Welstand

Terapie vir hardnekkige trauma

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

K-PTSV (of komplekse posttraumatiese stresversteuring) is 'n betreklik nuwe toestand, maar een wat dalk vir baie traumalyers sal sin maak, het Lucia Poolman uitgevind.

Toe Rita (skuilnaam) die woorde "komplekse posttraumatiese-stresversteuring" (K-PTSV) hoor en haar sielkundige die simptome aan haar verduidelik, het sy die eerste keer vir haarself sin gemaak.

K-PTSV is op meer as een vlak kompleks en vereis begrip en behandeling. Foto: iSTOCK
K-PTSV is op meer as een vlak kompleks en vereis begrip en behandeling. Foto: iSTOCK

"Eerstens, ek praat onder 'n skuilnaam, want ek het net nie genoeg moed om my regte naam te gee nie. Mense maak asof hulle so ter wille van geestesgesondheid is en alles aanvaar, maar ek weet hoe praat mense agter jou rug as jy sê jy sukkel. Ek het al gehoor: ‘Moenie daardie projek vir hom of haar gee nie, netnou is dit te veel en konk hy/sy weer in.' Ek is bloot nie dapper genoeg om sê: ‘Dis ek, ek het K-PTSV en soms sukkel ek' nie."

Sy weet darem nou "wat fout is met my", sê Rita.

"Ek was in my lewe al by meer as 15 sielkundiges. Ek was by vyf verskillende psigiaters. Dis my huidige psigiater wat my nuwe sielkundige aanbeveel het. Ek wou eers niks weet nie; met ons eerste ontmoeting was ek skoon vyandig. Ek het my lewensverhaal in vyf minute afgerammel en gesê: ‘Bly by, hier is 'n snapshot van my lewe.' Sy het geluister en toe gevra of ek weet wat K-PTSV is. En toe sy begin verduidelik, het ek gevoel ek kon my hand opsteek en sê: ‘Dis ék! Nou weet ek hoekom ek sukkel.' "

Wat is K-PTSV?

K-PTSV (komplekse posttraumatiese stresversteuring) is 'n toestand wat betreklik onlangs deur die Wêreldgesondheidsorganisasie aanvaar is, sê dr. Elaine Bing, 'n sielkundige in Pretoria wat 'n spesiale belangstelling in trauma het.

"Dit is eers in 2018 amptelik erken, al vra ons al baie lank dat dit van gewone posttraumatiese versteuring (PTSV) onderskei moet word. Dis nog so nuut, die meeste mediese fondse dek steeds behandeling daarvoor onder die gewone kode vir PTSV, maar ons hoop dit verander ook binnekort."

Daar is drie kernareas waar PTSV en K-PTSV verskil. "PTSV is self eintlik nuut en is eers in 1980 erken. Om aan PTSV te ly, moes jy blootgestel wees aan 'n trauma wat jou lewe bedreig het. Dit kan sielkundig wees, soos emosionele mishandeling, of fisiek, soos verkragting, of blootstelling aan 'n gewelddadige situasie of self eerstehandse geweld beleef het," sê Elaine.

"Met PTSV herleef jy gereeld daardie trauma, soos deur terugflitse of in drome. Jy doen jou bes om situasies te vermy waarin jy dalk daaraan blootgestel kan word, selfs onbewustelik, soos omgewings waar harde geluide is. En jy het 'n verhoogde persepsie van 'n huidige bedreiging. Jy sukkel ook dikwels om aan die slaap te raak of aan te hou slaap.

Soms kan die kleinste dingetjie skeefloop en my hele dag pootjie. As ek dan moet uitgaan, is elke liewe klank soos 'n klap in my gesig. Al wat help, is om dan op my asemhaling te fokus.

"Maar die groot verskil tussen K-PTSV en PTSV is die oorsake. In PTSV-gevalle beleef jy tipies een groot trauma. Jy kon as kind mishandel gewees het of jy kon gesien het hoe jou pa jou ma elke Vrydagaand aanrand. Maar vir K-PTSV word jy aan nóg trauma daarna blootgestel, soos 'n kaping. En dit veroorsaak drie bykomende nagevolge: Jy het oor die algemeen 'n baie negatiewe begrip en siening van jouself en voel nie goed oor jouself nie; jy sukkel met verhoudings - dit kan vriendskappe of liefdesverhoudings wees - en laastens sukkel jy om jou emosies te beheer."

Dis wat Rita laat besef het die diagnose pas haar soos 'n handskoen.

"Ek kon nog nooit verstaan hoekom is my selfbeeld so verskriklik laag nie. Ja, ek is verkrag, maar ek het gedink ek het daarmee gedeal. Maar ek het nie besef al die ander goed wat daarna gebeur het, het ook 'n invloed nie. Dat my angstigheid en gesukkel met verhoudings, deel is daarvan. Ek kan nou eers insien hoe al dié faktore mekaar beïnvloed."

In Rita se geval is sy ook nog altyd depressief.

"Depressie is algemeen onder PTSV- en K-PTSV-lyers, maar dis nie te sê as jy depressie het, gaan jy een van die twee ontwikkel nie. Dit hang van verskeie faktore af, soos of jy tot depressie geneig is. En natuurlik ontwikkel almal wat 'n trauma ervaar het, nie noodwendig PTSV nie," sê dr. Lauren Moss, 'n beradingsielkundige wat in trauma spesialiseer.

Die behandeling

Die behandeling vir K-PTSV en PTSV stem grootliks ooreen: Kognitiewe gedragsterapie wat daarop gemik is om die neuropaadjies met die herinneringe wat jou brein gevorm het, te verander, sê Elaine.

"Verskillende behandelings werk vir verskillende mense, maar dit is oor die algemeen terapie om jou te anker. Omdat dit so nuut is, is daar nie baie langtermynstudies nie, maar in die geval van PTSV werk jy deur jou herinneringe. Met K-PTSV moet jy ook hulpmiddels gebruik om jou emosies te reguleer, jou selfbeeld te verbeter en tegnieke om jou verhoudings te bestuur."

Die gebruik van psigedeliese middels word ook tans ondersoek, sê Lauren.

'n Algemene behandelingsmetode wat goed vir Rita gewerk het, is EMDR (eye movement desensitisation and reprocessing). "Terwyl die terapeut 'n vinger soos 'n metronoom voor jou swaai en jou oë dit volg, fokus jy op een pertinente herinnering van 'n trauma wat jy beleef het. Dan doen jy dit oor en oor, maar elke keer stel jy jou 'n ander scenario voor, soos dat jy die man wat jou verkrag het, probeer stop het; dat jy kon wegkom toe jou verloofde op jou gegil het en jou wou aanrand; dat jy nie by 'n hofsaak betrokke was wat maande voortgesleep het nie," sê Rita. Elaine sê die terapie werk goed omdat dit jou breinpaadjies verander en jy dan meer in beheer van jou omstandighede voel.

Is jy ooit genees van PTSV en K-PTSV? Rita vergelyk dit met 'n herstellende alkoholis wat heeltyd daarteen moet veg. "Ek dink as jy dit het en dit met jou gebeur het, en al kan jy jou simptome onder beheer kry, sal jy altyd op lang termyn daarvoor kwesbaar wees," sê Elaine.

Rita vind meditasie en mindfulness help om haar te kalmeer. "Dis moeilik. Soms kan die kleinste dingetjie skeefloop en my hele dag pootjie. As ek dan moet uitgaan, is elke liewe klank soos 'n klap in my gesig. Al wat help, is om dan op my asemhaling te fokus. Maar ek weet nou eindelik hoekom ek so voel, en dit maak 'n groot verskil."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM