Tandholtes of tandbederf is die algemeenste gesondheidstoestand wêreldwyd wat meer as 3,5 miljard mense raak, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie.
Dit kan egter grootliks vermy word met gereelde tandartsbesoeke en goeie mondhigiëne.
So sê dr. Oelie van Schalkwyk, direkteur van tandheelkunde by Netcare se afdeling vir primêre sorg, wat meen dat baie mense verkeerdelik na die tandarts gaan wanneer hulle reeds probleme met hul tande het.
"Die algemeen aanvaarde interval tussen tandheelkundige ondersoeke is ses maande. Gereelde tandartsbesoeke kan help met die vroeë opsporing en tydige behandeling van toestande soos tandbederf en tandvleissiektes," sê hy.
"Dit beteken dat behandeling meestal pynloos, vinnig en goedkoop sal wees in vergelyking met duur gespesialiseerde prosedures, wat dikwels nodig is wanneer tandheelkundige probleme nie vroeg aangepak word nie."
Dr. Dirna Grobbelaar, Ivohealth se raadgewer oor mondhigiëne, stem saam en sê mondgesondheid speel 'n baie belangrike rol in jou algemene welstand.
"Navorsing het al menige kere bewys dat daar 'n sterk verband is tussen periodontale siektes (dit sluit in die tande, been en sagte weefsel in jou mond), en vele ander sistemiese siektes soos osteoporose, longkwale, diabetes ensovoorts."
Wêrelddag vir Mondgesondheid word jaarliks op 20 Maart gevier om die belangrikheid te beklemtoon om jou mond in elke stadium van jou lewe te versorg.
Ou vrese hou steeds 'n risiko vir mondgesondheid in
Van Schalkwyk noem dat benewens die gebrek aan bewustheid betreffende die belangrikheid van gereelde tandartsbesoeke, daar ook individue is wat 'n besoek aan die tandarts steeds as pynlik en traumaties beskou - sommige sal selfs 'n besoek aan die tandarts vermy wanneer hy of sy in verskriklike pyn verkeer.
"Die oorgrote meerderheid van die tyd kon hierdie pasiënte hulself die pyn, bykomende behandeling en die daaropvolgende koste gespaar het as hulle bloot gereelde ondersoeke geskeduleer het.
"Dit is frustrerend en hartseer vir 'n tandarts om iemand in pyn te sien, want hul vrees vir pyn is wat hulle verhinder het om in die eerste plek tandheelkundige sorg te soek," sê hy.
Grobbelaar meen tandheelkunde het baie verander oor die jare en dat daar regtig geen rede is om bang te wees om 'n tandarts te besoek nie.
"Nuwe tegnieke en toerusting maak dit vir ons en ons pasiënte 'n baie beter en aangename ervaring."
Van Schalkwyk raai ouers aan om hul kinders so vroeg as ses maande, nadat die eerste tand gekom het, met die tandarts vertroud te maak, aangesien tandbederf enige tyd van dan af kan voorkom.
"Om jou kind vroeg na die tandarts te neem, lê die grondslag vir 'n leeftyd van goeie mondversorgingsgewoontes en help hulle om gewoond te raak aan die tandarts se kamers, wat sal lei tot stresvrye besoeke in die toekoms."
Grobbelaar beaam dit en sê daar is talle fantastiese tandartse en mondhigiëniste met nuwe tegnologie wat graag bang pasiënte wil genees van hul vrees.
"Vra familie en vriende na wie hulle gaan en soek iemand waarmee jy gemaklik is en wat jy vertrou.
"Vir pasiënte wat 'n fobie het, is daar altyd die opsie van sedasie. Dit is 'n wonderlike hulpmiddel wat in die spreekkamer gedoen kan word met die hulp van 'n narkotiseur.
"Ek vind met kinders dat dit soms die ouers is wat banger as die kinders weens 'n slegte ondervinding wat hulle dalk as kind gehad het.
"Probeer asseblief om nie jou kinders bang te maak of te dreig met die tandarts nie."
GEBORG
The Cosmetic and Dental Emporium

Die dokters by The Cosmetic and Dental Emporium lewer nie net tandheelkundige dienste van topgehalte nie, maar is ook passievol oor wat hulle doen. Dr. Wim de Beer en dr. Heinrich Sander staan gereed om jou te help met enige tandheelkundige of kosmetiese tandheelkundige uitdagings. The Cosmetic and Dental Emporium het verskeie takke, bied 'n verskeiedenheid tandartsdienste en kan jou help om die regte prosedure te kies wat in jou spesifieke behoeftes sal voorsien.
















