Welstand

Sonroom is ’n moet in Suid-Afrika

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die son op die strand is nie die enigste plek waar die son se strale hulle kan vind en skade aandoen nie. foto: Gallo Images
Die son op die strand is nie die enigste plek waar die son se strale hulle kan vind en skade aandoen nie. foto: Gallo Images

Ons het die ongewilde swaargewigtitel as die land met die meeste velkankergevalle ter wêreld, skryf Marizanne Kok.

Hy is net 30 jaar oud - 'n kranige sportman wat ure op die krieketveld verwyl en kommer oor sy gesondheid as eendag se probleme beskou. Maar toe John Spies* die afgelope week by sy dokter se spreekkamer in Melville, Johannesburg, instap, het hy nuus gekry wat dié nonchalante houding oor sy welstand heeltemal op sy kop gekeer het. Want hy het skaars tyd gehad om te kla oor sy bottoe sinusse toe die dokter begin uitvra oor die lelike bruin knop op sy voorkop, en hom verwys na 'n plastiese chirurg.

"Ek het dadelik na die merk gekyk en gedink dit lyk darem maar baie na 'n basiese karsinoom," vertel dr. Donny Fick wat Spies gesien het. "Hy het gesê dis 'n roof wat seker sowat 'n jaar en 'n half daar sit, hy dink dit raak nie gesond nie, want hy krap dit die heeltyd stukkend.

"Ek het nie twee keer gedink nie, ek het hom dadelik na een van die chirurge by die Milpark-hospitaal verwys. Sy rus en vrede is natuurlik heeltemal versteur daardeur, maar dis die punt: hier het jy iemand wat heeltemal uit die oog verloor het hoeveel skade die son aan sy vel kan doen, en deur sy oningeligtheid nou in 'n baie gevaarlike posisie is," sê Fick.

Opvoeding oor velkanker is noodsaaklik

Spies se situasie illustreer die noodsaaklikheid van opvoeding wat betref velkanker en ander velsiektes, asook die belangrikheid van beskerming teen die son. Elke Suid-Afrikaner weet die son het die potensiaal om skade te doen, maar oorweeg nie die gevare daarvan weg van die strand en swembad of tydens 'n staptog in die koppies nie.

En die meeste mense weet nie dat Suid-Afrika in die afgelope dekade 'n wêreldtitel verower het wat niemand wil hê nie: Ons het nou meer gevalle van velkanker as enige ander land ter wêreld, nadat ons Australië verby­gesteek het.

Juis daarom het 'n groep dermatoloë verlede jaar saamgewerk om 'n riglyndokument betreffende velversorging en sonbeskerming op te stel - nie net vir gewone Suid-Afrikaners nie, maar ook vir huisdokters soos Fick.

"Die fokus daarvan is om dokters en aptekers te help om die gevaartekens van velkanker te herken en raad te gee aan mense wat bekommerd is oor iets op hul velle. Die realiteit is dat hulle, weens die aard van ons gesondheidstelsel, dikwels die eerste mense is wat geraadpleeg word," sê hy.

"Ek dink daar is omtrent 400 dermatoloë in die land, maar sowat 300 van hulle is in Johannesburg of Kaapstad, met ander woorde duisende kilometer van die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners. So wat doen 'n oorwerkte dokter by 'n klein kliniek in plattelandse Suid-Afrika wanneer 'n vrou hom kom vra oor 'n moesie wat verander het? Daardie dokter het reeds soveel ander goed om oor te dink, en as niemand ooit vir hom riglyne verskaf het wat betref velbehandeling nie, gaan hy baie maklik net sy skouers optrek en aanbeweeg na die volgende probleem."

Nou moet kinders van kleins af hoede skool toe dra en word mense geleer om nie uit hul huise te gaan voor hulle sonroom aangewend het nie. Dis die punt waarby ons ook moet uitkom.

Dr. Kim Wiid is die mediese direkteur van die skoonheidsmaatskappy L'Oreal se velsorg­afdeling en 'n fasiliteerder vir die opstel van die riglyne wat mense moet opvoed oor die gevare wat die son inhou.

"Ons het 'n diverse groep van agt dermatoloë van oor die land heen genader en gevra hoe kan ons mense inlig en beskerm teen die son. Ons het hulle vrae gevra oor ordentlike velsorg met die oog op siektes, maar ook veroudering, want ons is nou die land met die meeste velkankergevalle ter wêreld, en ons kan dit nie net so los nie," sê sy.

"Die rede waarom Australië nie meer die meeste gevalle van velkanker in wêreld het nie, is omdat hulle 'n yslike bewusmakingsveldtog van stapel gestuur het, en 'n groep dermatoloë baie hard gewerk het om mense te leer hoe gevaarlik die son is.

"Nou moet kinders van kleins af hoede skool toe dra en word mense geleer om nie uit hul huise te gaan voor hulle sonroom aangewend het nie. Dis die punt waarby ons ook moet uitkom."

Gevaarlike wanopvattings

Wiid sê dis 'n wanopvatting dat mense met donker velle nie ook kan velkanker kry nie.

"Ja, 'n hoër melanoom-telling bied groter beskerming teen meestal ultraviolet B (UVB)-strale, maar nie teen ultraviolet A (UVA)-strale nie," sê sy.

"UVB-strale veroorsaak sonbrand terwyl UVA-strale die vel verouder, maar UVA-strale skyn deur vensters, affekteer jou in jou kar of voor jou rekenaar en is moeiliker om van te ontsnap," sê Wiid. "Al die strale dra 'n risiko, en in die Suidelike Halfrond is ons risiko boonop groter as in die Noordelike Halfrond, weens die hoek waarop die aarde op sy as is en die son se strale ons tref."

Mense moet ook onthou die gat in die osoonlaag is werklik, sê Fick - en rig skade aan. "Ek dink die meeste mense sal met my saamstem dat die son die laaste paar jaar giftiger as ooit voel," sê hy.

Wiid sê dit voel nie net so nie, dit ís die geval. "Dit het absoluut te doen met die verdunning van die osoonlaag, en dit word ondersteun deur wat ons sien op mense se velle," sê sy. "UVA- en UVB-strale penetreer die vel op verskillende maniere, en hoe sterker daardie strale is, hoe dieper die penetrasie. Ons sien oorgenoeg praktiese voorbeelde daarvan."

Wiid en Fick sê die belangrikste ding wat gewone Suid-Afrikaners moet weet, is dat hulle vrae moet vra oor moesies wat verander van kleur of vorm. As dit 'n egalige moesie is in grootte, vorm en kleur, is jy veilig, maar sodra dit ligter of donkerder aan een kant raak, of as die vorm verander, moet jy vrae begin vra.

"En almal moet hul gewoontes verander. Sonroom is koning in hierdie son," sê Fick.

*Skuilnaam

Risikofaktore

Beskerm jou teen velkanker

Enigeen kan velkanker kry, maar mense met die volgende eienskappe het 'n groter risiko:

• 'n Ligter, natuurlike velkleur.

• 'n Vel wat maklik brand, sproete kry of rooi word, of wat seer word in die son.

• Blou of groen oë.

• Blonde of rooi hare.

• Baie en sekere tipes moesies.

• 'n Familie- of persoonlike geskiedenis van velkanker.

• As jy ouer is.

Hou ook elke dag die UV-indeks in jou gebied dop. As dit 3 of hoër is, maak seker jy beskerm jou vel teen te veel blootstelling aan die son:

• Bly in die skaduwee.

• Dra klere wat jou arms en bene bedek.

• Dra 'n breërandhoed om jou gesig, kop, ore en nek te beskerm.

• Dra sonbrille wat UVA en UVB-strale blokkeer.

• Gebruik 'n sonskermmiddel met 'n sonbeskermingsfaktor (SPF) van 15 of hoër.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM