Skop gerus jou skoene uit, maak 'n koppie tee en los die skottelgoed vir moreoggend. Selfs die regruk-ghoeroe Marie Kondo het onlangs erken netheid is nie alles nie.

My huis is veronderstel om netjies te wees - onnetheid maak my angstig. Boonop het ek houers vir als - van die afstandbeheerders en TV-kykkomberse tot pille en verlore sokkies. Alles het sy plek. Nietemin vind ek soggens 'n huis bestrooi met hawelose items.
Tussen die voue van die sitkamerbank steek 'n afstandbeheerder soos 'n drenkeling uit. In die mandjie is daar nie een kombers oor nie.
In die gang groet opgefrommelde matte my. (Ek kan 'n skewe kyk nog hanteer, maar 'n skewe mat . . .)
Die gereedskaplaai gaap. Die houertjie spykers is net so oopgelos, nou het alles uitgeval en sit vas aan die oopgedraaide buisie Pritt. Die res rammel rond in die glashouertjie, wat eintlik my batterye se bêreplek is. Ek hoor hulle.
Die poltergees wat alles so in sy wentelbaan omkrap, is my studenteseun. My ma, nou al 60 jaar lank 'n huisvrou, rol net haar oë wanneer ek kla.
"As jy 'n netjiese huis soek, lig daai elmboog en skrop," is haar repliek.
En wanneer dit by kinders en troeteldiere, sielsrus en 'n netjiese huis kom, kies twee, want die klomp gaan nooit al-mal saam om dieselfde vuur kan kuier nie.
Netheid t. genot
Maar om stoksielalleen in 'n steriele, silwerskoon huis te bly, gaan jou ook nie gelukkig maak nie. Dis wat die netheidsghoeroe Marie Kondo, wat skatryk geword het met haar netheid-is-vreugde-filosofie, onlangs besef het.
Nadat sy liefdadigheidswinkels omtrent oorweldig het toe miljoene haar Konmari-metode gevolg het en alles wat nie "vreugde verskaf het nie" uitgesmyt het, sing me. Kondo nou 'n ander deuntjie.
Ná haar derde kind meen Kondo nou daar is nie genoeg ure in die dag om gehaltetyd saam met jou gesin deur te bring en nog 'n netjiese huis te hê nie.
"Ek het so 'n bietjie van 'n kopskuif gedoen betreffende netheid," het sy vandeesmaand in 'n onderhoud in Time gebieg.
"Dis dalk nie nodig om elke dag op te ruim nie, want soms het jy net nie die tyd of energie nie. Pleks daarvan dat jy jouself en jou gesin uitstres en jouself ooreis, is dit soms net beter om party dinge te laat gaan."
As 'n skatryk, professionele organiseerder met 'n leër nênnies en huiswerkers se huis nie ten alle tye tip-top kan wees nie, kan die res van ons seker maar 'n bietjie ontspan.
Paula de Jesus, eienaar van Absolutely Organised in Milnerton en self 'n professionele organiseerder, beaam Kondo se gewaarwording.
"Perfeksie moet nooit ten koste van jou geliefdes of jou geluk wees nie. Moenie onrealistiese eise aan jouself en ander stel nie," beklemtoon sy.
Om orde in jou lewe en jou huis te skep, is wel goed vir jou, want dit vergemaklik jou lewe, maar orde en netheid is nie altyd dieselfde konsep nie.
Stelsels wat werk
Maar hoe gemaak as jy steeds die man, kind, hond en haas wil behou, voltyds werk en daagliks stoei met 'n Jack Russell wat sy hele pelsie oor jou sitkamerstel afgooi?
De Jesus reken om orde te skep, is soortgelyk aan 'n hersetskakelaar - hoewel dit nie so eenvoudig is soos om die terugstelknoppie te druk en siedaar, alles is reg nie.
Nou vir die slegte nuus: Organisering neem tyd en beplanning, dis 'n proses, nie 'n volmaakte einddoel nie. "Mense se lewe en hul wonings is dinamies," sê De Jesus.
Soms gaar ons op, soms smyt ons uit. Ons behoeftes verander, dus moet jy kort-kort jou lewe redigeer.
"Moet wel nie op een dag probeer om 'n te groot hap van die opruimingskoek te neem nie, jy gaan jouself net oorweldig," waarsku sy.
Wanneer jy 'n vertrek of selfs net 'n kas wil regpak, doen dit stukkie vir stukkie. Takel een laai per dag, al kan jy net 'n uur daaraan afstaan.
As jy jou klerekas regpak, moenie alles terstond uitpluk en op die grond gooi nie. Die chaos sal jou oorweldig en jy sal waarskynlik alles net so terugdruk en tou opgooi.
Takel die toonbanke eerste wanneer jy jou kombuis aanpak. Verwyder alles wat jy nie daagliks gebruik nie, die oppervlaktes sal reeds skoner en groter lyk. Begin dan die kaste en laaie takel.
Opruiming verg ook beplanning - elke item in jou huis moet 'n plek hê. Dink logies oor hoe jou gesin leef, só vind jy stelsels wat vir jou werk. Die ketel moet naby 'n kragpunt wees - sorg dan dat die koffie, tee, suiker en bekers in die ketel se omtrek gebêre word.
Potte kom weer naby die stoof en speserye en kombuisgereedskap neffens die toonbank waar jy kos berei.
Sodra jy dit gedoen het en 'n rukkie saam met dit geleef het, geld die goue mantra: Moenie net neersit nie, pak weg!
'n Geordende lewe maak dinge makliker vir almal. Dit laat jou meer in beheer voel en skep rustigheid - vir jou mense en diere.
Maar maak ook vrede met party goed wat 'n gewonne stryd is - soos jou rusbank se tweede pels nadat Vlekkie daarop gekerjakker het.
- Diedericks is 'n skrywer en inhoudsredakteur van Netwerk24.
Span die telge in
In een van die Tidying Up-episodes vra 'n pa hoe Kondo dit regkry dat haar kinders hand bysit. Maak dit pret, sê sy. Haar kinders is klein, maar as hulle nog glo aan die Paashaas, kan jy hulle 'n rat voor die oë draai.
Aansporing: Beloon hulle met 'n kaartstelsel. Tien sterre in 'n ry kan ekstra skermpietyd beteken. Gee hulle die keuse om hul sterre te "bank" vir 'n groter beloning - 50 sterre is 'n fliekuitstappie en pizza. De Jesus sê speletjies werk soos 'n bom.
Maak dit 'n kompetisie. Speel hul gunstelingliedjie terwyl hulle hul speelgoed en klere moet optel. Wanneer die liedjie eindig, is die een wat die meeste opgetel het, die wenner.
Skep stories: Kweek van vroeg af 'n sin van orde by kinders, sê De Jesus. Plant 'n saadjie dat elke item 'n "huisie" het. Wanneer dit nie weggebêre word nie, voel dit verlore en hartseer. Skep 'n storie daaroor. "Bella die beker lyk sommer hartseer", klink beter as 'n gekerm dat dit opwasbak toe moet gaan.
Kontak Paula de Jesus by 082 723 2924 of besoek absolutelyorganised.co.za
Spaar jou geld en gebruik eerder alledaagse items om alles en nog wat in te stoor
Hou die houers
Dis maklik om deur luukse skryfbehoeftes en deftige houers verlei te word. 'n Roomysbak met 'n maskeerbandplakker dien wel dieselfde doel as 'n rooskleurige perspekshouer met Japanse washi tape-etikette.
Bestekopname
Neem inventaris van die plastiekhouers en verpakking reeds in jou besit - ook dié wat nog nie opgebruik is nie. Roomysbakke, Pringle-houers, selfoonverpakking, plastiekmargarien- en jogurthouers en glasbottels vir konfyt, koffie en sous kan nog lank nadat hulle leeg is, gebruik word.
Gebruik eenliter-jogurthouers om lepels, penne en skottelgoedwasborsels te bêre. Dit werk ook goed vir poeierprodukte, soos waspoeier, koeksoda en Engelse sout.
Maak jou eie afskortings
'n Laai word maklik deurmekaar. Maak jou eie afskortings deur vierkantige en reghoekige bakkies (dié van margarien en botter werk goed) aan mekaar vas te gom. Jy kan 'n horlosie en ringe in een houer bêre en armbande in 'n ander. Stoor halssnoere in leë pilhouers om te keer dat dit koek.
Dis ook 'n plan vir ou kosblikke en Tupperware wat hul deksels kwyt is. Span hulle in as afskortings of gebruik dit om jou speserye in te stoor.
Nog planne
Gooi graan en stysel oor in leë glaskoffieflesse om hulle teen motte en miet te beskerm.
Leë Pringle-houers is perfek om pasta soos spaghetti in te stoor. Vee uit met 'n nat lap wat in skottelgoedwater geweek is en spoel vinnig uit (jy wil dit nie langer as 20 sekondes nat laat word nie), droog af en laat dit ordentlik droog word.
Moenie jou lëe drankbottels weggooi nie. Spaar en koop skoonmaakmiddels in grootmaat by winkels soos Westpack of fabriekwinkels en gooi oor in die bottels.
Leë speserybotteltjies is perfek om knope, spelde en ander kramerye in te stoor.



















