ook byval gevind onder mense wat in hulself gekeer is.
"Ek was 'n onbeholpe tiener - 'n introvert - vir wie dit swaar was om sosiale verkeer van aangesig tot aangesig te hê. Toe Facebook op die toneel verskyn, was dit vir my wonderlik dat ek die beste weergawe van myself aan die wêreld kon wys," skryf Kelsey Hanson in Harvard Business Review.
Maar wat vir Hanson begin het as iets "onskadeliks" het uiteindelik ontaard in gedrag wat ure van haar dag in beslag geneem het. "My aandagspan het daaronder begin ly. Ek sou 'n taak gehad het wat die volgende dag ingehandig moes word, maar ek is herhaaldelik terug Facebook toe. Ek het gewéét daar is meer verrykende goed wat ek kan doen - soos 'n boek lees of 'n stokperdjie beoefen. En dan het ek myself blameer: ‘Is dít hoe jy kies om jou tyd te bestee?' "
Kelsey se verhaal is dié van meer as 200 miljoen sosialemediagebruikers wat luidens die jongste syfers van die Universiteit van Michigan aan sosiale media verslaaf is. Die platform wat volgens navorsing die verslawendste is, is TikTok, dan YouTube, met Facebook in die derde plek.
Facebook het verreweg die meeste aktiewe gebruikers op 2,85 miljard, gevolg deur YouTube met 2,29 miljard.

Die dopamien-effek
Sosialemediaplatforms is ontwerp om mense spreekwoordelik "vasgegom" te hou voor 'n rekenaar- of selfoonskerm, sê Anna Collard, 'n kuberveiligheidskenner by KnowBe4. "Daar is groot geld te maak uit sosiale media. Algoritmes wat deel uitmaak van sosialemediaplatforms is só ontwikkel dat vir ons inhoud gaan voer ooreenkomstig ons voorkeure.
"Dit is 'n bose kringloop: Hoe langer ons op 'n platform verwyl hoe meer deel ons waarvan ons hou en nié hou nie. Die inligting word weer teruggevoer na die algoritme wat dan vir ons nóg meer verslawende inhoud opdis," sê sy.
Die "sondaar" wat help om ons vasgevang te hou, is die hormoon dopamien. Met elke video of wisselwerking op sosiale media word dopamien in ons brein vrygestel. Dopamien maak dat ons aanhoudend blaai, like en kyk.
Dopamien is die hormoon in ons brein wat ons motiveer om dinge gedoen te kry. Dit is nie bedoel om 'n "plesier-hormoon" te wees nie, maar wanneer dit afgeskei word as ons op Facebook of Instagram of TikTok is, laat dit ons gelukkig voel.
"Daar is genoeg navorsing wat toon die mensdom is juis nié so gelukkig nie. Want baie van ons gebruik sosiale media as 'n vorm van bekragtiging van ons eiewaarde en om onsself te vermaak.
"Ons word oorweldig deur al die beelde, verwagtinge en advertensies wat op ons onderbewussyn inwerk," sê Anna.
Sosiale media het ook dikwels 'n slegte uitwerking op mense se geestesgesondheid - dit is omdat sosialemediagebruikers hulself vergelyk met ander mense wie se inskrywings, video's en foto's waarskynlik 'n vals indruk wek van geluk.
Navorsing wat al in 2007 gedoen is, het gewys mense se brein ondergaan fisieke en chemiese veranderinge as hulle op sosiale media is. Ons brein word as't ware herbedraad vir onmiddellike bevrediging en voortdurende stimulasie, sê Atelisha Harilal van die afstandsonderrig-universiteit Stadio.
Dis erger vir jonges
Syfers toon tieners tussen die ouderdom 13 en 18 bestee gemiddeld drie uur per dag op sosiale media, maar daar is selfs gevalle waar tieners tot nege uur 'n dag op die een of ander sosialemediaplatform verwyl. Tieners wat vyf uur en langer op sosialemediaplatforms verwyl, het 'n groter kans om depressie en angs te ontwikkel.
In 'n navorsingstuk wat in die tydskrif Nature Communications verskyn het, word gesê die aanvaarding of verwerping wat tieners digitaal, soos op sosiale media, ervaar, is dieselfde as wat dit van aangesig tot aangesig sou wees. Al hoe meer tieners sukkel met konsentrasie, geheue, dissipline, depressie en angs. Hul slaappatroon is ook versteur, sê Atelisha.
Maar dis nie nét sleg nie . . .
Die digitale wêreld hou darem ook voordele in, soos om kontak met geliefdes te hou in ver lande, 'n gevoel dat mense iewers hoort, en dit kan selfs groter gemeenskapsbetrokkenheid aanwakker.
Dit help ook kinders met taal- en kognitiewe en sosiale ontwikkeling, terwyl kinders wat rekenaarspeletjies speel sosiale vaardighede leer, soos om negatiewe gevoelens te beheer, ander met respek te behandel en mededeelsaam te wees.
Maar dit moet goed beheer word, sê Anna, want die kuberruim kan ook 'n teelaarde wees vir afknouery, diskriminasie, sosiale onttrekking en ander asosiale gedragsvorme. Dit is ook die plek waar kinders blootgestel kan word aan volwassenes wat hulle seksueel wil gereedmaak (grooming), soos in die geval van die eks-Facebook-werker se 13-jarige dogter.
Anna stel voor ouers hou kommunikasiekanale oop sodat kinders kan sê wanneer hulle ongewensde materiaal of gedrag digitaal teëkom.
"Tegnologie op sigself is nie 'n probleem nie, maar mense moet bewus wees van hoe sosiale media hul welstand kan beïnvloed. Jy loop ook 'n risiko wanneer jy persoonlike inligting aanlyn plaas.
"As 'n digitale voetspoor eers daar is, is dit baie moeilik om uit te vee."
Statistieke-skok
- Die horlosie tik in die kuberruim:
- * In 2022 het die wêreld 12 500 miljard ure aanlyn bestee;
- * Suid-Afrikaners is van die wêreld se ergste internetgebruikers met 'n gemiddelde van nege en 'n half uur aanlyn per dag;
- * Daar is meer as 4,8 miljard sosialemediagebruikers ter wêreld;
- * Mense (16-64 jaar) bring gemiddeld twee uur en 24 minute per dag op sosiale media deur;
- * Sowat 46,5% van sosialemediagebruikers is vroue en 53,5% is mans. Sosialemediagebruik per ouderdomsgroep is:
- 18-29 jaar: 84%
- 30-49: 81%
- 50-65: 73%
- 65+: 45%
- Bron: smartinsights.com
Wenke vir ouers
- Aktiveer die ouerbeheerstelling op jou modem en op jou selfoon sodat jou kinders nie ongewenste inhoud kan sien nie;
- Stel jou toestel so dat dit net apps en speletjies kan aflaai wat gepas is vir jou kind se ouderdom;
- Stel jou selfoon so dat jy net toegang daartoe kan kry met 'n wagwoord (wat net jý ken);
- Deaktiveer die ligging-stelling (location setting) op jou selfoon sodat jou kind nie onwetend kan deel waar hy of sy is nie;
- Vind uit waarin jou kind belang stel of wat die dinge is wat hom of haar kwel sodat julle met mekaar kan gesels oor hoe om aanlyn veilig te wees;
- As jou kind sosiale media gebruik, maak seker die privaatheid-stelling (privacy setting) is geaktiveer op sy of haar profiel; en
- Maak seker hulle deel nie persoonlike of private inligting op sosiale media nie.
- Bykomende bronne: Harvard Business Review; internetmatters.org; searchlogistics.com.





















