Welstand

Oorwas normaal, spesialis kan help

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Volgens kenners is dit raadsaam dat jy jou ore professioneel moet laat skoonmaak indien jy sukkel met oorwas wat opgebou het. Foto: ISTOCK
Volgens kenners is dit raadsaam dat jy jou ore professioneel moet laat skoonmaak indien jy sukkel met oorwas wat opgebou het. Foto: ISTOCK (SYSTEM)

Onbehandelde oorwas wat opbou in jou ore kan lei tot tydelike gehoorverlies, irritasie, pyn in jou oor, duiseligheid en ander probleme. In die meeste gevalle is wasverstopping nie gevaarlik nie en simptome verdwyn met behandeling.

Gehoorverlies as gevolg van aangetaste was kan frustrerend en stresvol wees en, indien onbehandeld, kan bydra tot sosiale isolasie en depressie.

Oorwas is 'n normale afskeiding vanuit die vel in die oorkanaal. Jou oorkanaal is gevoer met velselle en smeerkliere wat 'n olierige afskeiding produseer, verduidelik Heinrich Stephan, oudioloog by Love Hearing.

"Oorwas bestaan uit 'n kombinasie van afgeskilferde velselle, sweet en vetterige olies. Oorwas het hidrofobiese en antibakteriese eienskappe. Oorwas help dus om die oorkanaal en oordrom te beskerm teen vogtigheid en infeksie. Almal se oorwas is uniek. Party mense het min, droë oorwas, waar ander kan sukkel met gereelde oorwas wat opbou.

" 'n Verdere kenmerk van oorwas is dat dit klewerig is - 'n voordeel daarvan is dat stofpartikels aan die oorwas kan kleef voordat dit tot teen die oordrom kan beweeg.

"Oorwas se reuk is ook 'n afskrikmiddel vir goggas wat per ongeluk in die oorkanaal kan beland."

Wanneer oorwas in jou oorkanaal opbou, kan dit jou oorkanaal versper, wat die oordrag van klank tot by die oordrom kan belemmer, sê Stephan.

"‘Wasverstopping in iemand se oorkanaal kan dit dus moeilik maak om te hoor. Alhoewel oorwas vog afweer, kan oorwas tot so 'n mate opbou dat vog vasgekeer kan word in die oorkanaal. Wanneer vog in die oorkanaal opbou en blootgestel word aan liggaamstemperatuur kan dit 'n omgewing skep waar bakterieë en swamme kan groei en gevolglik 'n oorkanaalontsteking veroorsaak."

Zola Mbaxa, oudioloog en direkteur van Just Hearing, sê indien was oor 'n lang tydperk opbou in jou ore kan jy simptome soos 'n geblokkeerde gevoel in die ore ervaar, verminderde gehoorsensitiwiteit (kan een kant of albei wees), jeukerigheid, pyn en soms getuit in die ore.

Stephan benadruk om 'n bietjie oorwas te hê is heeltemal normaal.

"In 'n gesonde oor gaan daar altyd 'n mate van oorwas wees en dit is raadsaam om dit nie self te probeer verwyder nie. Soos ons eet en praat dra die kakebeen se beweging by tot die natuurlike uitskuif van oorwas vanuit die oorkanaal. Dit is dus raadsaam om nie enige onnodige vloeistof in die oorkanaal te gooi of oorstokkies te gebruik nie, aangesien dit die risiko vir ontsteking of skade aan die sensitiewe oorstrukture kan veroorsaak."

Sien spesialis om ore skoon te maak

"As oudioloog sê ons maar altyd dat jy niks kleiner as jou elmboog in jou oor moet druk nie. Die oordrom is papierdun en kan maklik perforeer, wat gehoorskade tot gevolg kan hê. Vanuit my ervaring sal ek geen boererate van tuis-oorwas-verwydering aanbeveel nie, aangesien daar ernstige risiko's is as enige vreemde voorwerp of middels in die oorkanaal geplaas word," benadruk Stephan.

"Selfs die gebruik van oorstokkies is 'n risiko, aangesien dit oorwas dieper in die oorkanaal kan indruk of selfs die oordrom perforeer.

"Die veiligste roete om oorwas te verwyder is om 'n oor-neus-en keelspesialis te raadpleeg wat deur middel van 'n mikro-suigmasjien oorwas wat opgebou het uit die oorkanaal kan suig. Hierdie wasverwyderingstegniek hou die oorkanaal droog en vermy blootstelling van die oordrom en oorkanaal aan enige liggaamsvreemde middels. 'n Alternatief is om jou huisdokter te raadpleeg om te help met wasverwydering - gewoonlik deur middel van uitspuit."

Mbaxa beaam dit en sê jou ore het 'n selfreinigende meganisme. " 'n Normale hoeveelheid wasproduksie maak homself ideaal skoon, en ons sal by tye dit nie eens agterkom nie.

"Jy moet nie self die oorkanaal (binne-in die ore) skoonmaak nie. Ek sou aanbeveel dat jy slegs jou ore skoonmaak wanneer daar oormatige was opbou of jy simptomaties is.

"As jy te veel jou ore skoonmaak, kan dit veroorsaak dat 'n oormaat van oorwas geproduseer word, want dit is 'n noodsaaklike, beskermende meganisme. Jou liggaam sal 'n oormaat van was produseer as dit aanvoel dat daar te min is," verduidelik sy.

"My aanbeveling is dus dat jy jou ore professioneel laat skoonmaak om skade aan jou oorkanaal en trommelvlies te voorkom. Die simptome van oorprobleme is dikwels soortgelyk, daarom is dit belangrik om mediese hulp te gaan spreek indien enige behoefte ontstaan."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM