Welstand

Só beïnvloed katarakte bejaardes se sig

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Katarak is ’n dowwe lens in die oog wat dikwels tot swakker sig lei. Foto: ISTOCK
’n Katarak is ’n dowwe lens in die oog wat dikwels tot swakker sig lei. Foto: ISTOCK

Soos jy ouer word, is daar 'n moontlikheid dat jy katarakte kan ontwikkel wat jou sig belemmer.

Dr. Frikkie Hartog, 'n oftalmoloog in Bellville, verduidelik wat 'n katarak behels en hoe die probleem reggestel kan word.

Wat is 'n katarak en wat veroorsaak dit?

In die oog word skerp visie bewerkstellig deur 'n lens wat die beeld skerp agterop die retina van die oog fokus. Hierdie lens is agter die kleur van die oog geleë.

Vir optimale visie moet die lens natuurlik baie helder wees. Indien dit egter verdof, lei dit tot 'n beduidende afname in visie. Dié dowwe lens word 'n katarak genoem.

Katarakte word meesal deur ouderdom veroorsaak, en begin met die geleidelike verharding van die lens in jou 40's. Die lens verhard en verkleur geleidelik, en verloor só sy funksie om die lig te fokus. Die proses vind plaas in almal soos die jare aanstap, maar kan versnel word deur siektes soos diabetes, sommige medikasie, asook 'n harde hou op die oog.

Die ouderdomsverwante katarak word veroorsaak deur die lens wat dwarsdeur jou lewe groei. Nuwe lae word voortdurend neergelê, soortgelyk aan die lae van 'n ui. Die lens vergroot egter nie, maar word al hoe digter en harder soos meer lae neergelê word.

'n Katarak is nie 'n vlies wat oor die oog groei nie. Dit is egter ook onvermydelik dat almal katarakte gaan ontwikkel soos jy ouer word. Die ouderdom waarop dit betekenisvol raak, wissel egter baie, en dit word gedeeltelik beïnvloed deur jou brilfout.

As gevolg van die verharding van die lens sal versiende persone gou al hoe meer afhanklik word van 'n bril, veral vir lees. Die lensverharding gaan ook gepaard met 'n kleurverandering in die lens, wat lei tot ligkranse om ligte en swak visie saans. Mettertyd word die lens egter so dof dat jou visie baie verswak, ten spyte van die gebruik van 'n bril.

Hoe word 'n katarak behandel?

Die katarak word behandel met 'n proses wat bekend staan as fako-emulsifikasie. 'n Klein opening word in die voorkant van die lens gemaak, waardeur die vaal, harde inhoud verwyder word.

Die harde inhoud word opgebreek met behulp van 'n fyn naaldjie wat vinnig vibreer, en die kapsel van die lens word behou.

Die kapsel dien as 'n sakkie of "koevert" waarin die nuwe kunsmatige lens geplaas word. Die prosedure maak dit moontlik om die hele inhoud van die lens deur 'n klein opening van 2 mm te verwyder.

Die katarakprosedure word pynloos gedoen met die toediening van verdowing vir die oog, en dus is narkose nie nodig nie. Dit is wêreldwyd die mees algemene oorplantingsprosedure.

Daar bestaan nie 'n ideale tyd om die katarak te verwyder nie en tydsbeplanning wissel baie volgens pasiënte se behoeftes en aktiwiteite.

Hoekom word 'n kunsmatige lens ingeplant en is daar verskillende opsies?

Die natuurlike lens moet vervang word met 'n kunsmatige lens wat helder en skerp visie toelaat. Die kunsmatige lens groei permanent vas in die sakkie van die ou lens en word nooit vervang nie.

Die primêre doel van die prosedure is om sig te herstel deur 'n dowwe, natuurlike lens te vervang met 'n helder, kunsmatige een.

Die sekondêre doel is egter ook om jou sig sodanig te herstel dat jy beter kan sien sonder 'n bril.

Daar bestaan baie verskillende keuses van lense, daarom is dit belangrik om die beste persoonlike opsie met jou oogspesialis te bespreek. Die keuse van 'n lens om in te plant word nie net bepaal deur die pasiënt se behoeftes nie, maar ook deur die vorm en gesondheid van jou oë.

Monofokale lense fokus lig skerp op 'n enkele fokuspunt en kan ver- sowel as bysiendheid behandel.

Toriese lense word gebruik om astigmatisme te behandel, waar die voorkant van die oog nie rond is nie, maar meer die vorm van 'n rugbybal verteenwoordig. Sommige lense het 'n verlengde fokusarea, wat tot gevolg het dat jy 'n groter onafhanklikheid van brille kan verwag vir verskillende afstande.

Bifokale lense is nou grootliks vervang deur trifokale lense met skerp fokus op drie afstande, met die gevolg dat jy waarskynlik heeltemal brilloos kan wees.

Dit is natuurlik baie belangrik om al die moontlikhede met jou naaste oftalmoloog te bespreek. Hy of sy is die beste toegerus om jou uit hul ervaring van goeie raad te voorsien.

GEBORG

Dr. Frikkie Hartog

Dr. Frikkie Hartog sê lense wat tydens katarakprosedure ingeplant word, kan help om brilonafhanklikehid te verseker. Maak gerus jou afspraak by 'n oftalmoloog!

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM