Welstand

Plantgebaseerde diëte tem te hoë cholesterolvlakke

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Hoë cholesterol kan 'n tikkende tydbom wees as dit nie met die regte medisyne en nodige lewenstylveranderinge opgespoor en behandel word nie.

Maar 'n nuwe studie, wat in die European Heart Journal gepubliseer is, dui daarop dat 'n vegetariese of veganistiese dieet die vlakke van dieetcholesterol in die liggaam kan verlaag.

Navorsers het na die studiedeelnemers se die vlakke van LDL, lae-digtheid lipoproteïene, gekyk.

In die studie is bevind dat deelnemers se LDL-vlakke met 10% gedaal het, en die totale cholesterol met 7%, vir mense wat 'n plantgebaseerde dieet volg in vergelyking met diegene wat sowel vleis as plante eet.

"Dit stem ooreen met 'n derde van die effek van die neem van cholesterolverlagende medikasie soos statiene, en sal lei tot 'n vermindering van 7% vir die risiko van kardiovaskulêre siektes by iemand wat 'n plantgebaseerde dieet vir vyf jaar volhou," sê die hoofskrywer, dr. Ruth Frikke-Schmidt, 'n professor in kliniese biochemie en hoofgeneesheer aan die Rigshospitalet in Kopenhagen, Denemarke.

"Ons het soortgelyke resultate gevind oor kontinente heen, ouderdomsgroepe, verskillende reekse van liggaamsmassa-indekse, en onder mense in verskeie toestande van gesondheid," het Frikke-Schmidt in 'n verklaring gesê.

"As mense van kleins af vegetariese of veganistiese diëte begin eet, is die potensiaal om die risiko van kardiovaskulêre siektes wat deur verstopte are veroorsaak word aansienlik te verminder."

Die ontleding is gebaseer op resultate van 30 ewekansige kliniese proewe, met meer as 2 300 wat tussen 1982 en 2022 gepubliseer is. Daardie studies het die impak van vegetariese of veganistiese diëte op alle soorte cholesterol en apolipoproteïen B (ApoB), 'n proteïen wat in bloed gevind word, ondersoek om 'n goeie maatstaf daar te stel van hoeveel slegte vet en cholesterol in die liggaam is.

Die meta-analise is die eerste om spesifiek te fokus op die effek van dieet op konsentrasies van ApoB, het die skrywers gesê.

Resultate het getoon dat veganiste of vegetariërs geassosieer word met 'n vermindering van 14% in apolipoproteïen B-vlakke.

Die studie het ook beklemtoon dat die impak van dieet op cholesterol beperk kan wees vir mense wat die neiging erf dat hul lewers te veel cholesterol produseer, wat beteken dat hoë cholesterol sterker deur ons gene (DNS) beïnvloed word as deur ons dieet.

Dit verklaar waarom statiene, 'n goedkoop pil wat vir die verlaging van cholesterol voorgeskryf word, nodig is om cholesterol­produksie te blokkeer by mense wat 'n groter risiko het vir 'n hartaanval of beroerte, of wat reeds een of albei gehad het, wat verband hou met die opbou van cholesterol in bloedvate.

Statienbehandeling is beter as plantgebaseerde diëte om vette en cholesterolvlakke te verlaag, het Frikke-Schmidt gesê.

"Een regime sluit egter nie die ander uit nie, en die kombinasie van statiene en plantgebaseerde diëte sal waarskynlik 'n sinergistiese effek hê, wat 'n selfs groter voordelige effek tot gevolg het."

Wat is cholesterol?

Cholesterol is 'n vetterige, wasagtige stof wat ons selle nodig het vir gesonde funksionering. Ons lewers produseer 'n mate van cholesterol, maar wanneer ons transvette en versadigde vette van dierlike bronne eet, insluitend eiers, vleis en kaas, ontwikkel sommige mense hiperlipidemie, ook bekend as hoë cholesterol.

"Sommige mense kan 'n toestand hê wat familiale hipercholesterolemie genoem word, 'n genetiese toestand wat die liggaam se vermoë verminder om LDL te verwyder waarna soms verwys word as ‘slegte' cholesterol, selfs al is die persoon uiters versigtig met hul dieet," sê Themba Muhlarhi, 'n apteker.

"Kinders kan ook hoë cholesterol hê en moet veral getoets word as daar 'n genetiese risiko is.

"As een van jou ouers die toestand het, is jou kans om dit te erf 50%. As jy familiale hipercholesterolemie het, het enige van jou kinders ook 'n 50%-kans om gediagnoseer te word.

"As ons ouers word, is dit raadsaam vir almal om gereelder te toets, tot een keer per jaar vanaf die ouderdom van 45 vir mans en vanaf 55 vir vroue," sê hy.

Hoekom is hoë cholesterol gevaarlik?

" 'n Oormaat LDL-cholesterol in ons bloed kan saam met kalsium, minerale en ander stowwe vassit om 'n aanpaksel te vorm wat die are belyn.

"Behalwe dat dit die are vernou, kan stukke van hierdie aanpaksels afbreek en 'n bloedklont vorm in 'n poging om die wand van die slagaar te genees," sê Muhlarhi.

As die bloedklont so groot word dat dit die bloedvloei beperk en elders in die liggaam vassit, kan dit baie ernstig en potensieel dodelik wees. Dit is wat hartaanvalle en beroertes veroorsaak, asook borspyn bekend as angina.

Bly só gesond

Wanneer hoë cholesterol nie met dieet, oefening en ander lewenstylaanpassings bestuur kan word nie, kan orale medikasie nodig wees in kombinasie met 'n gesonde leefstyl, 'n dieet wat laag is in versadigde en transvette, en ook gereelde fisieke oefening.

"Dit kan 'n geleentheid wees om jou risiko aansienlik te verminder vir gepaardgaande lewensgevaarlike toestande ," sê Muhlarhi.

Afhangende van of 'n persoon reeds kardiovaskulêre siektes of 'n bestaande toestand wat reeds bestaan, soos diabetes, ontwikkel het of nie, sal jou behandelende dokter medikasie voorskryf om die gesonde balans van cholesterol in jou liggaam te help verbeter.

"Die algemeenste medikasie wat vir hoë cholesterol voorgeskryf word, is statiene. Gaan gesels met jou dokter of apteker oor enige moontlike geneesmiddel­interaksies as jy enige ander medikasie gebruik, byvoorbeeld groot hoeveelhede statiene kan nie saam met protease-inhibeerders, wat antivirale medisyne is, gebruik word nie. Pasiënte op statiene moet ook pomelo en pomelosap vermy, wat met sommige statiene kan inmeng terwyl sekere newe-effekte vererger.

Die erns van hoë cholesterol moet nie onderskat word nie, benadruk Muhlarhi.

"Selfs wanneer jy op medikasie is, behels 'n beduidende deel van die behandeling die vermindering van ongesonde kosse terwyl oefening verhoog moet word om jou die beste moontlike kans vir goeie gesondheid op lang termyn te gee."

GEBORG

Vacuhealth

Jou kanse om erektiele disfunksie (ED) te ervaar mag toeneem soos jy ouer word, maar kan gelukkig behandel word. Erektiele disfunksie kan ook jonger mense beïnvloed wat aan diabetes, prostaatkanker of hartkwale ly of dit kan wees as gevolg van newe-effekte van sekere medikasies. Deur die gebruik van 'n vakuum-ereksieapparaat soos Vacuhealth se Vacurect, word die gesonde sirkulasie van bloed na die penis verhoog. Sodoende kan skade aan die orgaan aansienlik verminder word. Dié apparaat kan dus beskou word as 'n natuurlike manier van behandeling. Die Vacurect skep 'n vakuum in 'n silinder wat bloed by die penis intrek, bloedvloei bevorder en sodoende fibrose en inkrimping van die penis voorkom.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM