Welstand

Osteoporose: Voorkoming beter as genesing

Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Ons bene verrig 'n taamlik belangrike liggaamsfunksie deur ons organe te beskerm en ons liggaam te ondersteun.

En namate jy ouer word, vind beenverlies natuurlik plaas. Dit maak ons meer vatbaar vir breuke van die ruggraat, heupe en gewrigte. Een uit elke drie vroue en een uit elke vyf mans ouer as 50 sal waarskynlik beenfrakture opdoen wat verband hou met osteoporose of verlies aan beendigtheid.

Volgens Jafar Khan, 'n radiograaf aan die Netcare Kingsway- hospitaal, bereik ons op die ouderdom van 30 ons hoogtepunt in terme van beendigtheid en namate ons ouer word, is ons liggame geneig om die minerale te begin afskei wat sterk, gesonde bene ondersteun.

"Beenmineraaldigtheid is geneig om af te neem namate ons ouer word, wat die struktuur van die been verswak en dit minder veerkragtig maak. Die eerste stadium van been-degenerasie staan bekend as osteopenie, wat tot osteoporose kan ontwikkel en uiteindelik daartoe kan lei dat die bene bros en meer kwesbaar word vir broosfrakture."

Khan sê hoewel osteoporose normaalweg met vroue ná menopouse geassosieer word, kan mans en vroue van alle ouderdomme aangetas word - en selfs kinders in seldsame gevalle.

"Dit is belangrik om bewus te wees van die risikofaktore vir jouself en jou geliefdes, en gereeld beenmineraaldigtheid met jou dokter te bespreek om dit te voorkom of aan te spreek voordat dit potensieel aftakelend raak."

Volgens Khan is dit die moeite werd om met jou dokter oor jou individuele risiko te praat.

"Veral vroue moet die moontlikheid bespreek om hul kal­sium-inname of enige ander voedingstowwe aan te vul as 'n voorkomende maatreël. Waar nodig, kan jou dokter jou verwys vir 'n beenmineraaldigtheidskandering om toekomstige risiko van broosheidfrakture te bepaal.

"Hoe vroeër verminderde beendigtheid opgespoor word, hoe beter sal die uitkomste waarskynlik wees. Dikwels kan medikasie verdere skade vertraag en ons kan die vordering van behandeling met jaarlikse skanderings monitor. In sommige gevalle kan 'n osteo­peniese toestand omgekeer word," sê Khan.

Volgens Teréza Hough van die Nasionale Osteoporose-stigting van Suid-Afrika (NOFSA) word osteoporose die "stil siekte" genoem omdat dit vir baie jare onopgemerk vorder. Die eerste teken van hierdie siekte is gewoonlik 'n fraktuur.

"Spinale frakture kan pynloos wees, maar lei dikwels tot erge rugpyn vir 'n paar weke. Kompressiefrakture van die ruggraat vind plaas omdat die verswakte been onder die liggaam se gewig ineenstort.

"Dit veroorsaak 'n verlies aan hoogte en verhoogde kromming van die ruggraat (Dowager se bult).

"Die meeste heupfrakture is ook die gevolg van osteoporose en kan 'n verwoestende gevolg hê. Dit lei tot institusionalisering, verminderde funksionele kapasiteit en selfs die dood. Heupfraktuursyfers onder Suid-Afrikaanse Kaukasiërs is soortgelyk aan dié in Europa en die VSA," sê sy.

Hough sê verder ongeveer 4 miljoen Suid-Afrikaners ly reeds aan osteoporose en dat byna die helfte van alle Suid-Afrikaners van 81 jaar en ouer osteoporose het.

Etnisiteit speel ook 'n rol, soos blyk uit mense wat 'n osteoporotiese fraktuur sal hê, aldus Hough.

" 'n Vrou se risiko om 'n heupfraktuur op te doen is gelyk aan die gekombineerde risiko om bors-, baarmoeder- en eierstokkanker te ontwikkel.

"Tot 20% van heupfraktuur­slagoffers sterf binne een jaar en 15% tot 25% sal institu­sionalisering vereis.

"Minder as die helfte sal volle funksionele vermoë herwin," sê Hough.

Hoewel dit behandelbaar is, is die voorkoming van osteoporose baie doeltreffender, sê Hough.

"Voorkomende maatreëls het ten doel om maksimum ophoping van beenweefsel tydens skeletgroei en rypwording te verseker, asook om beenverlies te verminder nadat die skelet volwasse is. Benaderings verskil dus gedurende elke lewensfase.

"Sekere risikofaktore wat geneig is tot die ontwikkeling van osteoporose kan nie verander word nie - jy kan nie jou geslag, ras of ouderdom verander nie.

"Jy kan egter nog baie doen om verdere beenverlies te voorkom," verduidelik sy.

Voorkoming

  • Moenie rook nie;
  • Doen gereelde gewigdraende en aërobiese oefening;
  • Volg 'n gesonde leefstyl met 'n gebalanseerde dieet;
  • Laat doen gereelde roetine-gesondheidsondersoeke;
  • Praat met jou dokter en vind uit of jy kalsiumaanvullings moet neem; en
  • Monitor jou beenmineraaldigtheid saam met jou dokter namate jy ouer word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM