Welstand

Raad vir jou sensitiewe vel

’n Sensitiewe vel is ’n toestand wat gekenmerk word deur verhoogte reaktiwiteit van die vel op verskeie stimuli. Foto ter illustrasie: iStock
’n Sensitiewe vel is ’n toestand wat gekenmerk word deur verhoogte reaktiwiteit van die vel op verskeie stimuli. Foto ter illustrasie: iStock

Jou vel is die grootste orgaan in jou liggaam, daarom kan 'n sensitiewe vel wat konstant jeuk en brand jou gou moedeloos maak. Karla Janse van Vuuren het meer uitgevind oor dié velprobleem en wat jy daaraan kan doen.

Jy was jou vel met 'n lekkerruik-sepie en voor jy kan sê "eina" begin dit al jeuk en fyn knoppies marsjeer in rye oor jou voorkop. As jy stres ervaar, wil jy nie die huis verlaat nie, want jou vel lyk soos 'n tiener s'n. Klink dit bekend?

" 'n Sensitiewe vel is 'n toestand wat gekenmerk word deur verhoogte reaktiwiteit van die vel op verskeie stimuli, wat alles van velprodukte tot omgewingsfaktore en selfs interne faktore soos dieet of stres kan insluit," sê dr. Suretha Kannen­berg, 'n dermatoloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch.

En as jy dink jou vel is in die winter meer problematies as gewoonlik, slaan jy die spyker op die kop. Seisoensveranderinge kan beslis 'n uitwerking op jou vel hê.

Karen Bester, 'n mediese opleier by Lamelle Research Laboratories, meen daar is nie regtig 'n definisie vir 'n sensitiewe vel nie. "Ek dink dis eerder 'n term wat ons gebruik om 'n vel te kategoriseer wat meer reaktief is as ander velle. Sommige velle is sensitief vir die son en brand maklik, ander is sensitief vir olies wat puisies kan veroorsaak. In die mediese estetiese wêreld praat ons van 'n sensitiewe vel as 'n vel wat anders as gewoonlik reageer op bestanddele."

En as jy dink jou vel is in die winter meer problematies as gewoonlik, slaan jy die spyker op die kop. Seisoensveranderinge kan beslis 'n uitwerking op jou vel hê.

"Die winter kan baie problematies wees, veral vir mense met 'n droë vel - sensitiwiteit weens ekseem en rosacea sal dus dié tyd van die jaar erger wees," sê Kannenberg.

Bester voeg by dat ons moet onthou ons vel is konstant in wisselwerking met ons omgewing.

"Dus, wanneer die lug om ons droog is, is ons vel geneig om droog te word. As jy nie jou bevogtiger hierby aanpas nie, kan die vel so droog word dat dit sy beskermingsfunksie belemmer. Dit kan beteken dat molekules wat nie gewoonlik jou vel sal binnedring nie, dan inkom en dit kan die immuunstelsel aktiveer om 'n reaksie te veroorsaak."

Ruan Winter, die bemarkingsbestuurder van die velsorgreeks Vitaderm, voeg by dat verwarmingstelsels of lugversorgers binnenshuise humiditeitsvlakke kan verminder, wat die vel verder kan uitdroog. "Ons almal hou ook van 'n lekker warm stort of bad in die winter, maar dit kan die vel van sy natuurlike olies stroop."

Hoe gemaak met my sensitiewe vel?

Ongelukkig kan 'n sensitiewe vel vir sommige mense 'n lewenslange toestand wees, sê Winter. "Dit kan egter beheer word en die simptome kan met die regte sorg en behandeling verlig word."

Bester se raad is die gebruik van velsorgprodukte wat die lipiedlaag in jou vel naboots. "Ons glo die vervanging van daardie laag is van kardinale belang vir 'n gesonde, nie-reaktiewe vel."

Die belangrikheid van 'n goeie bevogtiger as besker­mer teen sensitiwiteit is uiters belangrik. " 'n Hidrerende, hipoallergene bevogtiger sal help om die vel se vogvlakke te handhaaf," sê Winter.

Kannenberg meen dit is belangrik dat jy leer wat jou vel se sensitiwiteit veroorsaak of vererger. "Soms sal dit die hulp van professionele persone, soos dermatoloë, verg. Wees altyd versigtig in die son en dra 'n breëspektrum-sonskerm wat jou vel teen ultraviolet-skade beskerm."

Winter sê dit is ook baie belangrik om leefstylaanpassings te maak. "Eet 'n gesonde dieet ryk aan vitamiene en antioksidante, drink genoeg water om jou vel van binne af bevogtig te hou en bestuur jou stresvlakke doeltreffend. Wees ook voorbereid om jou velsorgroetine aan te pas as gevolg van veranderinge in jou vel se toestand, seisoensveranderinge en ander faktore."

Die kenners stem saam dat vroue meer geneig is om met 'n sensitiewe vel te sukkel, en daarom is dit belangrik om slim keuses te doen wanneer dit by grimering kom.

"Kies grimering wat vir 'n sensitiewe vel geformuleer is. Dis ook 'n slim idee om die produk eers vir 'n dag of twee op 'n klein plek (soos agter jou oor) te toets voor jy dit oor jou hele gesig aanwend," sê Kannenberg.

Winter voeg by dat dit wys is om produkte met 'n eenvoudige bestanddelelys te kies om potensiële prikkelmiddels te verminder. Wees op die uitkyk vir minerale grimering wat dikwels minder prikkelmiddels bevat en sagter kan wees vir 'n sensitiewe vel. "Maak seker dat borsels, sponse en ander grimeer­gereedskap skoon is om bakteriële kontaminasie te vermy wat 'n sensitiewe vel kan irriteer. Gaan ook die vervaldatums van jou produkte gereeld na en gooi enige ou items weg om velirritasie te voorkom."

En natuurlik moet jy alle grimering saans verwyder en jou vel behoorlik bevogtig voor jy gaan slaap, sê Bester.

Hoe weet ek of ek 'n sensitiewe vel het?

Wees op die uitkyk vir die volgende simptome, sê die kenners:

  • Rooiheid: Die vel kan gloeiend voorkom, sê Kannenberg, of selfs rooi spatsels hê, veral ná blootstelling aan snellers wat omgewingsfaktore, velprodukte of inwendige faktore (byvoorbeeld spanning) kan insluit. Bester voeg by dat jou vel selfs kan opswel en ongemaklik voel. "Jy kan dalk ook gereeld 'n uitslag van klein knoppies kry nadat jy nuwe velsorgprodukte of skoonheidsmiddels gebruik het," verduidelik Winter.
  • Jeuk en branderigheid: 'n Vel wat tingel of brand al word geen produkte gebruik nie kan op 'n neurologiese komponent dui, meen Bester. 'n Gejeuk kan 'n algemene simptoom wees en jou vel kan ook voel, sê Kannenberg.
  • ¦ Droogheid en afskilfering: Die vel se versperringsfunksie is in die algemeen ondoeltreffend in mense met 'n sensitiewe vel, verduidelik Kannenberg. "Dit lei tot verhoogde transepidermale waterverlies en gevolglike droogheid. Afskilfering is die natuurlike gevolg."
  • ¦ Sigbare bloedvate: "Klein bloedvate, veral op jou wange en neus, is meer sigbaar, wat 'n teken van velsensitiwiteit kan wees," sê Winter.

‘Ek sukkel my lewe lank met my vel'

  • Philippa Reid (39) van Johannesburg vertel haar stryd met 'n sensitiewe vel duur al haar lewe lank.
  • "Dit het erger geword toe ek uit die Oos-Kaap weggetrek het, en ná my swangerskappe. Toe ek van 'n sub­tropiese klimaat na Gauteng verhuis het, het die vel op my gesig die eerste twee winters afgedop en was dit letterlik rou."
  • Sy vertel veranderinge is haar groot­ste sneller, of dit nou verande­ringe in die weer, temperatuur, om­gewing, hormone of produkte is.
  • "Ek is ook allergies vir diere, of hulle nou 'n pels of vere het. Ek kry 'n veluitslag wat erg jeuk as ek aan 'n dier vat. In die winter sukkel ek ook met 'n baie droë vel."
  • Philippa sê sy neem daagliks 'n anti­histamien en sal sommer ekstra neem as sy weet sy gaan blootgestel word aan diere, temperatuurveranderinge (soos as sy in koue water gaan swem) of as sy reeds 'n veluitslag het.
  • "Ek probeer ook keer dat my vel uitdroog en gebruik dus daagliks 'n baie ryk, parfuumvrye bevogtiger. Ek gebruik ook suiwer seep wat nie my vel van natuurlike olies stroop nie."
  • Sy vertel sy het met die jare uitgepluis watter produkte werk en watter nie, en sal nie sommer groot veranderinge maak nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM