Welstand

Seldsame hartkwale eis broers van een gesin

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Adrian, pa Bruce, Connor, Brandon en Chantal Mackenzie.Foto: Pierre van Vuuren
Adrian, pa Bruce, Connor, Brandon en Chantal Mackenzie.Foto: Pierre van Vuuren

Drie seuns van 'n Sandtonse gesin se lewensbedreigende hartsiektes is so ernstig dat hul ouers hulle tydens 'n gewapende rooftog nie wou wakker maak nie uit vrees dat hulle te groot sal skrik - en dít hul harte sou laat stop.

Indien ons ons kinders wakker gemaak en dit hulle 'n groot skok gegee het, kon hulle oombliklik hartaanvalle gekry het.

Hul ma, Chantal Mackenzie (55), vertel die eens sportiewe Brandon (24), Connor (21) én Adrian (19) het almal Long QT-sindroom, 'n baie seldsame harttoestand.

Volgens die Britse hartstigting tas dié sindroom een uit 2 000 mense aan. Dit is baie keer oorerflik, maar kan ook deur medikasie veroorsaak word.

"Wanneer te veel adrenalien deur Brandon en Connor se lyf pomp, jaag dit hulle hartklop so hoog op dat dit hartaanvalle kan veroorsaak. Adrian se hart klop weer soms so ontsettend stadig dat dit hom swak en duiselig laat en selfs 'n hartstilstand kan gee."

Mackenzie, voorheen 'n advokaat, onthou die angswekkendste ding van dié destydse rooftog was dat hulle te bang was om hul kinders in die nag wakker te maak en teen die gewapende indringers te waarsku.

"Indien ons ons kinders wakker gemaak en dit hulle 'n groot skok gegee het, kon hulle oombliklik hartaanvalle gekry het. Dis glad nie normaal nie, maar dis hoe ons leef. Ons kan nooit vir ons kinders te goeie óf slegte nuus gee nie, want as iets hul hartklop versteur, het ons weer 'n ander stel probleme."

Wat dit in die Mackenzie-broers se geval nóg dodeliker maak, is dat Brandon ook Wolff-Parkinson-White (WPW)-sindroom het wat op die koop toe 'n onreëlmatige hartklop meebring.

Brandon is al as kleuter telkemale hospitaal toe gejaag omdat hy opgehou het met asemhaal en was vir lank "dodelik siek". Dokters kon egter nie die oorsaak vasstel nie.

Daarby het Connor op sy beurt nóg 'n uiters seldsame toestand wat die bene in sy lyf spontaan kan laat breek, naamlik kronies herhalende beenmurgontsteking (CRMO).

Dit het dié seuns, wat almal op skool belowende sportsterre was en veral in swem uitgeblink het, gedwing om hul sportdeelname stop te sit, sê Chantal.

Toe Brandon en Connor elk op laerskool was, het hulle op provinsiale vlak vir Gauteng geswem en was uitsonderlik fiks. "Tog sou hulle hul sessies swem, uit die swembad klim en dan uitermatig opbring en selfs flou raak."

In 2010 het Brandon voor sy klasmaats opgehou asemhaal, van sy stoel geval en "letterlik dood gelyk".

Nadat hulle hom ná sowat 'n minuut of twee kon bybring, kon hy niks van die voorval onthou nie. Daarna was hy uiters moeg en het hy dae lank in die bed gebly. Skaars twee weke later het Connor reggestaan om tydens 'n skoolgala in die water te duik. Toe die fluitjie blaas, het hy in die swembad geval en na die bodem gesink, sê Chantal. Hy het daardie dag 'n ernstige hartaanval gehad.

Om aan te hou veg

Brandon en Connor word sedertdien met sterk betablokkers behandel om die tempo van hul hartklop te reguleer.

"Wat gebeur is hul harte klop heel gemaklik teen 60 tot 80 slae per minuut, en dan ewe skielik skiet dit op na 300 slae per minuut. Dit is soos 'n kar wat versnel, in die rooi gaan, en dan spontaan uitbrand."

Brandon het al vier onsuksesvolle hart-ablasie-prosedures ondergaan om sy onreëlmatige hartklop te probeer regstel.

Die laaste was deur 'n hartchirurg van die Mayo-kliniek in Amerika. Sy WPW-sindroom het sulke ernstige komplikasies veroorsaak dat sy hart op die operasietafel gaan staan en hy bygebring moes word.

"Telkens moes ek en my man, Bruce, vooraf die hartverskeurende besluit neem of ons hom weer aan hierdie lewensgevaarlike operasie gaan blootstel.

"Indien ons die kans nié sou waag nie, kon hy egter ook in die gewone gang van die lewe sterf."

Al drie seuns dra hartmonitors wat 'n alarm laat afgaan as afwykings bespeur word. Brandon is 'n elektriese ingenieur en vertrek binnekort na Nederland om 'n tak vir sy maatskappy te open. Adrian en Connor studeer aan die Universiteit van Pretoria. "Al wat ons kan doen, is om hulle dop te hou, elke minuut van elke dag te waardeer en te weet hoe gelukkig ons is om ons kinders te hê. Ons móét hulle elkeen toelaat om hul lewe te leef.

"Maar dit bly 'n vreesaanjaende rit."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM